sr1104nataniel-533x800
Het jy gehoor?

Nataniël se roerende toespraak

Nataniël, een van Suid-Afrika se bekendste en mees geliefde kunstenaars, en skrywer van Kaalkop, SARIE se nommereen-rubriek, is Dinsdagaand tydens die Huisgenoot-Tempo-toekennings by Emperors Palace in Kempton Park vereer as Afrikaanse Erfenislater.

Dié kategorie is die enigste wat deur ʼn paneel toegeken word en nie deur die lesers self nie. Vorige ontvangers is die aktrise Sandra Prinsloo en TV-vervaardiger en -aanbieder Johan Stemmet.

Nataniël se toespraak was roerend. Net soos baie van sy projekte. Ons luister wanneer hy praat. Ons gaan kyk sy konserte en lees wanneer hy skryf. Sy Kaalkop-rubriek, wat hy al sedert 2002 eksklusief vir SARIE skryf, laat ons lag en huil. Hy gee hoop en leer ons waardevolle lewenslesse. Sy boodskap is altyd een van inspirasie. Om te dink Nataniël het aanvanklik vir SARIE se redakteur, Michélle van Breda, gesê hy sal vir ’n jaar ’n rubriek skryf. Maar Nataniël het gebly en sy gewilde SARIE-rubriek bestaan al meer as 14 jaar.

Nataniël was ook al vyf keer op SARIE se voorblad, die eerste keer saam met sy suster, Madri, en meer onlangs saam met aktrise Brümilda van Rensburg, sy universiteitsvriendin. Dit moet ’n rekord wees vir ’n man op die voorblad van ’n vrouetydskrif!

Hier is die toespraak wat Nataniël met die ontvangs van sy toekenning gelewer het. Nog ’n stukkie inspirasie.

“Daar is duisende mense – party is bly, die res is woedend – wat nie kan glo dat so ’n oomblik kon aanbreek nie.

Ek werk nou al 32 jaar, 29 daarvan as solo-kunstenaar. En dit het nie maklik begin nie, ek was nooit mooi of cute nie, ek het nie rondgeloop met ’n 6-pack of vierkantige tieties nie, elke deur wat oopgegaan het, het ek oopgebid of oopgeskop. Dit het gesorg dat ek nooit deel van iets was nie, dat ek my loopbaan op die kantlyn begin het en dat dit die plek is waar ek nog steeds tuis is.

Sukses is dalk vir mense ’n goue plaat of ’n vol tent, vir my is dit geluk. Die grootste les wat ek ooit geleer het, is dat kwaliteit en geluk bepaal word deur hoe naby jy in jou leeftyd kom aan jou roeping, iets wat weens omstandighede nie vir almal beskore is nie.

Al sê wie ook wat, in vergeleke met vermaaklikheid in die res van die wêreld, het ons ’n klein bedryf en ’n klein gehoor. Ons sit hier eenkant soos ’n koppiespeld in ’n tennisbal. En om ’n lang loopbaan te hê moet jy jouself dun smeer en morsdood werk. Ons doen almal gereeld goed wat ons nie rêrig wil doen nie, ter wille van oorlewing of omdat ons geboelie word deur onsself of die vier groot m’e: maatskappye, media, management of mamma. Ek het net een kriteria, dat ek aan die einde van my lewe moet kan terugkyk en weet dat ek oor niks skaam is nie en dat ek my bes gedoen het.

Om elke oggend wakker te word en te weet niemand gaan my voorskryf wat om te doen nie, dat ek ’n verskriklike vol dag voor het en dat 99% van wat ek doen my gelukkig maak, is ’n ontsettende groot voorreg. Ek het nog nooit in my lewe iets gedoen en ná die tyd gedink dit was goed nie, hopelik kom dit nog, maar ek is elke keer ongelooflik opgewonde en doen elke keer die beste wat ek kan, en dis my geluk.

Ek moet twee name noem, mense sonder wie ek nie vir 24 uur aan die lewe kan bly nie. Dankie aan die pianis Charl du Plessis, wat al 17 jaar saam met my op die verhoog is, en Nicolaas Swart, wat my lewe bestuur. Ook die mense in my huis en kantoor, my ontwerpers, Floris Louw en Shani Boerstra, die wardrobe-mense, my TV-crew, my fotograaf, my make-up artist, my huisdokter, die ander een met die botox, my sielkundige, my fisio, my chiro, my joga-instrukteur en my sjef. (Mense wat ek uit my hart kan sê my ’n fortuin kos!)

Dankie aan Huisgenoot, julle is 100 jaar oud, ek is amper, maar ons lyk fantasties!

En terwyl ons hier is, dankie aan Emperors Palace, hierdie is die 15de jaar van my residensie.

’n Toekenning verander niks en beteken niks as dit nie iemand anders inspireer nie. Iewers is daar ’n vreemde seuntjie met stemme in sy kop en talent in sy lyf, maar hy voel verdwaas en verstote want sy pa gooi op van skok elke keer as hy om die hoek kom. Maar hy gaan hoor van hierdie ding en dat ek gesê het, Hou net aan met wat jy doen, daar kom ’n dag dat mense gaan betaal om daarna te kyk.

Baie dankie.”