photo
Het jy gehoor?

Milan blog: “Ek het dit gedoen!”

Sy word nie geborg deur ‘n handelsmerk nie. Sys ook nie ‘n aktrise met media-belangstelling in haar poging nie. Sy is ‘n gewone vrou. ‘n Ma van twee. Voltydse fisioterapeut, tuisteskepper, beenmurg-skenker.

Sy is my skoonsuster, Christelle van der Merwe.

Dis oor hierdie vroue wat ek wil skryf in my laaste blog. Die gewone vroue soos jy, liewe leser, wat nie deur ‘n borg betaal word om ure lank te oefen nie. Die vrou wat op eie stoom moet tyd maak vir haarself en haar drome.

Meeste mense het n ‘bucket list’. Daardie lysie goed wat jy graag sou wou doen voor jy die emmer skop. Vir baie mense sluit dit dinge in wat in ‘n oomblik groot waagmoed verg soos om valskerm te spring. Vir sommige is die lysie taamlik duur: ‘n Kerslig-ete in Parys, ‘n Meditereense-seiljagvaart…

Ek wil jou egter uitdaag om op jou lysie plek te maak vir ‘n uitdaging wat tyd, opoffering en fisiese inspanning oor ‘n lang tydperk verg. ‘n Uitdaging wat jou grense verskuif, wat vra dat jy moeite doen.

Hoekom, vra jy my met jou voete op die rusbank.

Want, liewe leser, jy is dalk gemaklik en tuis waar jy nou is, maar jy is verseker armer. Ek praat nie vanuit die hoogte nie. Ek praat vanuit my posisie hier op die studeerkamerstoel, waar daar nie n plekkie op my lyf oor is wat nie pyn nie. My bobene voel of iemand sandsakke daarin leeggemaak het. My knieë is geswel. My nek wil nie draai nie. Maar ‘n glimlag het op my gesig gestol, en hy sit nou al daar vir 3 dae.

Liewe leser, op 15 Oktober 2012 het ek die Otter African Trailrun met daai glimlag voltooi. Vir 10 ure lank het ek vir myself in n spieël gekyk met die enkele slotsom: Dat ek hou van wat ek sien. En dít is hoekom ek se dat jy ‘n kans moet vat. Enige kans. Op jouself.

Ek kan nie vir jou die moeilike, tegniese terrein beskryf of eers probeer om die asemrowende beelde langs die pad te skets nie. Dis moeilik, moordend en heerlik bevrydend. Ek het so baie geglimlag. Seker omdat ek myself verbaas het. Ook omdat ek dit tot die laaste pynlike treë geniet het. Tien ure is ‘n lang tyd om te dink. Maar ek kan jou verseker, dis onmoontlik om na so ‘n reis minder van jouself te dink. Niemand, niemand sal my ooit kan oortuig dat ek minder oukei is omdat ek ‘n introvert is, of omdat ek vurig is, of omdat ek depressie het of omdat ek nie vir n rol gekies word nie.

My skoonsus, Christelle, het die liedjie ‘Some Nights’ van FUN oor en oor gespeel in die motor op pad tussen Kaapstad en Stormsrivier. Ons het soos tieners ge-headbang op die agtersitplek. Dit was ons Otter-‘anthem’. En soveel keer tydens my 10-ure-wedloop het ek daardie woorde gehoor: “What do I stand for? What do I stand for? Most nights, I dont know.”

Ek is so bly ek kan se: Ek weet nou.

Dankie vir jou saamreis. Die SMS-lyn is nog oop tot op my verjaarsdag 30 Oktober. SMS asb die woord ‘milan’ na 38198 om R10 aan die Tygerberg Kinderhospitaal te skenk.

Groete van huis tot huis,

Milan

PS: Ek doen die Otter volgende jaar weer. Sien jou dan!

  • Amanda

    Milan, ek het groot waardering vir wat jy vermag het en wens jou geluk! Ek het jou op twitter gevolg en saam jou gehoop dat jy hierdie uitdaging sal voltooi.

