FOTO: Aubrey Jonsson

Het jy gehoor?

Nadia Valvekens gesels oor die liefde – Deel 2

Lees die eerste deel van dié onderhoud HIER.

Nes Pippa, leer Nadia ook op haar voete. “Ek dink ek was dikwels ’n bietjie naïef, en ek het dít verlede jaar besef,” sê sy. Sy skud haar kop en vee dan ’n blonde sliert agter haar oor glad.

“Ek wil altyd die mooiste in mense sien en die beste van hulle glo. Eintlik het ek die lewe en verhoudings soos ’n kind benader. Dis ’n tweekantige swaard, want ek dink dis mooi om die goeie raak te sien, maar aan die ander kant was ek al teleurgesteld oor die dinge wat ek ander mense toegelaat het. ‘Nee’ is soms ’n goeie woord. As jy alles toelaat, bekruip teleurstellings jou soos ’n dief in die nag; terwyl jy nog in die goeie glo, sien jy nie die sleg van ’n situasie raak nie en dit kan jou swak maak. Jy laat dus ’n bietjie van jouself gaan as jy te maklik ja sê vir alles.”

Tog glo sy steeds in die silwer randjie om elke wolk. “Ek glo daar is ’n rede vir alles, dat almal wat oor jou pad kom jou iets leer.”

So shoot me, ek’s ’n optimis, oukei!

“Ek wil aan die positiewe vashou. Ja, slegte dinge gebeur, maar mý probleme is beslis nie die uitsondering op die reël nie en erger dinge gebeur daagliks met ander mense. Jou ingesteldheid in die lewe moet altyd wees om weer op te staan.”

FOTO: Aubrey Jonsson

FOTO: Aubrey Jonsson

Maar om op te staan en aan te gaan met ’n positiewe houding neem tyd. Dit is in haar aard, sê sy, maar wanneer sy deur moeilike tye gaan, neem dit ’n rukkie om weer daardie balans te vind.

“Ek is geneig om dinge te dissekteer. Ek bekyk my lewe met ’n mikroskoop. Ek soek my eie rol in elke teleurstellende situasie en eien dit dan. Dis moeilik om die foute in jouself en jou optrede te sien en te erken, maar dis nodig. Eers dán kan jy jouself afvra: ‘Hoe gaan ek seker maak dit gebeur nie weer nie?’

“En dan vergewe jy jouself en wie ook al anders ’n rol gespeel het. Jy aanvaar dit, al vergeet jy dalk nie so maklik nie. Groot gebeurtenisse in die lewe, en die uitsorteerproses daarna, stamp jou soms van balans af, maar dan vind jy dit weer. Terugslae maak waarlik ’n vuur onder my agterstewe!”

Daardie vuur word gepak met introspeksie, ’n behoefte om beter te wees, en wilskrag om aan te gaan, sê sy. “Dit sal in elk geval tragies wees as jy niks uit die moeilike dinge in jou lewe leer nie. Ek glo vas jy moet die les gaan soek en dit ter harte neem. As jy dit nie nóú doen nie, gaan die lewe dieselfde ding weer oor jou pad stuur totdat jy wél die les leer.”

Sy trek haar skouers op. “Jy kan egter nie aanhou om te dissekteer en in die donker plek te leef nie. Laat dit gaan, en bevry jouself. Of dit nou ’n liefdesteleurstelling is, ’n vriend wat jou in die steek laat, ’n probleem by die werk of selfs as jy iemand aan die dood moet afstaan. Jy moet dit agter jou sit en glo jy en wie ook al betrokke was, is nou op ’n beter plek. “Ons almal is al op een of ander manier seergemaak en só word ons issues gebore. Werk aan dit wat jy kan, aanvaar die res, en omring jouself met mense wat jou ook so kan aanvaar.

FOTO: Aubrey Jonsson

FOTO: Aubrey Jonsson

“Jy kan nie almal se maatjie wees nie, want ons praat ander tale, maar jy kan hulle naby jou toelaat. Ek sal met enigiemand gesels, maar net sekere mense nooi vir ’n koppie tee.”

Nadia sien haar nie gou voor die kansel soos Pippa nie. “Ek het vanjaar besluit ek gaan goed wees vir myself. Ek gaan gim, gesigbehandelings kry, teater toe gaan, boek lees en net in die algemeen meer dinge doen waarvan ek hou. Wanneer ek vrye tyd het, wil ek dit gebruik om konstruktief te wees en na myself om te sien eerder as om net op die bank te lê en lui wees. Ek wil meer tyd met die spesiale mense in my lewe deurbring, ek wil teaterwerk doen en in rolprente speel, ek wil gelukkig wees. Dié jaar is mýne!”

*Dié onderhoud is in SARIE, April 2014 gepubliseer.