IMG_5255
Het jy gehoor?

Michélle van Breda: “Niemand in SA onaangeraak”

Michélle van Breda se redakteursbrief, Augustus 2013

Die laaste weke kon niemand in SA onaangeraak laat nie. Ons ure het gewentel om Madiba en sy welstand. Dae was gevul met nuusflitse, boodskappe en gebede. En ons emosies het wipplank gery tussen hoop en wanhoop. SA is weer wêreldnuus, maar dié keer is dit nie soos ons dit wil hê nie …

Dit voel soos gister dat Nelson Mandela ná 27 jaar in die tronk vrygelaat is. Regop en trots het hy daardie dag in 1990 by die Victor Verstergevangenis uitgestap. Hy het die wêreld met ’n arm omhoog gegroet. Ek kon skaars glo dat dít die man was waaroor in my jeugjare met soveel haat gepraat is. Wat soveel vrees ingeboesem het, maar uiteindelik ’n golf van verandering in ons land geïnspireer en ’n wêreldikoon geword het.

Die nuwe SA, ons gewone mense, het hom leer ken as die man met die Madiba Magic, die president met die kleurryke hemde en ’n warm glimlag. Die dag in 1995 toe hy rugbykaptein François Pienaar se nr. 6-trui oor sy kop trek en die Bokke die Wêreldrugbybeker wen, het hy die hart van elke Suid-Afrikaner verower. Ja, hy wéét van SARIE, het hy self vir my gesê toe ek hom die eerste keer in Tuynhuys in Kaapstad ontmoet het. Hy het reguit na my gestap, gegroet met sy vrolike How are you?, en ek onthou daardie groot, sterk hande. Oor die jare het hy heelparty onderhoude aan SARIE toegestaan. Selfs ’n keer aan ’n hele span van ons op ’n helder Kaapse oggend. Tydens die onderhoud was dit die wêreldstaatsman, Nelson Mandela, wat vrae met erns en aandag beantwoord het. Ná die tyd was dit Madiba wat sy arm gul om skouers geplaas en uit sy maag gelag het vir ’n foto saam met die groep, en nóg een en nóg een …

Tien jaar gelede het Madiba sy 85ste jaar gevier, en SARIE was op sy gastelys. Saam met pres. Bill Clinton en Hillary. Saam met Bono en Oprah, en Sandra Prinsloo, Amanda Strydom, Constand Viljoen, Pik Botha, Bruce Fordyce, Bob Skinstad, Breyton Paulse, Sol Kerzner, Cindy Nell, Baby Jake, Corrie Sanders, Mark Shuttleworth, Desmond Tutu, sakemanne, ontwerpers, redakteurs, tuiniers, oppassers en ’n duisend ander. Vriende en kennisse wat op ’n manier vir hom iets beteken het.

Die saal het ontplof toe Madiba daardie aand aan Graça se arm binnegestap kom – sy arm omhoog. Sy oë het gekreukel van vreugde. Dit was Mandela se partytjie. Selfs die spyskaart was sy keuse: lensiesop, braaihoender, aartappels, soetmielies, malvapoeding. En saam met die koffie sy gunsteling, koeksisters!

Daardie aand het ons gekuier saam met ’n man wat ou vrese in respek en naasteliefde verander het en hoop gebring het waar donkerte geheers het. Toe Yvonne Chaka Chaka op die verhoog klim, was Madiba op sy voete om sy bekende Madiba Jive te doen. En ons het saamgejive, want soos Bill Clinton sê: “Elke keer as Nelson Mandela ’n vertrek binnestap, voel ons ’n bietjie groter, wíl ons almal opstaan, wíl ons almal saamjuig, want op ons beste dag wil ons soos hy wees.”

Op 18 Julie verjaar Nelson Mandela. Laat ons sy grootste geskenk aan ons almal altyd onthou: Vergifnis bring vreugde én vryheid.