    Ek lees egter hierdie blog met teleurstelling wat in my binneste posvat. Moontlik het jy dit nie so bedoel nie, maar ek sal graag wil weet hoekom jy na iemand soos jou skoonsuster verwys as ‘n "gewone" vrou want vir my klink sy na alles behalwe gewoon?

    Meeste mense, mans en vroue kom voor uitdagings in hulle lewe te staan, "gewone" mense soos jy hulle noem. Hulle oorwin en triomfeer sonder dat hulle blog daaroor en sonder dat borge tou staan om deel van hulle Otter uitdaging te wees. En as hulle in die aand met hulle voete op die rusbank rus, is dit ook in die haak.

  • Patatjie

    Sjoe Milan! Jy het my so geïnspireer en met die navolg van jou oefenry, jou teleurstellings en jou uiteindelike triomfering met die RETTO – het ek belsuit om jou voorbeeld na te volg! Ek het die program afgelaai, my kop en my hart is reg – nou net die lyf! Ek het ‘n vriendin ingespan en saam gaan ons oefen en sweet! Schalk en jy maak ‘n wenspan. Wees jou stil en vurige, passievolle self – jy het ‘n great "silent" ondersteuningsgroep daar buite!

  • Milan Murray

    Dankie Amanda. Ek weet nie heeltemal hoekom jy teleurgesteld is nie. Want ek en jy bedoel dieselfde ding. Dis dan juis wat ek geskryf het: Die wat dit sonder die erkenning en borgskap doen is die mees merkwaardigste.

  • Brenda

    Ag nee, hierdie "koebaai" brief raak my nou. Ek wil soooo graag so iets aanpak. Myself uitdaag maar ek is bang! Die Otter was van begin af net WOW! Ek dink in ‘n mate het ek deur jou, Milan, ‘n avontuur beleef. Sommer so van agter my rekenaar. Dankie vir die reis wat ons saam met jou kon stap. Jou laaste blog maak vir my 100% sin. Ek kan my indink wat jy ervaar na die run. Maar ek wil dit nie indink nie, ek wil dit beleef! So ek sê weer: Ek wil ook die Otter doen! So dalk, net dalk, tik ek jou volgende jaar op die skouer en sê, hiers ek ook… te danke aan jou.

  • Esmerelda

    Sodra die inskrywings oop is vir 2013, skryf ek in vir my eerste! Sien jou beslis daar.

  • Renche

    Sy het dit verseker nie so bedoel nie. Sy sien haarself as net so ‘gewoon’ soos ek en jy en almal anders. Sy het haar voete stewig op die aarde en ‘n hart van goud. Sy is ‘n inspirasie.

  • Theresa Badenhorst

    Milan, baie geluk met die groot uitdaging wat jy aangepak en ten spyte van seer kniee, enkels en uitdagings VOLTOOI het!
    Ek het jou ook op twitter en facebook gevolg en kan steeds nie glo dat jy van skaars-‘n-5km-kan-hol na die hele OTTER in ‘n dag gevorder het nie!
    Daar is min mense met soveel determinasie en dit is ‘n inspirasie vir baie van ons – nie noodwendig om die Otter te doen nie, maar om enige ander groot uitdaging aan te pak.
    Dankie dat jy dit ook nie net vir jouself gedoen het nie, maar hopelik in die proses ‘n hele paar kindertjies se lewe positief kan beinvloed.
    Jou laaste blog-inskrywing is pragtig en nederig – dat jy op die hoogtepunt van jou otter-reis die fokus op iemand anders as jouself sit is alles behalwe teleurstellend!
    Ek sien net ‘n opregte hart daar agter;
    Mag die glimglag op jou gesig vir nog ‘n hele ruk gestol bly en ek hoop dat niemand en niks tussen jou volgende droom sal staan nie –
    ek sien uit om daarvan te hoor!
    Hoop jou lyf voel gou beter!

