Stephanie Redelinghuys praat oor haar dogter se depressie. FOTO: Phyllis Green

Stephanie Redelinghuys praat oor haar dogter se depressie. FOTO: Phyllis Green

Het jy gehoor?

’n Seën en ’n vloek – ’n ma se verhaal van haar bipolêre dogter

Heling kom op baie maniere. Vir Stephanie Redelinghuys was dit die skryf van ’n boek oor haar kunstenaarsdogter wat aan bipolêre gemoedsteurnis gely het.

Twee maande voor haar noodlottige motorongeluk in 2002 het die kunstenaar  Michéle (Misjke) Redelinghuys van Dyk vir haar ma gesê: “Mamma, skryf oor my, vertel die wêreld van my, want ek is spesiaal.”

Nou is Stephanie Redelinghuys se biografie oor haar dogter, A Life Interrupted – The Story of Misjke*, voltooi. Maar wat sy aanvanklik beskou het as ’n manier om die verdriet oor die dood van haar talentvolle kind, ’n bipolêre depressielyer, te verwerk het uiteindelik vir haar ’n hele nuwe wêreld laat oopgaan.

“Sedert die boek einde 2008 verskyn het, is dit amper ’n ontploffing soos mense van oral bel met vrae oor bipolêre gemoedsteurnis. Ek en my man, Pieter, was destyds uit die veld geslaan toe Michéle in haar middeldertigs daarmee gediagnoseer is. Ons het dit glad nie geken nie. Ek is nie ’n dokter of psigiater nie, ek het maar my kennis opgedoen deur in Amerika meer te gaan uitvind en soveel moontlik daaroor te lees.

“Later het ons besef ons oudste dogter, Mariëtte, wat byna 25 jaar gelede op 22 in ’n motorongeluk oorlede is, het ook die simptome van bipolêre depressie gehad. As kind het ons gedink sy was net baie roekeloos, en dat kopbeserings dalk die oorsaak was – sy het dikwels van haar perd en een keer van ’n motorfiets op haar kop geval. Ons was so onkundig. In die 1980’s was die woord bipolêr onbekend.”

Vir Stephanie gee dit groot bevrediging dat Michéle, wat altyd ander mense wou help, nou deur A Life Interrupted ander kan inspireer deur wat sy as kunstenaar bereik het, “nieteenstaande die siekte, of dalk juis as gevolg daarvan”. Die boek het volkleurfoto’s van meer as 300 van haar kunswerke regdeur haar loopbaan tot haar dood op 39. Van die werke, sommige op bruikleen van hul eienaars, was in 2008 by verskeie solouitstallings te sien. Uiteindelik het dit vir haar as ma ook ’n mate van heling gebring. Sy vertel:

Michéle was liefdevol en borrelend, ’n vrolike ekstrovert wat graag drukkies en soentjies uitgedeel het, ongelooflik vrygewig en altyd besorg oor die afvlerk-voëltjies van die lewe… ’n begaafde kunstenaar met uitsonderlike kreatiewe flair. Maar niks hiervan rym met die prentjie wat my en my man drieuur in die oggend in die Kaapstadse Internasionale Lughawe se sekerheidskantoor ingewag het nie – ’n onsamehangende, babbelende, hallusinerende spieëlbeeld van ons pragtige kind – die selfaangestelde vryheidsengel, wagtend om Mandela se hand te skud. Dit verskeur jou hart en jy voel siek tot in jou siel.

Sy was 34, gelukkig getroud en ma van ’n vier maande oue seuntjie. Maar bipolêre depressie steur hom nie aan jou omstandighede nie. Dit het ons as ouers verpletter. Ons was bewus van oorerflike suikersiekte en hartprobleme wat in die familie voorkom, maar in daardie stadium het ons nie geweet van enige familielede wat dié siekte het nie. Ons was ’n doodgewone gesin met vier dogters en een seun. Hul grootwordjare op ons druiweplaas in die Paarl was streng en konserwatief. Voordat Michéle in haar dertigs simptome begin toon het, was daar nooit enige waarskuwingstekens waarvan ek bewus was nie. Sy was altyd opgewek, maar vandag weet ek dit was maar oëverblindery. Dít het ek eers besef toe ek begin navorsing doen vir die boek.

