Almé Engelbrecht

Almé Engelbrecht

Het jy gehoor?

Nasa hier kom ek!

Almé Engelbrecht, een van net 50 jongmense wêreldwyd wat gekies is vir opleiding by die ruimte-agentskap Nasa, vertrek op 15 Julie vir twee weke na Houston, Texas. Sy gaan onder meer leer hoe om ’n ontdekkingstog na Mars te beplan. Hul tema is “Manned mission to Mars.” Dié 17-jarige van Wellington is mal oor wetenskap en word sedert kleintyd gefassineer deur die ruimte. “Ek en my pa het altyd lê en sterre kyk. Op ‘n tyd het ek ‘n plastieksak vol sente gehad met die hoop om ‘n teleskoop te koop. My pa het gesien ek stel belang en het toe vir my een aangeskaf.” Almé sien daarna uit om aan verskillende wetenskappe blootgestel te word, baie te leer en nuwe mense te ontmoet, “dalk selfs ’n ruimtevaarder!”

Almé Engelbrecht

Almé Engelbrecht

Dinge het baie verander sedert die dae toe wetenskap as ‘n “seunsding” beskou is, vertel sy. “Daar is baie vroue wat al ‘n verskil in die wetenskapwêreld gemaak het, maar dit word ongelukkig nie altyd erken nie. Margaret Hamilton het die eerste sagteware geskryf gedurende die Apollo 11 missie. Dit het gelei tot die verdere ontwikkeling van sagteware soos ons dit vandag ken.”

Sy wil nie self eendag Mars toe gaan nie, maar “ sal baie graag betrokke wil wees by die voorbereiding en uitvoering van die missie.”

*Divan Beukman (16) van Pretoria, is die enigste ander Suid-Afrikaner wat gekeur is vir die Nasa-opleiding.

Almé Engelbrecht

Almé Engelbrecht