FOTO Instagram (@solarimpulse)

FOTO Instagram (@solarimpulse)

Het jy gehoor?

Hulle vlieg sonder petrol & SA’ner ’n Avonturier van die Jaar 2016!

National Geographic kies elke jaar 10 avonturiers vir hul Avonturier van die Jaar-kompetisie. En vanjaar is ’n Suid-Afrikaner een van hulle! Hierdie tien is werklik inspirerend en deur navorsing, liefdadigheid en wetgewing verander hulle die wêreld. Boonop sal hulle jou lus maak om jou tekkies aan te trek en ook ’n avontuur aan te pak.

Die Solar Impulse 2, die eerste vliegtuig wat met die hulp van sonkrag om die wêreld gevlieg het, het eergister in Abu Dhabi geland. Die vlieëniers, Bertrand Piccard en André Borschberg, is onder National Geographic se Top-10 Avonturiers van 2016.

Jy kon vir jou gunsteling-avonturier stem, maar die wenner is reeds gekies, en sy is ’n vrou: Pasang Lhamu Sherpa Akita, die bergklimmer van Nepal!

Daar is ook ’n Suid-Afrikaner op die lys: dr. Steve Boyes, ’n bewaringsbioloog wat bekend is vir sy navorsing oor en ekspedisies na die Okavango-delta in Botswana.

Solar Impulse 2 vlieg om die wêreld

Bertrand Piccard en André Borschberg het op 9 Maart 2015 opgestyg in Aboe Dhabi, hoofstad van die Verenigde Arabiese Emirate, en uiteindelik eergister weer met die Solar Impulse 2 by die lughawe in Aboe Dhabi geland om hul vlug om die wêreld te voltooi. Die Solar Impulse 2 gebruik geen petrol nie, dit word net deur sonkrag aangedryf. Die vliegtuig is groter as ’n Boeing 747, maar net so lig soos ’n motorkar. In die dag vlieg dit op sy hoogste, maar in die aand ná die son gesak het, vlieg dit op ’n hoogte van sowat 5 000 voet (bietjie meer as 1,5 km) met die hulp van batterye.

Piccard en Borschberg het in Maart 2015 uit Aboe Dhabi vertrek, in Julie verlede jaar op Hawaii geland en vanjaar op 21 April weer uit Hawaii weggespring voordat hulle eergister in Aboe Dhabi geland het.

Hier is die National Geographic-video as deel van die Top-10 Avonturiers van 2016:

Steve Boyes van Suid-Afrika

Dr. Steve Boyes beskryf die Okavanga-delta as “die kloppende hart van die hele planeet”. Die Okavango-delta is in 2014 deur UNESCO as ’n Wêrelderfenisgebied verklaar.

Met die hulp van National Geographic was Steve en ’n groep navorsers in 2015 vir vier maande op ’n ekspedisie om navorsing in te samel oor die Okagango-vleilande. Hulle het in September by die Delta aangekom en agt nuwe visspesies ontdek, asook twee moontlike soogdiere.

Vanjaar gaan Steve terug na die Cuito-rivier, een van die twee groot riviere wat na die Okavango-delta vloei. Kyk uit vir die November-uitgawe van National Geographic vir ’n volledige storie oor Steve.

Jy kan hom ook op Instagram volg of selfs die Okavango Ekspedisies volg.

Hier is die National Geographic-video as deel van die Top-10 Avonturiers van 2016:

Vrou wen Avonturier van die Jaar!

Pasang Lhamu Sherpa Akita het in Nepal grootgeword, reg teen die hange van die berg Everest.

Die 31-jarige klimmer het haar land gehelp en mense gemobiliseer ná die aardbewing wat Nepal, die tweede armste land in die wêreld, in April 2015 getref het. Lees haar storie hier.

Hier is die National Geographic-video as deel van die Top-10 Avonturiers van 2016:

Lees meer oor die ander finaliste hier.

Bron: National Geographic

Lees nou

Ons gunsteling Instagrams vir Aardedag!

Avonturier reis 34 820 km met lugballon

Afbeen-avonturier Lewis Pugh Rusland toe