FOTO: Mary Ann Bosch

FOTO: Mary Ann Bosch

Het jy gehoor?

Nageboorte-depressie: Henré Pretorius se Nadine ‘lééf weer’

Ná die geboorte van haar tweede én derde baba was sy in die diep, donker gat van depressie – iets waaroor sy moeilik gepraat het. Maar nou wil Nadine, vrou van die akteur en TV-aanbieder Henré Pretorius, ander ma’s moed gee met haar storie.

Terwyl haar bekende TV-man, Henré Pretorius, sy drome uitgeleef het, het Nadine le Roux stilweg ná die geboorte van haar tweede kind van haar eie drome begin vergeet.

Min het sy geweet sy’t postnatale depressie, nóg minder dat sy dit ná haar derde baba wéér sou moes deurmaak. Boonop in ’n tyd wat kanker die familie geruk het. Henré se broer, Herman, is in 2009 oorlede aan testikulêre kanker, twee jaar later is haar pa, Chris, oorlede en kort daarna het Henré se ma, Jeanette, kolonkanker gekry. Sy is nou in remissie.

Vandag is dié ma van drie pragtige seuntjies, Liam (5), Heath (3) en Finn (18 maande), weer haar ou self: gelukkig en vol lewenslus. Sy het selfs haar eie onderneming saam met twee vriendinne begin om Yzerfontein te bemark, die dorp aan die Weskus waar die gesin sedert begin 2012 woon.

Dis moeilik om te erken jy’t postnatale depressie, want moederskap moet mos natuurlik kom en ’n gelukkige ervaring wees. Maar dis nie vir almal so nie

- Nadine

Haar boodskap: Dit sal verbygaan – sorg dat jy betyds mediese hulp kry.

‘Ek is weer my ou self’

As jy my vandag vir die eerste keer ontmoet, sal jy dit moeilik vind om my te vereenselwig met die vrou van skaars ’n jaar gelede … in ’n diep, donker gat van depressie. Waar jy voel jy wil jou eie kind nie hê nie.

Ek het nooit gedink depressie kan jou so knak nie, of selfs dat iets soos postnatale depressie bestaan nie. Nie een van my swangerskappe was maklik nie. Met die eerste een is plasenta praevia by my gediagnoseer. (Dis wanneer die baba se plasenta die ma se serviks gedeeltelik of heeltemal toemaak, wat erge bloeding voor of tydens geboorte kan veroorsaak. ’n Keisersnee is in so ’n geval die veiligste manier om te kraam.)

Ek is met my eerste swangerskap drie keer en met die tweede een vyf keer in die hospitaal opgeneem. Ons het tóé nog in Johannesburg gebly, met al ons familie in die Kaap, dus was dit vir my baie stresvol. Ons moes op vriende staatmaak vir ondersteuning, en net ’n handjievol van hulle het al kinders gehad.

Ná my oudste se geboorte was ek oukei, maar die aanpassing van een na twee kinders was oorweldigend! Liam was 22 maande toe Heath gebore is en baie lief vir sy nuwe boetie, maar hy kon nie verstaan dat ek nou soveel aandag aan die kleintjie gee nie. Henré het baie gehelp, maar hy moes heeltyds werk.

Ek het my eie onderneming wat geleentheidsbeplanning doen in Johannesburg gehad, maar my vennoot het nie kinders gehad nie en nie regtig begrip vir my situasie en die stres waaronder ek was nie. Nogtans het ek probeer aanhou werk.

FOTO: Mary Ann Bosch

FOTO: Mary Ann Bosch

Ek het gevoel ek het nie genoeg hande nie. Heath het boonop koliek gekry. Ek sou die meeste aande op die sitkamerbank sit met ’n gillende, huilende Heath, terwyl ek self net so hard huil omdat hy nie wil slaap nie. Ek het skuldig gevoel omdat ek nie genoeg aandag aan Liam kon gee nie. Ek het nie krag gehad om na myself te kyk nie. Ek was heeltyd moeg, kwaad én hartseer. Dit het my gebreek. Ek was nie lus om na die babas om te sien nie, wat my laat skuldig voel het. Ek het hulle begin verwyt. Elke keer wanneer iemand vir my gesê het ‘dit sal oorwaai’, het ek ontplof.

Toe Heath ses weke oud was, het ek vir ’n roetine- ginekologiese ondersoek gegaan en sommer in trane uitgebars. Die ginekoloog het ’n antidepressant voorgeskryf en voorgestel ek kom terug as ek nie beter voel nie. Ek’s skepties oor medikasie, maar was desperaat om weer soos ’n mens te voel. En ná ’n week het ek reeds begin beter voel. Tog was dinge steeds moeilik.

Heath het die eerste ses maande byna heeltyd gehuil en sou snags elke uur huilend wakker word. Ons was by verskeie dokters, maar hulle kon niks erger as koliek vind nie. Intussen het ek my werk opgegee om op my gesin te fokus en te probeer cope.

