Het jy gehoor?

Mev. SA-finalis nou in ‘Binneland’

Vanaand (20 Augustus) op Binneland ontmoet ons vir Jessie Kirsten, die matriekmeisie op wie Morné Gericke (Ruan Wessels) ‘n ogie het. En Jessie word gespeel deur ‘n Mev. Suid-Afrika-finalis! Ons leer Danielle Steynvaardt beter ken …

Verlede jaar op 17 April het Danielle Steynvaardt geweet haar harde werk het afbetaal – nie net het sy op dié dag graad gevang nie, maar sy het ook haar eerste TV-verskyning gehad. Nadat dié meisie van Krugersdorp gematrikuleer het, het sy haar droom om aktrise te wees by die Universiteit van Pretoria begin bewaarheid. Hier moes sy baklei vir wat sy wou hê, maar dié brunet skrik nie vir harde werk nie.

unknown_1_300w“Ek het van jongs af geweet ek wil ‘n aktrise wees en niks anders nie! Daar was geen ander opsie as om ‘n sukses van my loopbaan te maak nie.” Sy het reeds op 11 jaar oud met sangklasse begin en vir elke moontlike kompetisie ingeskryf – “nie net om te groei nie, maar ook dat mense solank my naam leer ken.” Daarna het sy die modelwêreld aangepak. “Nadat ek al my persoonlike doelwitte in die sang- en modelwêreld bereik het, het ek besluit dat ek nou al my tyd gaan gebruik om ‘n aktrise te word.”

Nadat sy haar eie toneelstuk geskryf het, het sy op 17 April die rol van Jena (Pearl se sussie) in die SABC 2-sepie Muvhango losgeslaan, dieselfde dag waarop sy graad gevang het. En nou, net ‘n jaar later, is sy weer op die kassie, dié keer op kykNET se Binneland.

Sy speel die matriekleerling Jessie Kirstens, wat tutor gaan wees vir Bea Basson se seun … en later vir baie opwinding gaan sorg! “Dit was nogals ‘n aanpassing om my grimering af te was, my trouring te bêre en my skoolskoene af te stof.”

Maar dié 22-jarige is nie net ‘n aktrise nie, sy is ook ‘n entrepreneur (sy het haar eie dramaskool TA-DA! Theatre Arts and Drama Academy in Krugersdorp) en boonop ‘n Mev. SA-finalis.

Ons leer die dinamiese aktrise beter ken …

unknown_3_300wWas die Mev. Suid-Afrika-titel nog altyd ‘n droom?

Nee, glad nie. ‘n Goeie vriendin het my ingeskryf en ek het eers daarna besef watter ongelooflike platform Mev. SA jou kan bied. Dit is nie net ‘n geleentheid om ‘n verskil in jou gemeenskap te maak nie, maar ook om werklik vir vroue te wys hoe kosbaar ons is.

Wat dink jy van die persepsie dat skoonheidskoninginne nie juis veel tussen die ore het nie? 

Dis iets wat ek gereeld hoor, maar ek stem glad nie saam nie. Ek het ongelooflike vroue deur die loop van die kompetisie ontmoet. Vroue wat getroud is met kinders, ‘n voltydse werk het en tyd het om ‘n ambassadeur vir ander vroue te wees. Dít wil gedoen wees!

Wie is die belangrikste mense in jou lewe? 

Beslis my kosbare man, JP Steynvaardt. Hy is werklik soos ‘n rots vir my. Hy droom nie net saam met my nie, hy help my ook om al my drome te bewaarheid. My gesin speel ook ‘n baie belangrike rol – veral my ma, sy is my beste vriendin en natuurlik ook my grootste fan. Hulle bemoedig my en glo in my. Húlle is die rede dat ek harder werk en groter droom.

unknown_300wJy het jonk getrou – wat is die voordele en nadele daarvan?

Ek beleef my huwelik baie soos ‘n sleepover wat nooit ophou nie. Ek het die hele tyd my beste vriend by my! Ons hou van uitdagings en het nou die tyd om te toer voordat ons besluit om met ‘n gesin te begin.

Ek hou ook baie van die gesegde “why do you want to grow old with your husband if you can grow up with him too”.

En die toekoms?

Dít is natuurlik die vraag wat my altyd opgewonde maak. Ek is nou besig met ‘n eenvrou-vertoning wat vroeg volgende jaar op die planke sal wees. Ek werk ook aan my Afrikaanse musiekloopbaan. En ek wil nog ‘n boek of twee skryf! Maar nou skakel ek eers elke aand in om te sien wat Jessie volgende in Binneland gaan aanvang …

Gunsteling drankie Red Cappuccino

Wat inspireer jou? Mense se stories

Het jy troeteldiere? Ja, twee honde, Oscar en Lilly

Grootste droom Om vir my kinders te kan sê ek het ál my drome gevolg

Gunsteling-gesegde: Ek is ‘n regte chatter-box, daarom sal ek sê praat oor die algemeen is my gunsteling!