Milan op die stel van Mooirivier

Milan op die stel van Mooirivier

Het jy gehoor?

Milan Murray in die regisseurstoel vir nuwe kortfliek

Die Afrikaanse aktrise Milan Murray hou eersdaags haar lyf regisseur vir ‘n kortfliek deur Kaapland Films, die span wat Klein Karoo en Mooirivier die lig laat sien het. 

SARIE.com het met haar gesels oor die lekker nuwe uitdaging.

“Kaapland Films het my gevra om vir hulle ’n kortfliek te skryf wat vir die internasionale mark aanloklik sal wees,” sê Milan. En die tema? Post-apokalipties. Só is Bloodline uit haar pen gebore, ’n storie oor die die einde van die wêreld en wat die oorlewendes te doen staan.

“Die ouens van Kaapland Films hou toe van my storie en vra toe of ek in die fliek wil speel.” Maar Milan het ’n ander plan gehad. Sy het gevra of sy nie net die skrywer nie, maar ook die regisseur kan wees – en Kaapland het ingestem.

FOTO: Facebook  Cobus van den Berg

FOTO: Facebook Cobus van den Berg

Milan is ’n gesoute aktrise en het al die regie van korporatiewe videos hanteer, maar dit is die eerste keer dat sy regisseur vir ’n fliek is. “Dit is ’n baie lekker vertakking van my loopbaan. Al het ek vantevore regie gedoen, is die korporatiewe tonele nie so omslagtig soos in ’n fliek nie.”

Die kameras begin later die maand op 22 Augustus draai en oudergewoonte vir Kaapland Films sal Tim Theron die hoofrol vertolk.

Vroue se ‘plek’ in die industrie

Oor vroue in die filmindustrie het Milan geen illusies nie. “Ek sien nie geslag wanneer ek saam met iemand werk nie. Ek sien talent. As regisseur moet jy visie hê en enige individu het visie, dus glo ek nie geslag bepaal of jy ’n sekere werk kan of nie kan doen nie.”

“Jy sien al hoe meer vroue in die filmindustrie in die regisseurstoel, of as skrywers of vervaardigers. In Suid-Afrika voel dit nie vir my asof ek my pad as vrou moet oop baklei nie.”

Vir ander vroue in die filmbedryf het sy ’n eenvoudige boodskap: “Doen dit net! Moenie wag vir die regte rol, of die regte geleentheid nie. Maak nie saak of jy ’n akteur, skrywer of regisseur is nie, as jy dink jy kan dit doen, doen dit!”

Bloodline sal hoofsaaklik by internasionale filmfeeste gewys word. Die eerste fees waar dit te sien sal wees is die Sundance-filmfees in Amerika wat in Januarie 2016 plaasvind.

Lees ook