FOTO Facebook

FOTO Facebook

Het jy gehoor?

SA se Mej. Aarde gaan Obama ontmoet

Dis Afrika-maand, en wat ’n trotse oomblik vir Suid-Afrika: Catherine Constantinides is genooi om die Amerikaanse president te ontmoet.

SA se Catherine was op haar dag Mej. Aarde, en deesdae is sy hoof- uitvoerende amptenaar van dié organisasie. Sy is gekies as een van die Mandela Washington Fellowship van 2016. Dié presteerders is aangewys deur dieYoung African Leaders Iniative (YALI) van die Amerikaanse departement van buitelandse sake.

Mense wat hiervoor in aanmerking kom, is tussen 25 en 35 jaar oud en het ’n rekord van sterk leierskapvaardighede en toewyding aan die opheffing van hul gemeenskap.

“Dit was byna surrealisties toe die Amerikaanse ambassade my met die nuus bel. Ek was baie emosioneel. Dis ’n groot voorreg om te netwerk met jong Afrika-leiers wat dieselfde doelstellings het – om Afrika te laat groei en na ’n nuwe vlak te neem, ten spyte van ons uitdagings. En ek sien uit daarna om danksy dié projek aan topleiers blootgestel te word,’’ sê sy voorts. “Ek is so opgewonde, dit is ongelooflik.”

FOTO: Facebook

FOTO Facebook

Sy glo ons kan slegs Afrika se potensiaal ontgin as ons toegewyd veg vir menseregte en sorg dat dít ’n integrale deel vorm van ons energie om Afrika vorentoe te dryf en sy ekonomie te versterk. “Dan sal ons wêreldwyd met ander moondhede kan meeding,” reken Catherine.

Catherine vertrek volgende maand na Virginië in die VSA, waar sy vir 6 weke saam met ander Afrika-wenners ’n leierskapkursus sal bywoon. YALI is ’n insiatief wat onder meer fokus op die ontwikkeling van Afrika se toekomstige leiers.

Volgens statistiek is sowat 1 uit 3 Afrikane tussen die ouderdomme van 10 en 14 jaar, en sowat 60 persent van Afrika se totale bevolking jonger as 35. President Obama het YALI in 2010 begin, onder meer om vrede en veiligheid in Afrika te verseker. Die Mandela Washington Fellowship is in 2014 begin, as vlagskip-program van pres. Obama se YALI-inisiatief.

Die veelbekroonde Catherine het ook onlangs die Ubuntu Youth Diplomacy-toekenning van die Suid-Afrikaanse regering ontvang vir haar uitstekende werk as ambassadeur vir ons land – sy is onder meer ’n humanis, ’n kenner van klimaatsverandering en die uitwerking daarvan op die aarde, en sy is ’n sosiale entrepreneur wat haar deel doen om dié kontinent se mense op te hef.

 Volg gerus haar reis by @ChangeAgentSA. Navrae: SA Fusion: safusion@mweb.co.za