FOTO: Getty Images / Gallo Images / Christian Wrangsten / EyeEm

FOTO: Getty Images / Gallo Images / Christian Wrangsten / EyeEm

Het jy gehoor?

Nataniël en Emsie sê ja vir die ja-woord

Kan die wêreld in twee groepe gedeel word? Miskien nie so eenvoudig nie. Maar tog dalk as dit by verlowings of troues kom. Want die een groep wil glad hoegenaamd geheel en al onder geen omstandighede trou of verloof raak nie, en die ander groep maak een groot bohaai en gaan heel oorboord.

As jy dink soos laasgenoemde, sal jy hou van die raad wat ons by drie kenners, Emsie Schoeman, trend-analis Nicola Cooper en Nataniël, gekry het.

Hoe lyk verlowings deesdae en moet ons nog ouers vra?

Emsie Schoeman

“Ons moet probeer om so veel moontlik van die mooi tradisie te behou. As ʼn man nog ouers gaan vra, toon hy respek, vertroue en liefde,” sê Emsie Schoeman.

Ouers vra skep ʼn sterk ondersteuningsnetwerk.

 – Emsie Schoeman

“Veral as hy nog vir die pa ʼn boks sjokolade vat en vir die ma ʼn ruiker. En onthou om dankie te se vir die wonderlike dogter wat hulle grootgemaak het.”


Nicola Cooper

“Die nuwe reël is dat daar geen reël is nie. Jy moet doen wat reg is vir jou en die spesiale mens in jou lewe. Tog sien ons daar is ʼn groot tendens om oor Kersfees verloof te raak, omdat dit die tyd van die jaar is wat met samesyn en familie geassosieer word,” sê Nicola Cooper, senior trend-analis.

Mense besef die konsep van ‘tot die dood ons skei’ is ʼn groot belofte.”

“Verlowings word nou aangepak met ʼn houding van go big or go home.”

 – Nicola Cooper

“Ringe word groter met meer van ʼn vintage gevoel. Maar daar hoef ook nie noodwendig nuwe ringe gekoop te word nie. Mense besef die waarde van bv. jou ouma se ring. Dit het betekenis en ʼn storie. Dit staan ook vir iets van waarde en langlewendheid. Iets wat gaan hou – dink hier aan prinses Diana se ring wat Kate nou dra.

“As daar na nuwe ringe gekyk word, is daar ʼn neiging na meer romantiese style soos blomme, blare, druiweblare. Gekleurde stene is ook ʼn groot trend. Saffier en selfs maansteen word bo ʼn duur diamant verkies – dit maak ook sin in die huidige ekonomiese klimaat.

“Omdat daar ’n groot neiging na die spirituele is, hou baie mense daarvan dat elke steen ʼn betekenis het. Dié verskynsel sluit natuurlik ook aan by die gewilde en groeiende hippie-agtige trend.”


Nataniël

“Vir ’n paartjie om die toestemming van ouers te hê is deesdae meer ’n tradisie of bloot ’n spesiale geleentheid (vir sekere families) as ’n noodsaaklikheid of ’n verpligting. In die ou dae, veral in die adelstand of die families van skatryk grondbaronne, het ’n jongman die vader van die bruid om haar hand gevra omdat daar soveel politieke en finansiële implikasies betrokke was. Adellikes het met “commoners” getrou omdat daar ’n bruidskat was, ’n brandarm edelman kon homself van lewenslange weelde voorsien deur met ’n meisie uit ’n ryk familie te trou. Om ’n vader te vra vir die hand van sy dogter het dikwels ook beteken dat die jongman ’n posisie in die aangetroude familie se besigheid kry. Meisies is in die verlede ook baie jonger getroud as deesdae,” meen Nataniël.

“Deesdae is paartjies meestal finansieel onafhanklik en volwasse genoeg om planne te maak sonder toestemming.”

 – Nataniël

“Elke familie is anders, daar word dikwels nog deur ou, selfs vergete, prossese gegaan bloot om moeilike ouers gerus te stel of hul guns te wen.

“Indien ’n jong paartjie finansieel afhanklik is van die ouers, moet hulle maar versigtig te werk gaan en probeer om almal tevrede te stel.”