  • Liesel

    Ons het groot bewondering vir die groot poging wat jy en jou skoonsuster ingesit het vir hierdie ongelooflike wedloop wat jul voltooi het en vir die goeie doel waarvoor jy dit gedoen het. Ek dink net jy skep ‘n verkeerde indruk in jou blog dat baie van ons Suid Afrikaanse trailrunners deur borge betaal word om te oefen. Meeste atlete word slegs geborg vir hul hardloop toerusting en hul inskrywingsfooie vir wedlope. Hul het almal maar ‘n vaste werk of indien nie kry hul maar swaar omdat hul ‘n passie vir die sport het en daarom kies om te hardloop vir ‘n lewe. Hul moet ook maar tyd inruim om oggende vroeg op te staan in wind en weer en te gaan oefen waar ander nog in ‘n snoesige warm bed lê en daarna moet hul uitgaan om hul brood en botter te verdien. Dit vereis ook natuurlik baie harde werk om die vlak te bereik waar borge jou raaksien.

  • Schalk

    @Amanda – Dit is duidelik dat jy glad nie met begrip lees nie. Lees asb weer die artikel en as jy nog steeds nie verstaan nie, vrae asb vir iemand met begrip om jou te help om die stuk te verstaan.

    Christelle jy is ‘n "gewone" Superster! Milan jy is amazing, ‘n voorbeeld vir "gewone" mense! Milan jy is ‘n "gewone" meisie wat ‘n jaar gelede haar eerste 5km gehardloop het en die guts gehad het om ‘n "ongewone" uitdaging aan te pak! Van 5km tot "Die Otter-in-‘n-dag" binne ‘n jaar is ongelooflik.

    Milan jy inspireer my ‘n "gewone" mens om die uitdaging in my lewe na "gewone" goedjies te laat lyk!

    You go girl!!!

  • Judy

    Milan, jyt dit seker nie so bedoel nie, maar hierdie blog is ‘n teleurstelling. Voel rerig of jy jou goed aanmatig wat jy nie die reg tot het nie. Party van ons is sooo tevrede met ons "gewone allerdaagse" lewe. Ons het gedroom van ‘n gesin en geniet elke dag se uitdagings dat dit vir ons meer as genoeg is. Party van ons het nie dit wat sommige ander mense as "vanselfsprekend" beskou net gekry nie, ons moes lank bid en dit van God afsmeek en dan vra ek, as nederige kind van God, nie vir meer nie. Die lewe is nie vir my ‘n soeke na iets om my "ryker" te maak nie, sulke dinge gebeur in my, ten spyte daarvan dat ek ‘n ouer en my eggenoot aan die dood op ‘n baie jong ouderdom moes afstaan. Maar die lewe is nog steeds vir my ryk en vol uitdagings met ons seuntjie. Hy en my God vervul my lewe absoluut.

  • Anette Grobler

    Beste Milan. Dankie vir jou blog’s, facebook en tweets oor die laaste paar maande. Dit was heerlik om al die stappe ter voorebereiding saam met jou toe kon beleef . Van jou inskrywing tot die fisiese voorbereiding, tot die besering en vrees dat jy dit moontlik nie kan maak nie… alles deel van die groter wedloop van selfontdek.

    Ek wil ook dankie se vir jou oproep op gewone vroue soos ek en jy om ons grense te verskuif, want ek glo ook onherroeplik daaraan. Ek verstaan die konteks waarbinne jy dit noem asook die intensie. Jou asbsolute ekstase met dit wat jy gedoen het wat vir jouself totaal en al ondenkbaar was om te bereik, spreek die konteks aan. Jou oproep om mense aan te spoor om hulle eie groot lewens-Otters aan te pak -die intensie.

    Dankie dat jy die jou reis met ons gedeel het Milan. Ek glo jy het jou reg gemaak vir n fisiese uitdaging wat uiteindelik baie meer van n persoonlik reis geraak het.

    Adventure is transforming the impossible to the possible. You did it!

  • Annele Louw

    Well done vrou!!! Ek is trots op jou!

