FOTO Conrad Bester

Het jy gehoor?

Mooirivier se Tim Theron oor sy nuwe pienkvoet

Ons het in ons Januarie-uitgawe met die Mooirivier-akteur en vervaardiger Tim Theron gesels.

Is jy baie opgewonde oor die nuwe pienkvoet in die huis?

Die eerste keer toe ek Sophia (haar naam beteken wysheid!) gesien het, het daar ’n warboel emosies deur my gegaan. Ek was dadelik verlief en verwonderd en wou in trane uitbars. Soms as ek dink aan my nuwe “rol”, raak ek skoon bewoë. Dit is so ’n ongelooflike gevoel. Opwindend, vreesaanjaend. Ek en my vrou, Juanli [tolkdiensbestuurder aan die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum], wil klein Sophia [sy is op 13 November 2014 gebore] “reg” grootmaak. Sy moet glo in haarself en haar drome uitleef. En sy gaan eers trou op veertig – ek weet wat gaan in mans se koppe aan!

En dis hoekom ek nie kon wag om huistoe te kom nie…#earlymorningcuddle

A photo posted by @ttimtheron on

Sus die nuwe jaar in… #syslaapuiteindelik #ekdurfniebeweegnie

A photo posted by @ttimtheron on

In Mooirivier speel jy een van die romantiese helde. Geniet jy daardie soort rol?

Elke seun wil ’n held wees wanneer hy groot is – ’n super- of sportheld. Later, wanneer hy mooi meisies begin raaksien, word romantiese held by die lysie gevoeg. Dit is lekker om die beeldskone aktrise van haar voete af te swiep. In Mooirivier speel ek teenoor Anel Alexander.

Soms is dit nogal moeilik om die hoed van akteur én vervaardiger te dra – albei is my passie. Tydens die vervaardiging kon ek fokus op toneelspel en die bestuur van Kaapland Films aan my vennote (Cobus van den Berg en Jorrie van der Walt) oorlaat.

In Klein Karoo was dit ’n voorreg om as Frans Coetzee verlief te raak op Donnalee Roberts (Cybil Ferreira). Maar ek geniet ook “donker” rolle. Dit is hoekom my rol in die kortfilm-wenner by 2014 se kykNET Silwerskermfees, Vuil wasgoed, so lekker was. Ek was die bad guy.

Op wie is Mooirivier gemik?

Dis vir almal, want dit gaan oor die liefde. Daar is veelvuldige storielyne soos in die Britse dramatiese komedie Love Actually. Jy gaan met ’n lag of dalk ’n traan by die teater uitstap.

*Mooirivier begin op 6 Februarie in teaters draai.

Lees meer oor Mooirivier HIER

Kyk na die lokprent van Mooirivier:

Lees die volledige onderhoud met Tim in die Januarie-uitgawe van SARIE. Laai dit steeds digitaal af en lees dit op jou rekenaar, tablet of slimfoon.

Lees nou