Ek is deur al haar dagboeke en die talle briewe wat sy nooit gepos het nie. Net voor haar dood het sy dit vir my gegee om te lees, sodat ek haar beter kon verstaan. Dit was so hartseer en het my intens bewus gemaak van die geweldige pyn en warboel waarin haar gemoed by tye was. Die wroeging in haar binneste was hartverskeurend. Sy was diep godsdienstig, maar vrugteloos soekend na goddelike hulp. Dit wat sy nie kon verwoord nie, het sy in haar kunswerke uitgebeeld. Ek het ook nooit besef hoe swaar die dood van haar suster en drie intieme vriende haar getref het nie. Dit het haar lewenslank bygebly.

Dit blyk Michéle het die eerste erge gemoedskommelinge reeds ervaar toe sy in België gaan studeer het nadat sy haar graad in die skone kunste aan die US verwerf het. Sy het drie beurse verwerf om oorsee te studeer.

Ek het haar dalk te jonk en onvoorbereid daarheen gestuur. Ek dink sy was maar eensaam in die vreemde. Die rook van dagga is ’n lewenswyse daar, en sy het dit begin gebruik om nie ’n buitestander te wees nie. Ons vermoed die dagga was die eerste sneller vir die siekte, wat toe nog gesluimer het. Maar sy het nooit toegelaat dat ons dit agterkom nie. Ons het dit maar later ontdek.

Terug in Suid-Afrika het Michéle baie jare lank uitstekend gevaar. Sy het groot opdragwerke voltooi, soos reuse skilderye vir die glansryke nuwe Victoria & Albert Hotel in die Kaapstadse Waterfront – waar dit byna 20 jaar in die foyer uitgestal was tot ons dit teruggekoop het. Sy het ook ’n buitengewone opdragwerk vir ’n restaurant daar voltooi: die Sint Markus-plein in Venesië, met Tafelberg op die agtergrond en proteas wat die boë versier. Dit het groot opspraak gewek. Sy het later suksesvolle uitstallings gehou en haar meestersgraad aan Stellenbosch cum laude verwerf.

Toe begin sy die Mountain Viewkunsgalery en restaurant in die Paarl. Dit was aanvanklik baie suksesvol, maar dinge het begin skeef loop. Sy het te min hulp gehad, te min geld en te veel verantwoordelikhede. Dit het haar oorweldig. Ná drie jaar het die onderneming gevou en sy was platgeslaan. Haar lewe het uitmekaar begin val, jy kon dit sien in haar werk – sy het byna koorsagtig geskilder. Ons was oorbluf deur haar gedrag – sy sou letterlik snags die dorp invaar en mure en strate met verf ontsier. Haar selfmedikasie was dagga en drank, maar sy het besef daar is fout met haar en het vrywillig na ’n kliniek in Johannesburg gegaan. Sy is vir dwelmverslawing behandel, nie bipolariteit nie.

Toe sy daar uitkom, was dinge nooit weer dieselfde nie.

Ná haar sussie, Miki, se troue in 1996 (in die Paarl) is Michéle op pad na Pretoria op die ingewing van die oomblik getroud met Pieter Roux, ’n mede-kunstenaar. Elf dae later is sy van hom geskei. Daarna het sy getrou met Paul van Dyk, wie sy op haar eerste wittebrood ontmoet het. Hulle het op Bettysbaai gaan woon. In 1997, met hul seuntjie, Redy, se geboorte, het haar beker van geluk oorgeloop. Sy het haar selfvertroue begin herwin, wat so ’n knou gekry het ná die mislukte onderneming.

Maar die volgende sneller was reeds daar: Saam met die baba het ook nageboortelike depressie gekom. Sy sou in die nag die pad vat, totaal onbewus van wat sy aanvang. Uiteindelik, ná die derde voorval, is sy met bipolêre gemoedsteurnis gediagnoseer. Dit was geneties. Sy sou vir die res van haar lewe litium moes neem om die manie en depressie in toom te hou.

