FOTO: Niquita Bento

FOTO: Niquita Bento

Het jy gehoor?

Met ’n bietjie hulp het Jackie Burger gegroei en gewen

Oorweldig deur ’n uitdaging op jou pad? Soms is twee koppe beter as een. Jackie Burger, vorige redakteur van die modetydskrif Elle, vertel hoe sy met ’n bietjie hulp gewen en emosioneel gegroei het. 

‘Dis asof alles net in plek val’

Jackie is opgewonde oor Salon 58, haar nuwe opskiet-stylsalon waar sy een keer per maand vroue oor styl inlig en bemagtig. Dit het vroeër dié jaar op Stellenbosch afgeskop. ’n Leefstylafrigter het haar gehelp om die oorgang van ’n glansloopbaan na ’n eie onderneming te maak.

My passie was weg

“As kind het ek in die veld geloop en stories uitdink [haar pa was ’n plaasbestuurder in die Robertsonomgewing]. My oorlede pa, Willem, het my geleer om die potensiaal in alles raak te sien. My ma, Sarie, het gesukkel om haar tomboy-dogtertjie in rokkies te kry. Ek wou my hare by die mansbarbier laat sny. Tóé al wou ek tendense [trends] bepaal.

In 2006 kón ek, toe ek as redakteur van Elle aangestel is. My droomwerk. Maar teen 2012 het ek begin voel dit oorheers my lewe. Ek was saans tot laat op kantoor. My vriende, familie en lewensmaat, Deon Myburgh [’n grafiese kunstenaar], het my bitter min gesien. My passie vir my werk was weg.

In ’n doodloopstraat

Dit het twee jaar geneem om te bedank. Elle was my lewe, dit het soveel fasette van vrouwees verteenwoordig. Daar was twee stemmetjies in my kop.Die een wou bly, want ek was bang ek sou daardie lewe mis. Die ander het gesê my siklus is voltooi. Toe ek in Julie verlede jaar bedank, het dit gevoel asof die mat onder my uitgeruk is. Juis omdat ek so lief was vir my werk. Ek was onseker oor my lewe, in ’n doodloopstraat.

Toe vra ek myself: Wat definieer my? In Suid-Afrika sê sowat 70 persent van vroue dit is hul werk. Ek het nog altyd gewerk. Eers as navorser by ’n biblioteek nadat ek my graad in biblioteekwese en ’n honneursgraad in sosiologie aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het. Daarna het ek my in die korporatiewe wêreld begewe, onder meer as skakelbeampte, handelsmerkbestuurder en toe later as modekonsultant en -joernalis.

Ek het gewonder: Was ek nie gek om op 56 ’n nuwe onderneming te oorweeg as ek eintlik voorsiening vir my oudag moet maak nie? Sou mense my nie vergeet nie? Maar ek het besef ek moes nugter bly, getrou aan my oortuiging en vorentoe beweeg.

Die proses

Daar is nie ’n datum waarop ek gevoel het ek is nou reg om my onderneming te begin nie. Dit was ’n geleidelike, instinktiewe proses. Ek het soggens al my emosies in ’n dagboek gestort om dinge te verwerk. Ek het drie maande lank weekliks ’n uur lange sessie by
leefstylafrigter Stanford Payne van Stellenbosch gehad. Hy het my leer droom soos ’n kind. Maar hy het my ook geleer dat my lewe uitgesorteer moet wees teen die tyd dat ek my onderneming se sakeplan wil skryf.

Ek het vraelyste beantwoord. Soos oor my geldsake. (Het ek maandeliks my eie begroting eerbiedig, want as jy jou eie geldsake ordentlik behartig, is die kanse goed dat jy ook jou onderneming s’n kan laat werk.) Ek moes tot vrae beantwoord oor mediese ondersoeke en my motor se diens … Want letterlik alles verg jou aandag as sakevrou.

Salon 58 is geskoei op die 17de-eeuse salonne waar Paryse vroue hulself opgevoed het. Elke maand het ons ’n ander tema, praatjie en gasspreker. Ons gaan ook landwyd reis, en ek bied sessies oor persoonlike styl aan. Ek wil hê elke vrou moet ná elke praatjie en besoek wegstap met die besef die lewe is mooi.”

Amalia

 

Lees volledige artikel in Januarie-uitgawe van SARIE

 

 

 

Jy’s genooi na ’n soirée

Jackie Burger hou haar eerste Salon 58-soirée vir 2015 hierdie Saterdag, 18 April 2015, by die P.J. Olivier-kunssentrum in Stellenbosch.

Kaartjies kan aanlyn gekoop word by Webtickets – klik HIER om te bespreek.