Het jy gehoor?

’n Middag saam met Ivan en Donnalee van ‘Vir Altyd’

Rhebokskloof, die wynplaas net buite die Paarl waar Nina, Donnalee Roberts se karakter in Vir Altyd, haar troue beplan, is prentjiemooi.

Heuwels vol wingerde omring die plaas, en die pragtige tuine en plaasdam rond die toneel romanties af vir Nina se ideale troubestemming.

Toe haar bruilofsdag op Rhebokskloof nie verloop soos Nina van kleins af gedroom het nie, besluit sy om steeds partytjie te hou en alles wat sy voorberei het – soos ’n gechoreografeerde dans en haar toespraak – met oorgawe te doen ten spyte daarvan dat haar bruidegom koue voete gekry het.

“Ons het bottels en bottels vonkelwyn uitgespuit met die skiet van daardie toneel,” vertel Ivan by ’n gesellige kuier saam met van Vir Altyd se vennote. Die SARIE.com-span is ook daar. “Ons het hande vol koek geëet en gedans,” onthou hy dié aand, net ’n paar maande gelede hier op Rhebokskloof.

Donnalee sê dit was een van die lekkerste tonele wat sy nóg geskiet het, juis omdat dit spontaan en mal was.

Die terrasse onder die bome lei van die restaurant na die dam, en almal stem saam dis die ideale plek om later vanjaar die Kaapse première te hou.

Ons drink heerlike Rhebokskloof-wyne en geniet canapés terwyl Ivan en Donnalee meer vertel oor Vir Altyd, die romantiese avontuurfliek wat vroeg volgende jaar uitgereik word. Almal is duidelik opgewonde om die eindproduk te sien.

Maar ons sal moet wag tot 12 Februarie 2016 wanneer Vir Altyd landwyd in teaters begin wys.

SARIE is ‘n trotse mediavennoot van Vir Altyd.

Lees ook

ZZZ