sr0903matrieksandra
Het jy gehoor?

Matriek-manewales – kyk hoe het die bekendes gelyk!

SANDRA PRINSLOO, aktrise (foto bo)

“My metgesel in 1964 aan die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria was my destydse kêrel, Ziets van Rhyn, en die hoogtepunt was ’n Franse kantrok wat my ma spesiaal vir my gemaak het. Ná die matriekafskeid is ons na die afterparty by ’n pêl se huis. ’n Groot opskop! Ek het so 4 jaar gelede ’n uitnodiging van Ziets na sy 60ste verjaardagpartytjie gekry. Op die uitnodiging staan hy met ’n groot geel vis in sy hand. Ek het nooit gedink hy sal ’n hengelaar word nie! Ek wou graag na die partytjie gaan, maar kon nie.”
 

AMORE BEKKER, RSG-omroeper

Amore Bekker, RSG-omroeper

“Ek het in 1983 aan die Hoërskool Durbanville by Kaapstad gematrikuleer en het al in gr. 10 die drie oulikste ouens in die skool geoormerk vir die afskeid én hulle bespreek! Intussen het twee van hulle minder oulik geword en so is ek toe saam met Johan van Zyl na die afskeid. Ek en my ma is Cavendish Square toe om ’n rok te gaan koop by Stuttafords.Toe ek dié rok (R49,99) daar sien hang, het ek geweet dis myne. Daar was nog iemand met dieselfde rok, maar dit het ons glad nie gepla nie – dit het net beteken ons het albei goeie smaak.”

TAMMY-ANNE FORTUIN, gewese aanbieder van Roer! op kykNET

Tammy-Anne Fortuin, aanbieder van Roer!

“Dit was ’n Aspoestertjie-aand aan die Hoër Meisieskool Paarl in 1999, wat ek nooit sal vergeet nie. Die hoogtepunt was beslis my metgesel, Kiriakos Stogiannidis, wat al die pad van Duitsland gekom het. Hy was my eerste liefde wat ek op ’n uitruilprogram daar ontmoet het. My rok was ’n Errol Arendz-skepping wat met min moeite en drama gemaak is. Ek het my eie grimering en hare gedoen. Maar die motor wat ons opgelaai het, was laat!”

PEDRO KRUGER, akteur

Pedro Kruger, akteur

“My groot aand was einde September 1989. Ons matrieks van die Hoërskool Brackenfell by Kaapstad was omtrent opgewonde oor die eerste groot ‘funksie’van ons volwasse lewe. Om dit nog meer spesiaal te maak het die skool besluit ons is die eerste jaargroep wat dit nie in ’n skoolsaal met ’n tema sou hê nie, maar in die nuwe Holiday Inn! My metgesel, Adele Basson, het gelyk asof sy uit ’n movie gestap het. Ek het al my rybewys gehad en kon self met my pa se motor ry. Buite die Holiday Inn het ek my eerste smakie van rooitapyt-glansaande gekry. Ons het lekker gedans en gekuier.”

SONJA HERHOLDT, sangeres

Sonja Herholdt, sangeres

“Daar was chemistry tussen my en Cois Kruger by my matriekafskeid in 1970 in die baie groot stadsaal van Nigel. Ek was hoofmeisie en hy hoofseun van die Hoërskool John Vorster en ons was nie-amptelik nooi en kêrel. Hy was gewild en slim, met blonde hare en blou oë. Nogal ’n hunk. Ek en Cois moes elkeen ’n toespraak lewer en ek was baie senuweeagtig, maar dit het goed gegaan. Die haarkapper het my hare uitgepluis volgens die mode – die beehive. Ná die tyd het ons almal gaan serenade. Kan jy glo, ons was hartseer, want die ‘grootmenslewe’
het begin. Dit was ander tye . . .”

