FOTO: Willem Lourens

FOTO: Willem Lourens

Het jy gehoor?

Neels van Jaarsveld speel alkoholis ná hy twee jaar skoon is

In ’n Man soos my pa, die Sean Else-fliek wat Vrydag in teaters begin draai, vertolk Neels van Jaarsveld die rol van ’n alkoholistiese man en pa. Die fliek volg die verhouding tussen hom en sy seun en die skade wat drank aan hul eens spesiale verhouding aangerig het …

ManSoosMyPa-721x1024

Maar akteur Neels van Jaarsveld is skóón. Hy het verlede jaar in die Oktober-uitgawe van SARIE aan Marguerite van Wyk vertel van sy eie stryd teen alkohol en die pad na herstel.

Alkoholisme is soos ’n boksgeveg wat nooit ophou nie. En jy veg teen ’n heavyweight

Neels van Jaarsveld

Dit het Neels van Jaarsveld iewers gelees en hy sal dit altyd onthou. “Dit maak sin. Jy klim elke dag in die ‘kryt’. In die aand is jy verlig, want jy het nóg ’n dag sonder drank oorwin. Maar die volgende oggend klim jy wéér in dieselfde ‘kryt’ . . .”

Die laaste paar maande voor hy opgehou het, was dit witwyn – sommer twee bottels per aand – en minstens twee siders. Op 21 Oktober 2013 het hy homself ses weke lank as buitepasiënt by Tranquility Home, ’n rehabilitasiekliniek vir alkohol- en dwelmverslaafdes in Linden, Johannesburg, ingeskryf toe hy besef hy is in die moeilikheid.

“Dit is vir goed verby. Ek geniet nou my soberheid. Vir die eerste keer in sestien jaar sien ek die lewe nie meer in ’n waas nie. Dit was my moeilikste reis tot dusver en is my grootste prestasie. Baie groter as die toekennings wat ek tot nou gewen het.”

Ek het nie op skool perske-schnapps op my matriekafskeid gedrink of in my ouers se drankkabinet geaas nie. Maar ná skool het ek net nooit ophou drink nie. Die aanvanklike sneller, dink ek, was ’n liefdesverhouding wat misluk het. Eintlik kan ek al hierdie liefdesverhoudings wat nie uitwerk nie, nie meer vat nie . . .”

As buitepasiënt in die rehabilitasiekliniek het hy besluit om op sy eie van drank te onttrek eerder as om van ’n druppelaar (drip) by die rehabilitasiesentrum gebruik te maak. “Drie dae lank het dit gevoel asof ek doodgaan. Ek kon nie eet, drink of badkamer toe gaan nie. My liggaam het gepyn. Ek het net in ’n donker kamer op ’n bank by ’n vriend gelê en sport kyk.”

Daarna was hy ’n “modelstudent”.

“Ek het twee keer per week my berader gesien en moes skriftelike oefeninge doen waar ek diep moes delf in die verlede. Dit was baie intens. Ek moes skryf oor hoe my verslawing al die aspekte van my lewe raak: verhoudings, gesondheid, familie, werk, begroting.”

Hy het ook geleer hoe alkohol die liggaam fisiek aftakel. “Nou weet ek as ek ooit weer begin drink, sal ek doodgaan. My lewer sal nie wéér die aanslag kan hanteer nie.”

Iiemand sal my moet vasbind en vodka by my keel moet afgooi voor ek weer drink,” vertel Neels.

Hy is veral nou, jare ná die tyd, ontsteld as hy besef wat hy alles aangevang het toe hy te veel gedrink het. “Ek was een keer by die Pezula-gholfbaan naby Knysna op die Tuinroete, en kan niks onthou nie. Toe ek onlangs daar gespeel het, was dit soos ’n nuwe ondervinding.”

Dink daaraan, jy lewe, maar jy is eintlik dood.” – Neels

Neels glo “iemand aan die bopunt van die trap” het oor sy lewe gewaak. “Dit is ’n wonderwerk dat ek ‘genees’ is, hoewel ek nie elke dag Oh what a beautiful morning uitskree nie. Maar dit is wonderlik dat mense nog vir my werk gee en die verandering in my kan sien.”

Hierdie uittreksel kom uit die 2014 Oktober-uitgawe. Dit is nie meer te koop nie, maar jy kan dit HIER aflaai.

Kyk hier na die lokprent van ’n Man soos my pa

Lees ook