Michéle het egter geweier om medisyne te drink en ek moes haar wetlik laat  sertifiseer en oorplaas na die staatshospitaal by Stikland. Dit was hartverskeurend, die moeilikste ding wat ek nog moes doen. Dis net so goed jy verdoem jou eie kind, maar jy moet dit doen vir haar én die mense na aan haar se beswil. Terug by haar huis op Bettysbaai was die chaos in haar kop gereflekteer: deure, mure en meubels is met skeerroom en gom geverf, vuil wasgoed was oral ingeprop en kledingstukke is tot as verbrand.

Sy was beter toe sy uitgekom het, maar het periodiek weer teruggeval. Dis moeilik om te redeneer met so iemand. As dit goed gaan en die medikasie werk, sal sy sê: ‘Mamma, dis agter my, ek is nou oukei.’ Maar sodra sy daarmee ophou, kan jy weer nie met haar praat nie, want sy kan jou nie hoor nie.

Ongelukkig hét die medikasie newe-effekte, soos dat jy gewig kan aansit en dit jou libido kan beïnvloed. Dit stomp jou ook af. Michéle het geleef vir haar kuns. Sodra sy gevoel het haar kreatiwiteit word gedemp, het sy opgehou om die pille te drink. Mense wat met die kursus volhou, sê jou kreatiwiteit kom terug, maar sy het dit nooit kans gegee nie. Ek het pal geworstel met skuldgevoelens. Ek het gevoel ek kon haar nog meer help, en ek het my bes probeer, maar jou geduld raak ook maar min. Ons kon dit nooit regtig verstaan nie. In ’n stadium het iemand in ’n ondersteuningsgroep voorgestel ek probeer tough love. Nadat my man in 1999 oorlede is, het ek haar ’n maandelikse toelaag gegee.

Ek het dit verminder om haar meer verantwoordelik te probeer maak. As sy so uitgehaak het, het ek haar probeer terughaak, maar dit was nie moontlik nie. Sy het impulsief, wisselvallig, roekeloos en uitdagend geword en irrasioneel geredeneer en opgetree.

Sewe jaar lank was sy op die spreekwoordelike rollercoaster. Haar emosionele toestand het letterlik gewissel van hemelse saligheid tot die vure van die hel, en dis ook in haar kunswerke weerspieël. Die intensiteit van haar lewe loop soos ’n  smeltwarm ketting deur haar skeppings, wat ’n mens aangrypende insig gee in die mag van die siekte. Dit was ’n seën en ook ’n vloek.

Van haar familie en vriende het haar begin vermy, want hulle het nie geweet wat om te verwag nie, sy was so onvoorspelbaar. Dit het net afgehang van wat die golwe in haar brein die dag doen. Die een spesialis het dit so mooi verduidelik: Ons weet dis ’n wanbalans in die brein. Die vloeistof tussen die linker- en regterbrein is heeltyd in beweging. As sy alkohol of dwelms gebruik, veroorsaak dit nie golwe nie, maar reuse branders. Die litium hou daardie waters kalm.

’n Paar dae voor haar dood het sy my gevra om na haar toe te kom. Ek het ’n swaar verkoue gehad en het nie kans gesien om oor die berg na haar toe te ry nie. Sy het ’n tweede keer gebel en ons het ’n afspraak vir die Woensdag gemaak. Maar  daardie Dinsdagoggend, op pad om Redy by die skool af te laai, het haar motor van die pad geloop en in ’n sloot beland. Redy het alleen haar dood aanskou. Hulle was onafskeidbaar. As ek nou na hom kyk, sien ek haar sagtheid.

Later het ek by haar laaste dagboekinskrywings gesien sy was gereed om haar lewe om te draai – dit was dalk wat sy so dringend vir my wou sê. Tot my spyt ken ek my dogter vandag baie beter as ooit tevore.