RICHARD VAN DER WESTHUIZEN, akteur

Richard van der Westhuizen, akteur

“Dit was in 1970 aan St Joseph’s College in Rondebosch, Kaapstad, en die fabelagtige jare van die Beatles, Woodstock, Bob Dylan en die hippies. Dit was ’n seunskool en ons ouens het nie eintlik geweet hoe ‘werk’ meisies nie. My verligting was groot toe ’n meisie van mý wêreld, Nababeep in Namakwaland, instem om saam met my matriekdans toe te gaan. Ek was hopeloos verlief op Elma van Wyk. Die dekor was psigedeliese pop, die musiek uit die sixties. Die drank vonkeldruiwesap. Ek hoop Elma se lewe was net so ryk en vol soos myne.”

KAREN MEIRING, hoof van kykNET

Karen Meiring, hoof van kykNET

“Ek was ’n regte rabbedoe en in 1978 kaptein van die eerste hokkiespan en atletiek-rasieleier by die Hoërskool Silverton in Pretoria. Ek het nie regtig tyd gehad vir kêrels nie en my metgesel het nie vir daardie aand ’n ander date gekry nie. Toe vra ons mekaar. Ek kan nie sy naam onthou nie. Ons was soos twee muurblomme – byna soos die een op my rok. Die ergste wás die rok! Ek het dit by Uniewinkels gekoop. Dit was die sewentigs en chiffon, valletjies, strepiespakke en dik dasse was in. Die kos was lekker – tradisionele boerekos met ‘platvleis’. Daarmee saam het ons bola (vrugtepons) gedrink.Toe die ete verby was, het ons probeer disko-dans. Uiteindelik het die partytjie verdeel na verskillende vriendekringe se huise waar daar tot laat gekuier is. In die proses het ek my metgesel iewers langs die pad verloor . . .”

NICHOLIS LOUW, sanger

Nicholis Louw, sanger

“Ek het in 1996 aan die Grens Afrikaanse Hoërskool, Oos-Londen, gematrikuleer. Ek was maar taamlik clueless oor die hele matriekafskeid-ding – én meisies! Toe ek die pragtigste meisie, Tammy Eridge, by ’n sangkompetisie ontmoet, het ek besluit om haar saam te vra. Dit was egter nie so eenvoudig nie – sy het die gewoonte gehad om soos mis voor die son te verdwyn elke keer as ek genoeg moed bymekaar geskraap het! Ek het toe haar nommer in die telefoongids opgesoek en ’n vriendskap het begin. My pa het ons dié aand met sy Camry afgelaai. Ek kan nie eers die tema onthou nie, maar ek kan onthou sy was stil en afsydig. Ek vermoed sy het haar oog op een van my vriende gehad!”

DANNY K, musikant

Danny K, musikant

“King David High se 1995-matriekafskeid was nogal ’n groot gedoente in die Sandton Sun Hotel Ballroom. Ek het ’n pak vir die aand laat maak, my hare laat sny, iemand het ons in ’n groot ou Jaguar vervoer en my metgesel, Cara Gnesin, het ongelooflik gelyk. Ek en my vriende het ons gate uit geniet. En ná die tyd het ons éérs partytjie gehou – tot sesuur die oggend. Noudat ek terugkyk op daardie aand, besef ek dit was ons laaste aand as ’n matriekgroep saam. Dit was spesiaal.”

ELOISE CUPIDO, TV-aanbieder

Eloise Cupido, TV-aanbieder

“Ek was ’n bietjie van ’n nerd op skool – Hoërskool Montagu waar ek in 1995 gematrikuleer het. Ek het nie ’n kêrel gehad nie en op die nippertjie vir Andy Carolus op die buurdorp Ashton gevra om saam te gaan. Ons het die rok laat maak en dit het nie mooi uitgewerk nie. My ma was ’n enkelouer en die begroting was nogal klein. Ek het swart satynhofskoene gedra om by my swart satyn-handsakkie te pas, ’n bietjie van my ma se Red Door-parfuum aangespuit en my dierbare Antie Lena het haar bloedrooi oorkrabbers vir my geleen. My hare was in sulke spiral-krulle. Ek was baie senuweeagtig en kan nou nog sien hoe pêrel die sweet op my helderrooi lippe as ek na foto’s kyk! Andy het my in ’n swart BMW kom haal en vir my ’n rooi roos gebring. Hy was ’n regte jintelman. Die aand is bietjie vaag. Nié omdat ek te veel gedrink het nie, maar ek was onseker van myself omdat ek nie mooi gevoel het in die rokkie nie.”

