sariefees

FOTO Clinton Lubbe

Het jy gehoor?

Nataniël: 30 jaar in die bedryf

Op 1 Maart 1987 het Nataniël sy eerste enkelsnit bekend gestel. In die afgelope 30 jaar het hy hom gevestig as een van die voorste kunstenaars in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf. 

Nataniël is sedert Junie 2001 een van SARIE se rubriekskrywers.

Hier is sy heel eerste inskrywing uit SARIE, Junie 2001:

Die warm winter

Gegroet vanaf die skoon planeet!

Dis winter. Dis grys, yskoud en strak. Dis asemrowend. Hier op Kaalkop bepaal jy jou eie seisoen. Na gelang van jou gemoedstoestand, drome, energie, gesondheid of blote visuele voorkeur, kan seisoene binne sekondes verander of onbepaald voortduur. Daagliks staan twee Kaalkoppe en gesels terwyl die een somerweer geniet en die ander herfs.

Vir my is dit byna heeljaar winter. Die koue, die stilte, die skoonheid van reën, ys of sneeu het geen gelyke nie. Die wete dat die planeet onder jou voete besig is om te rus en diep in te asem vir die volgende keer dat hy weer sy feestelikheid deur die oppervlak stoot, bly vir my die onwrikbare bevestiging van die lewe, lus en luuksheid. En die grootste bederf vir enige sensitiewe wese: mooi, mooi, mooi klere.

Op aarde blyk dit dikwels die teenoorgestelde te wees. Soos die koue sy lê kom kry, só word die vrede vervang deur verkoues, depressie, aggressie, nat paaie, emosionele uitbarstings, gekraakte hakskene, ingehokte kinders en wreedheid van alle wreedhede: winkelsop.

Dus het ek dit goedgevind om met hierdie skrywe my ondervinding (en lekkerkry) te deel met alle winter-amateurs wat hierdie oorlog jaar in en jaar uit bly verloor. Ek kan volumes kwytraak oor hierdie vreugde, maar verklap vir eers die vyf groot geheime. Onthou en oorwin.

Gemmer – die geskenk van die gode en die afsku van verskeie onnoseles. Omring jou met hierdie juweel in enige vorm, in sjokolade, in koeke, brode en poedings, gepreserveer, versuiker en veral vars. Kneus dit en maak tee, kap dit fyn en roerbraai met hoender en klappermelk, gebruik saam met knoffel en grasuie as basis vir ’n helder sop … die moontlikhede is oneindig. Knou hierdie maand jou begroting en koop ‘n beeldskone gemmerpot uit die Ooste. Vul dit en plaas dit waar almal dit kan sien. Gebruik, geniet, genees.

Slaapklere – bevry jouself van die goedkoop T-hemp, die voos sweetpakbroek, die statiese jurk, die strepie-nagmerrie en die valletjies ramp. Belê in sy, wol en kasmier.

Leer jou lyf die weelde van snyerswerk, proporsies en ontwerp. Dra dit heelnag, dra dit heeldag, maak dit jou uniform.

‘n Gooilap – die simbool van tuiste, gemak, welvaart en bederf. Koop hom, maak hom, voer hom in, erf hom, ek gee nie om hoe jy jou hande op een kry nie, maar een maal per jaar moet jy die deksel afhaal, die sneespapier terugvou en hierdie veilige vesting uitlig.

Slaap daarmee, drapeer dit oor die sofa, hou piekniek op die vloer, dra dit opera toe, sleep dit saam van mylpaal tot mylpaal. Ek skaf elke jaar ’n splinternuwe een aan, elkeen mooier en meer eksoties as die vorige. Vanjaar is dit (fop!) silwergrys beervel, gevoer met geborduurde donkergrys sy, ontwerp en aanmekaargetoor deur James Edward Moulder, jong skepper van vele aanskoulikhede.

Onthaal – as jy dan binnenshuis moet verkeer, maak dit grereeld ’n okkasie. Onthaal het niks te doen met geld, moeite, ongemaklikheid of self gaste nie. Onthaal jouself, jou gesin, jou personeel, wie ook al jou drumpel betrap. ’n Groot vuur, ’n bottel wyn, ’n plank met kaas en brood, ’n skottel met ‘n warm ding, vars bos blomme of kruie, ’n bondel kerse, lekker vreemde musiek en die uitrusting waarvoor jy nog bang was – kombineer enige van hierdie eenvoudige elemente (of alles) en jy het ’n fees. Doen dit die volgende dag weer.

Vergeef – Maak vrede met iemand. Geen verwarmer of duur ontwerperskaggel kan warmte bring (en laat bly) soos ’n vredesverklaring nie. Gee vergifnis of vra om verskoning. Skryf ’n brief, skakel ’n nommer, stuur ’n bode of kyk in die spieël. Kwaad hou koue soos geen ander medium. Dis soos uitvee – begin by jouself, jou gesin, wie ook al, en werk na buite. Spoor die kind op wat ’n dekade terug by die skool hel gegee het, glo my, hy of sy kan dit onthou. Maak skoon, een per winter.

Goeie wense.

Nataniël se viral-toespraak

En Nataniël weet hóé om woorde te gebruik om emosies te roer. Toe hy verlede jaar by die Huisgenoot-Tempo-toekennings vereer is as Afrikaanse Erfenislater, het hy ’n pragtige toespraak gelewer.

Hy het sy mooi woorde met ons gedeel en dit het viral gegaan.

Hier is ’n gedeelte van sy toespraak:

Sukses is dalk vir mense ’n goue plaat of ’n vol tent, vir my is dit geluk. Die grootste les wat ek ooit geleer het, is dat kwaliteit en geluk bepaal word deur hoe naby jy in jou leeftyd kom aan jou roeping, iets wat weens omstandighede nie vir almal beskore is nie.

 

Lees die volledige toespraak HIER.

Nataniël beantwoord jóú vrae

… by die SARIE fees! Moenie die geleentheid misloop om vir Nataniël oor etiket te vra tydens sy praatjie by die SARIE fees nie!

SARIEfees A1 poster_Nataniel

Lees nou

SARIE Fees – Etiket met NataniëldSARIE Fees – Etiket met Natanië

Nataniël se roerende toespraak

Nataniël en Emsie sê ja vir die ja-woord