FOTO Aubrey Jonsson

Het jy gehoor?

Nadia Valvekens gesels oor die liefde – Deel 1

Nadia Valvekens se gewilde karakter in Binnelanders, Pippa, het liefde gevind in die arms van haar Rian. Maar in die regte lewe verwerk Nadia die stampe en stote wat die wêreld haar toedien. Sy het met SARIE* oor haar liefdeslewe gesels.

Elke jaar bring nuwe lewenslesse, sommige daarvan hárd om te leer, en vir bekendes werk dit nie anders nie.

Ons ken die aktrise Nadia Valvekens as Pippa in die kykNET-sepie Binnelanders – die sprankelende blondine wat die lewe se moeilikhede makliker laat lyk. Sy kry haar sprokies-einde wanneer sy en haar sepieliefde, Rian Malherbe (vertolk deur Erik Holm), uiteindelik ná baie struikelblokke ewige trou aan mekaar beloof.

In die regte lewe, agter die skerms, verwerk Nadia egter die lewe se “sprokies” én sy stampe en stote nes enige ander mens.

“Soms is die stampe hard genoeg dat jy voel jy wil net bly lê, maar waar die heelal een deur toemaak, word tien nuwes oopgemaak.”

Moeilike dinge laat my altyd besef ek is sterk, en dat ek sál opstaan – ’n beter mens as voorheen

Verlede jaar het sy laagtepunte gehad, erken Nadia, en rus met ’n skewe glimlag haar ken op haar vuis. Soos toe haar vier jaar lange verhouding op die rotse beland het. Maar ook baie hoogtepunte. “Ek het herontdek wat my gelukkig maak. Ek het geleer om uit my maag te lag, en om die wonderlike mense in my lewe te waardeer.”

Die sprankel wat ons in Pippa op die skerm sien, is nie aangeplak nie. Nadia is ’n borrelende mens met ’n positiewe uitkyk.“Aan die einde van 2013 het ek my sprankel teruggekry. Die lewe as enkellopende doen my goed, dink ek. Ek het weer ’n liefde vir myself ontdek en my warmte teruggekry. Selfs my kollegas en vriende merk dit op – hulle sê ek skitter weer!”

FOTO: Phyllis Green

FOTO: Phyllis Green

Soos ’n romantiese rolprent het haar selfontdekkingsprokie boonop in Parys, Frankryk, afgespeel. “Ek en my sus, Natasha, is einde verlede jaar Parys toe en daarna het ek ook vir ’n vriendin in Engeland gaan kuier. “Parys het soveel ongelooflike plekke om te besoek, maar my gunstelinge was Versailles, waar my mond oopgehang het oor al die weelde, en natuurlik die Eiffel-toring. Ek en Natasha het in die bitter koue selfs opgegaan, maar dit net tot by die tweede vlak gemaak voor ons moes weghardloop van die koue.

“Wat ’n wonderlike stad om jouself weer te vind! Dis nie verniet die stad van liefde nie. “Ek was vir jare in verhoudings en jy verloor uiteindelik ’n deel van jouself – jy tref kompromie na kompromie en dan moet jy weer ná die tyd jou onafhanklikheid vind en onthou wat jou eie wense en liefdes in die lewe is. Ons vroue sorg so graag: ons beur op, gee en streel ’n ego waar dit nodig is. Maar jy moet onafhanklik kan wees. Die ou gesegde ‘twee halwes maak nie ’n hele nie’ is so waar. Twee mense moet eers volle, onafhanklike entiteite wees voor hulle as ’n span kan saamwerk.”

Op 31 voel Nadia sy is meer mens as ooit tevore. Voor 30 het sy gestoei met die vrae wat die meeste mense in hul laat 20’s konfronteer: Wie is ek? Waar pas ek in? Wat gee ek as mens? Wat beteken my werk? “Daar was baie vrae,” sê sy, en rol haar oë.“Maar eindelik het ek besef ek is wie ek is, en dis oukei, ek is gelukkig met myself.

“Dankie tog ek is nou op hierdie ouderdom! Ek het meer insig as in my 20’s en ek het ’n beter lewensbenadering in die algemeen. Soms voel ek steeds ’n bietjie verlore, maar ten minste weet ek wie en wat ek is en dít sal nooit verander nie. Dit laat jou veiliger voel, want jy weet as die pad ’n bietjie duister raak, gaan jy dit makliker weer kan vind.”

Haar karakter in Binnelanders struikel ook soms, maar sy staan sterker op, en dit laat Nadia met haar identifiseer. “Pippa het ook maar al baie teleurstellings gehad. Ek hoop regtig nie fantasie spoel oor in die regte lewe nie – dit sal ’n bummer wees!” lag sy.

FOTO: Aubrey Jonsson

FOTO: Aubrey Jonsson

Maar sy het nog nooit toegelaat dat haar eie gevoelens oorspoel na haar werk, of andersom, nie. “Dis ’n werk soos enige ander. Realiteit en fantasie is nie dieselfde nie en jy moet ’n streep trek wanneer jy by die ateljee uitstap. Dit sal tragies wees om in jou eie lewe ook te moet voorgee.

“Pippa het wel ook foute gemaak en daaruit geleer. Nou is sy in ’n grootmens-verhouding met Rian Malherbe. Hy’s haar beste vriend, respekteer haar, is lief vir haar. En sy vir hom – sy sien hóm raak en nie sy gestremdheid nie.” (Rian is in ’n rolstoel.)

Dié soort liefde is wat Nadia in haar eie lewe ook sal wil hê.

Sy het nooit as klein dogtertjie haarself voor die kansel sien staan nie, en trou is nie vir haar ’n prioriteit nie, sê sy.“Maar never say never. Ek dink ’n belofte is ’n belofte sonder ’n ring, maar ek is beslis nie gekant teen trou nie. “’n Vriendin het vir my vertel sy en haar man is baie gelukkig en lief vir mekaar, maar dis steeds nodig om elke dag op te staan en daardie mens weer van voor af te kiés as jou lewensmaat. Dit gebeur nie net vanself nie – dis ’n keuse om saam te wees soveel as wat dit die liefde is wat jou bind.

“My oogklappe het ook afgekom. Die liefde kom nie altyd met die eerste oogopslag nie, en daardie gevoel gaan in elk geval nie altyd bly nie. Die liefde moet geduldig en goedhartig wees in enige verhouding – vriende, familie en verliefdes. Dit moet uit ’n plek van respek en vriendelikheid kom. Almal is net mens en kan net soveel aan hulself verander.”

Lees HIER verder wat Nadia se filosofie oor die liefde is ….

*Dié onderhoud is in SARIE, April 2014 gepubliseer.