MELANIE DU BOIS, aktrise

Melanie du Bois, aktrise

“Die inspirasie vir my rok aan St Catherine’s Convent in Florida, Johannesburg, in 1992 was een van ’n voormalige Mej. SA, Michelle Bruce. Rishie Raruthan, my metgesel, was die perfekte jintelman. Maar ek het ’n bietjie verleë gevoel toe hy aan tafel met sy hande begin eet het. Ek het nie besef dis deel van sy Hindoe-kultuur nie. Hy het darem opgemaak met sy goeie danspassies! Die skoolsaal was volgens ’n Arabiese tema versier. Ek het nes ’n Mej. SA gevoel. Rishie is ongelukkig ’n paar jaar later in ’n motorongeluk oorlede.”

ANDRIËTTE NORMAN, vorige Idols-naaswenner

Andriëtte Norman, Idols-naaswenner

“Ek was glad nie tevrede met my rok nie, maar die aand was lekker. Ek was in die Hoërskool Brackenfell, maar ons het die dans in 2004 by die Hoërskool Paul Roos op Stellenbosch gehou. My metgesel, Dewald Brand, het moeite gedoen om my spesiaal te laat voel en vir my rooi rose gebring. Ons het baie ‘los’ gedans, want ek was toe nog ’n bietjie skaam en nie ’n groot danser nie. Die saal het soos ’n winter-wonderland gelyk. Daar was liggies op die dak en dit het gelyk asof daar sneeu gestrooi was. Dit het gevoel asof ek deel was van ’n sneeupaleis toe ons aansit by die wit gedekte tafels.”

JACQUES BLIGNAUT, 7de Laan-akteur

Jacques Blignaut, akteur

“September 1997, St Barnabas College in Bosmont, Johannesburg, in die skool se sjarmante skoolsaal saam met die skone dame Wendy Moosa. Ek het ’n goedkoop, geruite pak by die Oosterse Plaza in Johannesburg gekoop. Ek het nie van die broek gehou nie, so ek het ’n swart polonek-trui by ’n swart broek saam met die baadjie gedra. Die tema was Arabiese Nagte, maar ek kan nie veel onthou nie. Ek het die meeste van my skoolervarings uitgeblok, want ek was onseker van myself en te gestres om die aand te geniet.

LIEZEL VAN DER WESTHUIZEN, gewese aanbieder van Idols op M-Net

Liezel van der Westhuizen, Idols-aanbieder

“My matriekafskeid was in 1996. Ek was aan Pretoria Girls High en het saam met my kêrel van daai tyd, Richard Schlorke, gegaan. Die tema was Egipties en ons het met ’n Volkswagen Kewer – soos hippies – gery. Ek het besluit ’n hoë hoed sal baie goed by my vere-rok pas. Destyds het ek gedink dis baie modieus. Die musiek was ’n aaklige mengelmoes van retro en rave. Ek onthou ook een meisie het ’n ander meisie se kêrel gesoen en daar was ’n groot katgeveg. En die skoolhoof het op een van die leerders se rokke getrap en dit geskeur!”

ANDRÉ SCHWARTZ, sanger

Andre Schwartz, sanger

“Ek was baie trots op Anneke Kruger, my metgesel, want sy het haar eie rok gemaak. Dit was 1980, en die ete was in die Hoërskool Linden se L.O.-saal. Die dans was in die skoolsaal en Abba het hoogty gevier. Thank You for the Music!”

OS DU RANDT, gewese Springbokvoorryman

Os du Randt, rugbyspeler

“Dink jy ons het regtig in kós belang gestel daai aand? My afskeid was in die eetsaal van die seunskoshuis van die Hoërskool Piet Retief, nou bekend as die Adelaide Gimnasium. My date was Christelle Bosch. My vrou sit by my, so ek mag dit seker nie sê nie, maar ons het lekker gedans. Dit was soos ’n groot sokkie. Die meisies het baie mooi gelyk, maar in matriek is al die girls mos vir ’n ou mooi.”