Eers toe Heath begin deurslaap, het dinge verbeter. Ek het stelselmatig die pille gelos. Teen sy eerste verjaardag was ek weer vol lewenslus en in beheer van my emosies. Ek was so bly dis verby, ek kon aangaan met my lewe!

Sowat ’n jaar en ’n half later, in Februarie 2012, het ons Yzerfontein toe verhuis. Ons was skaars ’n maand in die nuwe huis, toe vind ek uit ek’s swanger met Finn. Ná sy geboorte was die eerste maand gewone pajamadril, hy was stroopsoet. Maar toe kry hy ook koliek en my lewe word weer ’n nagmerrie.

Finn wou nie slaap nie, en as hy wel geslaap het, het hy elke uur wakker geword en net gehuil. Toetse het geen groot fout gewys nie. Ek onthou nog hoe ek een oggend, op my verjaardag in Januarie verlede jaar, vir Finn na ’n inkopiesentrum op Vredenburg geneem het om net weg te kom. Ek het die hele uur tot daar, in die sentrum én in die kar terug gehuil. Ek het oorweldig en moedeloos gevoel. Ek was ’n wrak: 36 jaar oud, drie babas in vier jaar, weer in ’n diep, donker gat.

Ek was ontsettend moeg. Ek’t soos ’n slegte ma gevoel en myself blameer omdat ek nie lus was om na Finn te kyk nie. Boonop skuldig gevoel omdat ek nie baie aandag aan my twee ouer kinders gee nie. Hartseer, kwaad, moeg. Hééltyd.

Ek het my ginekoloog gevra om my deur die proses te help. Sy’t vir my dieselfde antidepressante voorgeskryf en dié keer het ek enkele dae later weer mens gevoel. Die negatiewe emosies van verwyt, skuld en hopeloosheid het verdwyn en ek het weer kans gesien vir die versorging van my kinders.

Arme Henré moes in dié tye laaste in die ry staan vir aandag. Dis dalk nou nog so, want ons het drie woelige seuntjies. Hy was van die begin af my rots. Hy’t my ondersteun, gehelp wanneer hy kon, hulle gebad, aangetrek en ook saans opgestaan. Hy’s ’n wonderlike, betrokke pa.

My depressie het ’n groot impak op ons huwelik gehad. In die begin was ek in ’n donker plek en kon nie met Henré praat oor my gevoelens nie. Dis moeilik vir jou man om te verstaan. Ons het vasgesit, dinge was nie altyd maklik nie. Dit bly maar ’n uitdaging.

Postnatale depressie kan ’n verhouding kelder, maar in ons geval is ons verhouding versterk omdat ons boonop saam deur swaar tye is met die siektes in ons families. Ek dink al dié trauma het bygedra tot my depressie, maar dit het ons ook geleer om mekaar te ondersteun. Ek kon altyd op hom staatmaak. Toe die medikasie begin werk en ek weer positief voel, kon ek ook beter met hom kommunikeer.

’n Paar maande gelede het ek die antidepressante probeer los, maar ek kon nie cope nie. Ek het ’n week lank net geslaap en het nie eens krag gehad om uit die bed uit op te staan nie. Eers sowat drie maande gelede kon ek die medikasie staak, nadat die dosis stelselmatig verminder is.

Die medikasie het beslis gehelp dat ek weer my lewenslus terugkry. Tog moes ek myself ook dwing om iets te doen wat my weer passievol oor die lewe maak, nuttig en vervuld laat voel, al vervul moederskap my en is ek baie lief vir my gesin.

Ek het saam met twee vriendinne, Christéle Breedt en Eldré Strydom, ’n bemarkingsmaatskappy, I Love Yzer, begin. Ons reël toerisme-geleenthede, soos konserte en feesmarkte, en bestuur ons eie tydskrif, I Love Yzer Darling, om Yzerfontein te bemark.

Dis lekker om te weet my bydrae maak ’n verskil. Dit gee my nuwe energie om uit die bed te klim. Elkeen van ons wil voel ons bereik iets in die lewe waarop ons kan trots wees. Ek is nou so besig met kinders, man en besigheid dat ek nie tyd het om jammer te voel vir myself nie!

Ek wil vir ander ma’s sê: Moenie moed verloor nie, soek hulp.

As jy voel asof jy jou baba wil gaan ‘teruggee’, moenie jouself verder martel nie, gaan dokter toe. Die medikasie wérk en jy het dit nie vir altyd nodig nie. Probeer om nie jou man af te skeep nie, sê vir hom jy waardeer sy hulp en liefde. Maak tyd vir hom. En onthou: dit sál verbygaan …

*Die verskil tussen baby blues en postnatale depressie – lees hier.

Bertha le Roux Julie 2014 jul july** Dié artikel het oorspronklik in ons Julie-uitgawe verskyn. Dit is ongelukkig nie meer op die rak nie, maar jy kan dit HIER digitaal koop.