  • Christelle van der Westhuizen

    Milan, ek haal my hoed vir jou af. Welgedaan.

  • Liezel

    Well done Milan en baie baie geluk Christelle!!! Julle het daai smile wat vasgeplak is verdien en geniet elke oomblik daarvan, ek hoop hy hou sommer tot volgende jaar. Julle passie is aansteeklik! Ook baie geluk aan julle mans wat die tog saam aangepak het, wat ‘n voorreg om dit as familie so saam te doen!

  • Leniza Groenewald

    Christel jy is voorwaar merkwardig! Baie geluk !!! Ons was `n jaar saam op skool en dit was die beste skooljaar van my lewe! Ek dink wat jy bereik het absoluut fantasties! Milan dit is wonderlik van jou om so mooi oor jou skoonsus te skryf en ek wens ek het die "guts" gehad om dit te kon aanpak wat julle reeds voltooi het! Baie geluk Milan! Ek dink jy het wonderlik gedoen! Julle is altwee `n inspirasie vir ons almal! Ek gaan beslis `n kans vat al is dit nie met die otter nie!!!

  • Christelle van der Merwe

    Dit is regtig jammer dat sommiges hierdie lees uit so ‘n kritiese oogpunt en ‘n totale waninterpretasie van die bedoeling maak (wat volgens my heeltemal voor die hand liggend is).
    Ek was die 2e vrou wat klaargemaak het by die Otter Trail Challenge 2012 – vir my seker een van die grootste hardloop prestasies van my lewe – soos ek ingehardloop kom het die aanroeper nie eers my naam afgekondig nie (want hy ken my nie). Daar’s nie eers een foto van my geneem tot die aand met die prysuitdeling nie.
    My man was die enigste een op die einde wat sy longe uitgeskreeu het! (bless him!)
    Ek het ‘n handvol whatsapp boodskappe op my foon gehad en ‘n oproep van my ma en my sussie om geluk te se.
    Ek het gesien en gehoor hoe sms’e, FB en twitter boodskappe vir Milan instroom en vir haar gese dat dit seker lekker moet voel – al die ondersteuning en bewonderaars.
    Milan gee in hierdie blog-inskrywing erkenning en bewondering aan mense wat iets (soortgelyks soos haar menslike-otter uitdaging) bereik, maar waarvan daar nie eers ‘n ‘fuss’ gemaak word nie.
    Ten minste het ek die aand my oomblik op die podium geniet. Ek haal my hoed vir daai vrou af wat miskien net voor Milan daar ingekom het – ook vir die hele jaar tussen kinders en werk tyd afgeknyp het om te oefen en haar groot droom bewaarheid het – haar nommer is nie eers uitgeroep nie en haar man was dalk nie eers lus om haar te gaan ondersteun nie…
    Welgedaan vir JOU, mevrou! I salute you!

  • Lititia

    Uit my oogpunt gesien kon Milan net oor haar en haarself geskryf het, maar sy haal juis hierdie gewone vrou aan om ‘n punt te bewys vir ons almal (soos ek) wat net elke aand voor die TV sit. Dis juis geskryf om vir ons as vroue ‘n inspirasie te wees, om te wys ons hoef nie ‘n TV ster te wees om iets te bereik nie. En ja ek glo ‘n mens is net ‘n beter mens as jy meer insit in die lewe. Baie dankie ek bewonder julle 2 vroue, ek moet ook net begin. My ma sê altyd alles is net ‘n beginnetjie………!

  • Louise

    Ons ‘salute’ julle 2 plus al die Ander wat die tog Voltooi het!! Dit is fantasties om te sien hoe julle die vrugte gepluk het van baie ure se oefen/voorbereiding tussen deur julle Daaglikse lewens (watookal dit behels ;). Ek dink dis tyd dat hierdie mamma van 3 haar tekkies vir goed gan afstof net om weer vol stof (van die pad!) te word!! Groete Vanuit London!

