FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Het jy gehoor?

’n Oomblik met Anna Davel

Anna Davel is bekend vir die sielvolle liedjies wat sy skryf. Soos nou weer met Moment, haar vyfde album met oorspronklike musiek. Want as iets aan haar hart vat, skryf sy uit haar lyf. 

Sondagmiddag. ’n Karaktervolle ou peperboom op Philadelphia. Kort duskant Malmesbury van Kaapstad af kruip die klein oase in die laatsomer-songestroopte landskap weg.

Anna Davel se “versteekte juweel”. Mense groet haar op die naam, want sy kom gereeld hier.

Dis byna soos haar dorp. Wanneer sy in die Kaap is, maklik twee keer per maand, bly sy hier in vriende se tuinwoonstel. En voel net so tuis as by haar eie plek in Pretoria. Net haar kat, Gino (vernoem na die roomys Gino Ginelli), kort.

“Hier is ek op my gelukkigste, net hier onder die peperboom met sy knolle en knoppe. ’n Oupa-boom. Ek het ook so ’n plekkie in Pretoria, ’n yslike wilgerboom by ’n gholfbaan, waar ek gaan sit en werk as die huis my begin druk.”

Sy het ’n lag-uit-die-maag wat die wêreld vol spat, uitbundige haredos (’n “karakoel-bol” as sy dit durf probeer uitkam), gul mond. Eksoties. Aards.

In sterk teenstelling daarmee is haar introvert-kant, wat emosionele sensitiwiteit, fyn waarnemingsvermoë en aanvoeling vir woorde kombineer om haar siel in lirieke uit te stort.

“Ek het al gesien as ek onder druk probeer werk . . . jis, daai liedjies is nie lekker nie, man. Hulle praat nie met die hart nie. My inspirasie is as ek iets sien wat my diep raak, as ek iets voel, ’n journey beleef het wat ek dink die moeite werd is om te deel. Ek kan nie langs die metronoom gaan sit nie en tik … tak … oukei … Hier gaan ons … Dan is daar net niks.

Ek moet net praat as ek iets het om te sê. En dis maar nou.”

Moment, jou eerste album met net jou eie liedjies in sewe jaar, is nogal weemoedig. Het jy so ’n kant en is dit nodig in die skeppingsproses?

Ek is nie ’n melancholiese mens nie, ek laat eenvoudig nie toe dat my gevoelens met my weghol nie. My ouers, my omstandighede het my geleer om nie in sentiment te verdrink nie. Om baie te lag en nie die lewe so ernstig op te neem nie. Dit beteken nie dinge raak my nie diep nie. Ek ontlaai dit egter as ek liedjies skryf, sonder dat dit my lewe ontwrig: Daardie deel van my wat diep ontroer is deur ander se pyn, mense wat deur omstandighede slagoffers is. Ek skryf dit uit my lyf en klaar. Dalk is daar tog ’n deel van my wat melancholies is en die wêreld ’n bietjie oorweldigend vind. Maar ek het ’n manier gevind om dit in my alledaagse lewe te hanteer.

Jy het nie aan sang as loopbaan gedink nie?

As kind wou ek net sing. My ma sê as sy van die skool af kom (my ouers was onderwysers), het sy nooit gewonder waar ek is nie. Sy het my hoor sing. Ek het heeldag klavier gespeel, op my kitaar getokkel. Maar as loopbaan? Dit het nie eens by my opgekom nie. Dit was mos nie daardie jare as ’n werk beskou nie. Maar, ja. As daar op skool ’n sanggroepie was, was ek daar. Ek was egter nie die ster in revues of op eisteddfods nie. Ek was nie eens in die skoolkoor nie, ek het nie die oudisie geslaag nie. [Lag.] Ek dink ek was te skaam. My stem was nie geoefen nie, ek het nie geweet hoe om dit te gebruik nie.

Wanneer het jy in alle erns begin sing?

As student aan die Universiteit van Potchefstroom [nou die Noordwes-Universiteit] was ek ’n solis in die Alabama-studentegeselskap. Ek het myself so hart en siel in daardie wêreld gewerp dat ek verskeie kere van kursus moes verander. Want ek was nooit in die klas nie; heeltyd besig met musiek maak. Uiteindelik wou net die sielkunde-departement my nog hê, want hulle verstaan mos alles. En so het ek my BA-graad voltooi met sielkunde as hoofvak.

Hoe hou jy jou voete op die grond in dié moeilike bedryf?

Mense wat my geken het lank voor ek begin sing het, vir wie daardie deel van my lewe nie belangrik is nie, help my om myself te ground. Soms staan ek in ’n aandrok voor 2 500 mense met ’n simfonieorkes as begeleiding. Die volgende aand tree ek in ’n koffiewinkel voor net sewe mense op. En die helfte het ek self genooi omdat kaartjieverkope so swak was. As ek enigiets daarvan kop toe vat, gaan ek tweede kom. Dis nie altyd maklik om jou daarvan te distansieer nie. Maar ek is al gekonfyt om vir myself sê: Dit sê nie iets van jou as mens nie. Dis jou werk, wat ’n geskenk is.

Jy sonder die liedjie “Somewhere Over the Rainbow” uit as jou gunsteling op joujazz-album Linger Longer. Hoekom?

Dis ’n liedjie vol versugting. In vandag se siniese lewe het ons soms niks meer om oor te droom nie. Die lewe kan hard en uitdagend wees. Jy moet vashou aan dit wat magical is, jy moet steeds kan droom. ’n Vlammetjie van hoop moet bly brand. Dis wat die liedjie sê: Bly altyd droom, hou daardie vlammetjie van hoop lewend. Dis ook my lewensfilosofie.

Somewhere over the rainbow
Skies are blue
And the dreams that you dare to dream
Really do come true

Die volledige artikel het in die Mei-uitgawe van SARIE verskyn, laai dit hier af.