Het jy gehoor?

Mnr. “Queen” Joseph Clark betower in Staatsteater

Joseph Clark, die hoofsanger van Music of Queen – The Show must Go On – is sedert 1990 deel van dié gewilde musiekblyspel. Van 5 tot 15 Februarie is hy weer eens “Mnr. Queen’’ in die Staatsteater in Pretoria.

Daarna vertrek hy en sy top-band na Den Haag en Amsterdam met dié produksie, wat in die verlede al Nederlandse gehore van tot 30 000 mense per geleentheid getrek het.

Oor die nou reeds ontslape hoofsanger van Queen, Freddie Mercury (op wie die Amerikaans gebore Clark sterk trek), sê hy: “Daar was nog nie weer iemand soos hy nie. Ek probeer hom nie naboots nie. Dit is blote toeval dat ek soos hy klink as ek sing. Ek wens ek kon hom ontmoet, maar helaas. . .In Duitsland was die skare uitge-freak omdat ek so baie na hom lyk. Freddie het met sy héle lyf gesing – ‘n fisieke vermaaklikheidster. Letterlik van kroon tot toon. Dit is hoe ek hierdie musiekvertoning ook benader.’’

Joseph se gunsteling- Queen-treffer is “You take my breath away.” “Dit is ‘n ‘klein’ liedjie, maar perfek in sy eenvoud,’’ sê hy.

Daar is baie klassieke treffers soos “Bohemian Rhapsody’’, “Bicycle Race’’, “We are the Champions’’ en “Another One Bites the Dust’’ om na uit te sien. . .

Joseph Clark

Die wonder van Queen se musikaliteit, meen Clark, is dat hulle alle genres van musiek kon dek omdat hulle ‘n klassieke opleiding gehad het. ‘’Elke lid van Queen het trouens ‘n internasionale treffer geskryf. Dít is besonders. Queen se musiek sal, nes dié van die klassieke komponiste, vir ewig gewild en gehalte-werke bly. Dit is tydloos.’’

In dié vertoning word ook liedjies gesing wat Mercury nooit in ‘n konsert gesing het nie, maar wat hy kort voor sy dood (aan vigs) net opgeneem het. “Motherly Love’’ is byvoorbeeld eers ná sy dood uitgereik. Ander musiek wat hy nooit tydens konserte gesing het nie, sluit  in “It’s a Beautiful Day’’, “Innuendo’’, “The Show Must Go On’’ en “In My Defence”.

Ná 32 jaar is dit steeds vir Joseph ‘n plesier om voor Suid-Afrikaanse gehore op te tree. “Ek hoop Freddie luister na sy musiek vanuit die hemel en hy weet ons probeer dit interpreteer met respek, sorg en passie. Dit is die aandag aan detail wat ons vertonings vars en relevant hou en hopelik spreek tot die gehoor. Ek werk saam met ‘n droomspan. Toegewyde musici.’’

Die regisseur, Elzette Maarschalk, weet wat sy wil hê, maar sy is nie rigied nie en hy bewonder dit, vertel Joseph. “Sy het ‘n goeie oor en skenk baie aandag aan detail.”

Hoekom moet mense dit kom kyk? “Twee uur lank lewer almal hul beste in 28 van Queen se liedjies. Dit is een van die beste Queen-huldeblyke wat jy sal sien. Briljante rock-musiek. Hul grootste inspirasie was die Beatles. Dit maak nie saak hoeveel keer ek al die musiek gesing het nie, dit bly vars en uitdagend.”