natalie du toit
Het jy gehoor?

Natalie du Toit deur koningin Elizabeth II vereer

Die Paralimpiese swemmer Natalie du Toit is internasionaal vereer vir haar bydrae tot Paralimpiese sport. Dié titel is op Vrydag 27 September deur koningin Elizabeth II van Brittanje aan haar gegee. Sy het die titel Member of The Most Excellent Order of the British Empire gekry vir haar bydrae tot Paralimpiese sport.

Natalie het gesê sy voel baie geëerd om dié toekenning van die koningin te kon ontvang.

Lees die volledige artikel op Beeld.com

SARIE het in 2009 met Natalie oor haar hoop, vrese en drome gesels:

EK HOOP

ek is ’n instrument om talentvolle sportlui, veral swemmers, in die land te hou. Ons verloor só baie mense wat weens ’n gebrek aan geriewe na Amerika of Engeland gaan. Ek wil dié droom deel met die minister van opvoeding, Naledi Pandor, en die minister van sport en ontspanning, Makhenkesi Stofile. Sport bring eenheid en bou ’n nasie. Ons is ’n wennasie en die talent is hier.

op ’n nuwe kunsbeen om mee te hardloop. Die afgelope sewe jaar, sedert die ongeluk waarin ek my linkerbeen verloor het, kon ek nie hardloop nie. Dís my volgende doelwit. Oor tien jaar wil ek vinnig agter my hond kan aanhardloop!

die kinders van ons land sal eendag sorgvry in die straat kan speel en na die naaste petrolstasie loop en roomys koop sonder dat hulle bang is iemand val hulle aan. Dat ons gemeenskap geweld, misdaad en kindermishandeling sal beveg en dat die jeug hul rol sal speel om SA op te bou.

EK IS BANG

dat ek in ’n rolstoel sal wees as ek ouer is en nie meer sal kan doen wat ek nou doen nie.

as ek nie altyd kan bybly by ander swemmers as ons toer in Europa nie (soos om op en af van die bus te klim). Dit laat my soms “af” voel as ek nie altyd byhou met my oefenprogram nie. Dan dink ek myself déúr my program, bel of SMS my ma of ’n vriendin vir ’n bietjie “warmte” en probeer aanbeweeg. Of ek swem dit “weg”. Ek is baie mededingend. Swem is my lewe. Ek wou ’n Olimpiese swemmer wees vandat ek klein was.

as ek dink ek gaan nie my drome verwesenlik nie. Maar ek is baie dankbaar oor dié drome wat ek reeds bereik het.

om my gesin te verloor. Hulle is alles in my lewe. Hul aanmoediging maak dit vir my makliker om my vrese te oorkom. Maar in ’n kompetisie is jy alleen. Dan moet jy jou eie angs bemeester.

WAT EK GELEER HET

Die lewe verander binne sekondes. Leef elke dag ten volle en leer elke dag wat jy kan. Deel jou kennis met ander sodat hulle ook húl kennis aan jou kan oordra. As jy daagliks empatie en ’n glimlag met iemand deel, het jy ’n verskil gemaak.

Dit neem baie energie om negatief te wees. As jy positief is, sien jy die wêreld in ’n ander lig. Daar is ’n rede vir alles wat gebeur en somtyds is dit moeilik om te verstaan, maar ’n mens moet geduld leer. Dan kan jy anders na dinge kyk. Ek probeer die beste wees wat ék kan en om nie myself met ander te vergelyk nie. Ek kyk objektief na myself en sien my goeie én swak punte raak. As ek hard werk en groot droom, kan ek ’n verskil maak – al is dit hoe klein.

Ek het nog nooit gevoel die lewe is baie swaar nie. Selfs nie ná my ongeluk in 2001 nie. Ek voel geseënd. Daar is soveel mense met régte probleme.

Die lewe is ’n inspirasie, terselfdertyd wonderlik en eienaardig. Dit bly ’n fassinerende raaisel. ’n Mens kan so baie by ander leer. Daar het al soveel onselfsugtige mense op my pad gekom. Hulle het my deur moeilike tye gehelp – bereid om na my te luister. Dít het my gehelp om te fokus op dié dinge wat ek goed kan doen.

Die moeilikste les in die lewe is om te leer om “nee” te sê.

Elke resies is anders. Ek doen my bes en leer iets uit elkeen. En ek hou net aan probeer. Ek is báie vasberade. Uitdagings laat my tiek. Selfs al is die resultate nie goed nie, dan beteken dit net ek moet my strategie herdink en nuwe dinge saam met my afrigter probeer. Ek beskou dit nié as mislukkings nie. Dis bloot ’n nuwe les.

Ek glo in dié woorde van Benjamin E. Mays: “Die tragedie in die lewe is nie om nie jou doelwitte te bereik nie, maar om nie doelwitte te hê nie.”