Het jy gehoor?

Nataniël: ‘Trourokke wat knyp en knou’

Om een of ander rede is ’n troue nie net die mees spesiale of grootste dag in baie mense se lewe nie, maar ook die dag wat alle klein goggatjies laat uitkruip. Strikkies, linte, blinkers, steentjies, ruikertjies, kammetjies, duifies en dinge verblind en verdoof alle oordeel en rede! Op so ’n dag daag familielede en vriende skielik op in uitrustings wat alle verstand te bowe gaan, dikwels letterlik: op die kop is daar ’n gedoente wat net ’n besetene kon uitdink en vervaardig. Bruide vergeet van hul liggaamsbou of gewig en verskyn in skeppings wat knyp, knou en kneus, bruidegomme trap rond soos kabouters in pakke klere wat heeltemal te groot of te lank is, kindertjies hardloop rond in bolle net, bruidsmoeders, peetouers en tantes verskyn in lae en lae chiffon en kant, boesems na bowe, versier met skouerkranse en hompe vere. Natuurlik is daar honderde troues met smaakvolle uitrustings en tydlose treffers, maar hulle het nie my hulp nodig nie. Ek voer my stryd vir die res, dies wat al op twaalf begin het met ’n plakboek en nooit weer opgemerk het hoe die wêreld, modes of hul lywe verander het nie.

Die reëls vir kleredrag by ’n troue of enige ander spoggeleentheid is eenvoudig en logies: Trek mooi aan, trek aan wat pas, trek aan wat by jóú pas. Wees te alle tye gemaklik en jouself, vermy materiale wat kreukel en skoene waarmee jy nie gemaklik is nie. Vermy helder kleure, dis vir sirkusse. Die regte postuur is een van die grootste geheime vir sukses: Dra ’n skoen met ’n hak, ’n plat bruid hou geen belofte in nie. Moenie ’n vreemdeling wees nie, as jou hare nog nooit ooit in ’n toring gestapel was nie, hoekom wil jy jou geliefdes bang maak op jou troudag?

Die trourok is vir die meeste mense die belangrikste deel van die troue. (En ek sal nie nou daarmee stry nie, my trane vir al die afgeskeepte bruidegomme stort ek eenkant.) Die keuse van ’n rok moet bepaal word deur die persoonlikheid van die bruid, haar lengte, gewig en ouderdom, die seisoen waarin die troue plaasvind en die styl van die geleentheid – nie deur die ontwerper nie, dié sal jou tien teen een wil giet in ’n bepêrelde korset en ’n poef. Net een uit elke tien mense op aarde het mooi bo-arms, wat is die obsessie met moulose rokke en korsette? Elke klassieke of beroemde trourok op aarde het skouers en moue gehad, los die korsette vir skoonheidskompetisies of mense met rugoperasies. Skouerruikers het sy tyd gehad, aanvaar dit en beweeg vooruit. ’n Vars roosknop teen ’n lapel is altyd mooi, maar ’n bedding teen die skouer is lankal verbode, dit lok net bye. Die mans in die geselskap trek aan soos bepaal deur die bruidegom se uitrusting. ’n Onderbaadjie word nooit alleen gedra nie, al trou jy met ’n rofstoeier in ’n afgebrande skuur, die uitrusting word voltooi met ’n baadjie. En moenie ’n helder band om die bruidegom bind nie, hy lyk soos ’n reddingsboei.

Hoedens bly wonderlike goed, solank dit elegant is en die draer nog kan sien. Vermy veremonstertjies teen die kop. Dit lyk eenvoudig of ’n stomme ding teen ’n voorruit vasgevlieg het, nie eens Kate Middleton kon dit laat werk nie. Maak jou geleentheid tydloos, jy wil nie oor 6 maande lag vir die foto’s nie. En onthou die dag gaan oor vreugde, nie drama, spanning of spog nie, vreugde!