Chris Chameleon
Het jy gehoor?

’n Voorsmakie van Chris Chameleon se nuwe album

Ek  het vanoggend so ‘n klein voorsmakie gehad van Chris Chameleon se eerste gospel-CD, Herleef. Hy het ‘n paar van sy gunsteling-psalms en -gesange getoonset. Maar moet net nie dink dit klink enigsins soos die ou wysies wat jy ken nie. Chris het almal op sy eie manier getoonset en bowendien het hy verskillende genres gebruik, van ballade tot ‘n volbloed rock-nommer. Landpsalm, gesang 36, is vir my die mees aandoenlike lied. Chris sing dit saam met Laurika Rauch, Theuns Jordaan, Bobby van Jaarsveld, Loyiso Bala, Neville D én die Soweto Gospel Choir.

SARIE-lesers kan ook ‘n voorsmakie kry van Chris se CD wat volgende op die winkelrakke sal wees. Luister hier na “Landpsalm”: https://soundcloud.com/chrischameleon/landpsalm

Wat sê Chris oor dié album?

Ek het besluit om ’n paar van my gunsteling-psalms en -gesange op te neem. Nie net omdat hulle langsamerhand verdwyn uit ons algemene lofprysinge nie, nie net omdat ek nog altyd wou hoor hoe hulle sal klink as ek hulle opnuut toonset nie, nie net omdat hulle my gedagtes terugvoer na die dae van suiwer geloof sonder die vrae van my volwasse verstand nie, maar omdat hulle van toe tot nou my siel roer en my in ’n intieme gesprek bring met my Skepper.