  • Elma

    Milan, ek kyk nou vir jou op Ontbytsake en jy lyk pragtig. Baie geluk met jou "Oscar". Jy is ‘n inspirasie vir baie "gewone" mense! Dankie ook vir jou bydrae vir Tygerberg kinder hospitaal. Baie geluk ook aan al die van der Merwes! Well done!

  • Esther

    hi daar Milan

    Ek het dit gelees en weet hoe hard en lank jy en Christelle en my 2 broers geoefen het. Baie geluk dit is is inderdaard ‘n prestasie vir julle almal. Ek is bly om sulke fikse famielie te ondersteun.

  • Manda

    Amanda, nou wat moet Milan haar skoonsuster noem? Supervrou? Natuurlik is sy ‘n alledaagse persoon net soos wat jy is en almal van ons is. Ons beroep bepaal nie wie ons is nie. Sy kon dit bekostig om die roete te doen en het daarom nie borge nodig gehad nie. Dit is alles behalwe goedkoop om die roete te voltooi. Jy benodig spesiale toerusting, klere ens. Die klere en toerustign is nie goedkoop nie. Gaan kyk maar by hierdie link wat jy als benodig om die Otterpad te loop. http://www.sanparks.org/parks/garden_route/camps/storms_river/tourism/otter.php

    En onthou Milan het dit gedoen om geld vir die Tyger Kinderhospitaal in te samel. As sy nie daaroor geblog het nie, het niemand daarvan geweet nie. Milan is ‘n bekende persoon en natuurlik stel die meeste mense belang om soiets te volg en te sien hoe sy vaar. En so kan hul dan ook ‘n bydrae lewer deur ‘n sms te stuur. Dit is ‘n baie strawwe roete wat nie ligtelik kan aangepak word nie. En ek bewonder haar daarvoor. 10/10 vir haar!

    En nog ‘n ding, die borge het nie toue gestaan nie.’n Apteker het haar geborg.

  • Chanelle

    Ai. Milan ek dink jy kan gerus weet dat ons verstaan wat jy bedoel met "gewone" mense. Dis n algemene term en jy is n celebrity en jy het hard gewerk daarvoor. Well done. Ons sien uit na jou volgende uitdaging.

  • Elize

    Ai tog, Milan wat maak mens met iemand soos Amanda wat net nie wil verstaan wat jy bedoel met ‘gewone mense’ nie. Laat dit daar. Om energie op haar te mors is nie nou meer nodig nie. Geniet jou oorwinning! Jy rock al die pad!!

  • Annie

    Awesome, vir jou en skoonsus! Hoop julle glimlag vir nog n hele paar dae van oor tot oor.

  • Truida

    My liewe vriendin, ek was die dag daar toe jy jouself tot die Otter Trail Challenge commit het…ons het, op ‘n pragtige somersdag by Norscott Manor ons glasies geklink…met die wete dat jy op daardie stadium nog nie 5km in jou lewe aaneen gehardloop het nie! Dis natuurlik uitsluitend die kilometers wat jy al agter Steph en Lua moes aanhardloop het…en ons weet mos hoe kleuters ons laat hol! Jy het die afgelope jaar met dissipline, fokus, passie en onselfsugtigheid aangepak. Ons moes sóveel keer op ‘n Vrydagaand (na Ontbytsake-opnames) op die stoep sit terwyl die braaivleisvuur brand en die yskoue Sophie Te’Blanche in ons glase klink, net om te weet dat jy besig was om die Westcliff-trappe uit te hardloop. Nie omdat jy wou nie, maar omdat jy moes. Omdat jy so committed was. Dankie vir wat jy vir die Tygerberg Kinderhospitaal gedoen het. Dankie vir wat jy vir ons as binnekring doen. Jy is ‘n inspirasie en woorde is nie genoeg om vir jou te sê HOE trots ons op jou is nie. Ek salueer jou – As vriendin; ma van twee pragtige kinders; stunning vrou van Schalla; aktrise van formaat; dogter; suster; onmisbare lid van die binnekring…