FOTO: Veronique Mills

Het jy gehoor?

Mooimaaksessie – Rosan Jansen van Vuuren: “Op 50 kan ’n vrou nog sprankel”

Die 50-jarige Rosan Jansen van Vuuren, wat op ’n kleinhoewe net buite Pretoria woon, het ’n moeilike jaar agter die rug. Verlede jaar is daar op haar knie geopereer, haar bolyf is gebrand (nadat ’n warmwatersak gebars het) en haar pa is oorlede. Dié spanning het sy spore gelaat. Gelukkig het Rosan se dogter, Nerine, die regte plan gehad: ’n Luilekker pamperlang-sessie sou maak dat haar ma weer ’n slag met haar oë lag.

Rosan se voor- en ná-foto

FOTO: Veronique Mills

FOTO: Veronique Mills

Wat sê Rosan?

1. Beskryf jou klerestyl.

My klere is gemaklik, tog klassiek. 

2. Het dié mooimaaksessie jou selfvertroue verbeter?

Baie, want ek was só gemaklik voor die kamera. Ek het breed geglimlag, draadjies en al. Ek kon nie glo hoe mooi ek lyk nie. Dit het my hoendervel gegee en skoon bewoë gemaak.    

3. Wat was jou gesin se reaksie?   

My man kon sy oë nie glo nie. En my dogter het oor die telefoon gehuil nadat ek die foto’s aan haar gestuur het.

4. Wat het jy geleer? 

Ek het geleer hoe om my oë ’n fokuspunt te maak. My vel het ’n rooi ondertoon en ’n pienk blosser vererger dit net, maar bronser verbloem dit baie goed. Ek het ook geleer dat ’n roomkleurige oogomlyner aan die binnekant van die oog jou uitgerus laat lyk.

Wat sê die mooimaakspan?

Leverne Botha – grimeerkunstenaar

Rosan het die mooiste dik, blonde hare. Ek het haar vel ’n egalige voorkoms gegee deur ’n onderlaag met ’n geel ondertoon te gebruik. Haar pragtige groot, blou oë is beklemtoon met oogskadu in ligbruin skakerings en afgerond met ’n donkerbruin oogpotlood om by haar ligte gelaat te pas. Sy het sag en vroulik gelyk, absoluut beeldskoon.

Elaine, stilis

Ek het vir Rosan ligte en vrolike klere gekies. Sy het baie mooi gelyk in die wit bloes, en die krale wat sy van haar huis gebring het, het perfek daarby gepas! Die blou bloes het haar oë gekomplementeer. Haar voorkoms is opgehelder met die veelkleurige bloes, wat haar perfek gepas het.

Veronique Mills – fotograaf

Kliënte is geneig om die ken in die lug te hou om ’n dubbele ken te versteek. Die foto word dan van onder geneem en beklemtoon, eerder as verbloem, ’n dubbele ken. Probeer eerder om die ken effens af te hou en die foto meer van bo te neem. Die voorkoms van Rosan se draadjies is versag deur haar net effens te laat glimlag, pleks van breed en oop.

FOTO: Veronique Mills

FOTO: Veronique Mills

Klere van Slate, Willowbridge

BESPREEK VIR JOU ’N MOOIMAAKSESSIE

Om jou mooimaaksessie by Veronique en haar span te bespreek, besoek hul webtuiste by www.glamourmakeovers.co.za of kontak hulle direk by 079 737 7397 / info@glamourmakeovers.co.za

FOTO: Veronique Mills

PRETORIA!

Die span kom binnekort Pretoria toe om daar ook mooimaaksessies te doen. Bespreek jou plek nou by info@glamourmakeovers.co.za

Kyk HIER na nóg mooimaaksessies

  • Nerine Blankestijn

    Danksy die mooimaak sessie van Sarie Tydskrif, Veronuque Mills Photography en Leverne Botha Make-up pak is my ma, Rosan Jansen van Vuuren geïnspireer om met sorg haar uitrustings te kies. Hierdie grys en wit strepe rok met die grys silhoette saam ligte denim baadjie en bypassende wit hout krale laat my ma slank en jonk lyk. Haar draadjies is ook af, wat haar met selfvertroue laat glimlag. Dankie aan die mooimaak span vir my pragtige ma!