Ek het baie lesse by haar geleer: om nie mense op hul baadjie te takseer nie. Sy het altyd gesê jy moet eers in iemand se skoene loop voor jy hom oordeel. Sy het my geleer om meer verdraagsaam te wees. Ek het nooit besef hoe produktief sy was nie tot ná haar dood, toe ek al haar goed begin bymekaar maak.

Jy kan nie glo wat sy in daardie paar jare vermag het nie. Haar werk is pas in die Sasol-kunsmuseum op Stellenbosch uitgestal. Ek weet dit sou haar ideaal wees om haar werk in so ’n top-kunsmuseum te sien.

*A Life Interrupted – The Story of Misjke. Positive Image, Paarl, 2008. Beskikbaar by die skrywer, tel. 021 872 2762.

Wat is bipolêre depressie?

Dis eens maniese depressie genoem en word deur erge gemoedskommelings gekenmerk. Jy is by tye baie depressief, maar raak soms “hoog” (sonder dwelms).  Dis grootliks ’n genetiese toestand wat chemiese veranderinge in jou brein veroorsaak.

Danksy volgehoue navorsing is daar die afgelope dekade baie meer daaroor geleer. Kenners besef nou heelwat meer mense ly aan dié siekte as wat eers geglo is.

Dit word met medikasie behandel en jy kan dan ’n normale lewe lei. Dít hang egter van verskeie faktore af, soos die graad van die siekte, hoe jy op die behandeling reageer en of daar faktore is wat dit vererger. Baie mense sukkel byvoorbeeld om vrede daarmee te maak en neem nie hul medisyne gereeld nie.

Simptome in die bedrukte fase sluit in: veranderinge in slaappatroon, eetlus en gewig, swak konsentrasie, lae dryfkrag en energie, gevoelens van waardeloosheid, selfmoordgedagtes, die onvermoë om dinge te geniet en skuldgevoelens.

En in die “hoë” fase: jy slaap minder as gewoonlik, praat meer, jou gedagtes vloei vinniger, jy sukkel om op een ding te konsentreer, het meer dryfkrag en raak betrokke by aktiwiteite wat skadelik kan wees (gee te veel geld uit, seksuele eskapades). – Lydia van der Merwe

Bron: Dr. Piet Oosthuizen, psigiater van Stellenbosch en skrywer van Ontsnap van depressie (Tafelberg, 2007)

’n Ma se raad

  • Aan ouers: As jou tiener “vreemd” begin optree, moenie dit net skouerophalend as puberteit aanvaar nie. (Uiteraard is dit soms net ’n tienerfase, maar jy ken ook jou kind.) Kyk dus dieper, gaan jul familiegeskiedenis na, gaan saam met jou tiener vir berading, al protester hy – en die psigiaters of terapeute.
    Probeer self kennis opdoen oor bipolêre gemoedsteurnis – ouers het meer tyd vir  en belang by hul kinders as die medici. Daar is goeie boeke oor hierdie siekte, maar omdat dit soveel fasette het, is dit nodig om verskillende boeke te lees.
    Die groot ding is: liefde, nog liefde en verdraagsaamheid. Jou kind kan homself nie help nie, jy kan hom ook nie self help nie – net medikasie en terapie kan. Onthou, hy ly nog meer as jy. En as jy soms ongeduldig raak, moenie skuldig voel nie, dit is bloot menslik.
  • Aan dokters, psigiaters, beraders en terapeute: Betrek die hele gesin by  besprekings met en oor die pasiënt. Daar is nie verniet soveel akteurs en aktrises in Hollywood wat bipolêr is nie. Mense met dié siekte is oortuigende akteurs, soos soveel staatsmanne, en kan jou maklik ’n rat voor die oë draai!
  • Aan die lyers van bipolêre gemoedsteurnis: Dit mag beskou word as ’n vloek, maar dis ook ’n seën, want julle is tot baie meer en hoër hoogtes in staat as die gewone mens. Jul brein is veel fyner besnaard en baie ontvankliker. Ja, dit is ’n bitter stryd, maar jy kan met medikasie en terapie oorwin.

UIT: SARIE, Januarie 2009