Geraldine en Chad FOTO Verskaf

Het jy gehoor?

“Nêrens was te ver vir haar” – Chad praat oor sy ma

Kinderdae

“As ek aan my kinderdae terugdink, kan ek nie anders as om my ma as’n sagte, liefdevolle mens te onthou nie. Sy het nog altyd baie vir ons omgegee. Maak nie saak waarheen ons wou gaan nie, sy was altyd bereid om ons daarheen te neem – nêrens was ooit te ver vir haar nie.

“Elke keer dat ek iemand respekteer of met sensitiwiteit behandel, dink ek aan haar. Respek vir ander is een van die belangrikste lesse wat sy my geleer het. Ons respekteer mekaar baie, en ek glo dít is wat ons verhouding so kosbaar maak.”

Stryd teen kanker

“My ma is in Januarie 2010 met borskanker gediagnoseer, maar het die nuus van my weerhou. Eers nadat ek vir die Statebondspele gekwalifiseer het, het my pa my daarvan vertel. Ek was ontsettend hartseer om dit te hoor.

“Maar my pa het my heeltyd verseker dat sy op die ou end weer gesond sal wees. Ek dank die Here dat dit waar was. Sy het chemoterapie en bestraling gekry en alles is nou weer reg. Sy het in April haar laaste chemo-pille gedrink. Dit het my laat besluit om by PinkDrive betrokke te raak, ’n organisasie wat borskanker- bewustheid bevorder.

“Dié ervaring het nie net die verhouding tussen my en my ma verander nie, maar ook die dinamika van ons gesin – ons stry nie meer so baie soos voorheen nie. Dis nie dat ons baie baklei het nie, maar tieners sit mos maar so elke nou en dan ’n bietjie met hul ouers vas. Haar siekte het ons hele gesin nader aan mekaar gebring.

[Chad het ’n ouer broer, Justin, ’n getroude suster, Bianca Matos, en ’n jonger broer, Jordan.]

“Ek respekteer die manier waarop sy die siekte beveg het – sy het niemand ooit vir enigiets gevra nie. Regdeur haar stryd het sy haar kop hoog gehou en vorentoe gekyk. Sy doen dit vandag nog.”

Geraldine en Chad

Ons het baie gemeen

“My ma is ’n vegter. By haar het ek geleer om nooit op te gee nie. Haar pyn en lyding het my gewys dat jy altyd harder moet probeer, en ek het al my gevoelens oor haar siekte in die swembad geprojekteer.

“Ek het nie voor die kanker geweet hoe sterk my ma is nie en ek het beslis ook nie geweet hoe baie ek en sy gemeen het nie. Nou weet ek ons het albei die emosionele krag om moeilike situasies te verwerk. My pa meen natuurlik dat ek én sy albei die vermoë het om hom so elke nou en dan vies te maak, maar darem nie te gereeld nie!

“My ma motiveer my elke dag om positief te bly. Om altyd ’n bietjie ekstra respek aan ou mense en arm mense te betoon. Sy het my ook geleer om harder te oefen in die swembad. Sy is my inspirasie.”

[box:full:red:both]

Wat my ma my geleer het

  • Borsel elke dag jou tande!
  • Behandel almal met respek.
  • Trek altyd gepas aan.
  • Ry tog asseblief altyd versigtig

[/box]

* Lees wat Geraldine oor Chad sê EN nóg ma-en-kind-verhale in die Mei-uitgawe van SARIE. Nou op die rakke!