FOTO Facebook/ Janie Erasmus

FOTO Facebook/ Janie Erasmus

Het jy gehoor?

Mej. Dowe Wêreld waardeer SA opnuut!

Mej. Dowe Wêreld is ’n vasbyter. Met geboorte het dokters gesê sy sal nooit mamma kan sê nie, want sy is te doof om te hoor. Maar Janie Erasmus het net nie moed opgegee nie. Op agt maande het sy haar eerste apparate gekry en op twee jaar het sy gepraat.

En toe sy onlangs as Mej. Dowe Wêreld gekroon is in Praag, in die Tseggiese Republiek, is haar grootste droom bewaarheid. Nes SA se Roeline Strauss, Mej. Wêreld 2014, was dit altyd Janie se ideaal om dié kroon te dra.

“Ek het nie my naam herken toe die wenner aangekondig is nie en net hande geklap vir die wenner – totdat die seremoniemester vir my gesê het ék is die wenner.”

Toe die blou kroon op haar kop gesit is, het dit gevoel of sy nie kan asemhaal nie.

Die grootste uitdagings?

“Die drie modeparades tydens die wedstryd waar ons ons nasionale drag en verskeie aandrokke moes wys in die hoofstede van die provinsies in die Tsjeggiese Republiek. Ons het lang ure gewerk, en die táál was moeilik! Gebaretaal is in elke taal anders. Ek het vinnig geleer ons moet verskillende maniere gebruik om te verseker die mense verstaan ons en het selfs Google se vertaalfunksie op my selfoon gebruik om met Chinese meisies te praat . . .”

Dié 28-jarige skoonheid is by verskillende liefdadigheidsprojekte betrokke, asook by bemagtigingsprojekte vir dowes. Sy doen gereeld motiveringspraatjies by geleenthede vir  dowes én horendes.

“As ambassadeur van die Decibel Cochlear Campaign help ek om geld in te samel vir kinders wat kogleêre inplantings kry.”

Sy is die eerste Mej. Dowe Wêreld met bilaterale kogleêre inplantings en wil kinders help om ook, soos sy, die voordele van dié operasie te ervaar.

FOTO Facebook

FOTO Facebook

Wat wil sy in haar kroningsjaar bereik?

“Mense moet terugkyk en sê dowes het net soveel dryfkrag as horendes. Ek wil horendes en dowes inspireer om groot te droom.”

Die belangrikste les wat sy in dié wedstryd geleer het, was dat almal verdien om met respek behandel te word, al verskil ons almal. “Ek glo almal het meer goedheid as boosheid in hulle en ’n glimlag maak baie deure oop.” En sy glo as jy iets kan droom, kan dit waar word. “Jy moet nooit moed opgee nie. Onthou ook jy hoef nie alles self te doen nie. Daar is baie mense wat jou wil help.’’

Sy is positief oor Suid-Afrika. “Ons is baie bevoorreg met al die vars produkte in ons land, die goeie klimaat, vriendelike mense, en ons is ’n nasie wat nooit moed opgee nie.’’

Maar dit was nie altyd maklik oorsee nie. “Ek was vier weke lank weg van die huis, so ek het nogal verlang. Reis is nie vir sissies nie. Dit is harde werk om tasse te dra en trein te ry, maar dit maak jou wêreld groot en leer jou om Suid-Afrika weer opnuut te waardeer.”