sr1001nerine_1_
Het jy gehoor?

Nerine Pienaar gesels oor die koninklike doop in Monaco

Die prinses van Monaco, Charlene Wittstock, het vir Nerine Pienaar as haar dogter, Gabriella, se peetma aangewys. Nerine en haar man, die voormalige Springbok-kaptein François Pienaar, was op 10 Mei by die doop van die koninklike tweeling in Monaco. Marguerite van Wyk het by haar meer uitgevind oor dié geleentheid, en wat dit vir haar beteken om die prinses se peetma te wees.  

Nerine se vriendin, prinses Charlene 

Nerine vertel sy en Charlene het mekaar in 2007 by die prinses se verjaardagpartytjie aan’t huis van gemeenskaplike vriende in Kaapstad ontmoet.

Kort daarna is hulle saam na die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Frankryk, en ná dit het hulle kontak behou en oor en weer gekuier.

Die Pienaars was ook gaste by Charlene en prins Albert se koninklike troue in 2011.

Lees ook:  FOTO’S: Prinses Charlene se tweeling word gedoop

Haar rol as peetma vir Gabriella

“Toe prins Albert en prinses Charlene my gevra het om die peetma van prinses Gabriella te wees, was dit vir my ’n wonderlike verrassing en ’n baie groot voorreg.”

Nerine sê dit is haar besluit hoe betrokke sy by Gabriella se lewe wil wees. “Dit is ’n gesprek tussen my en haar ouers. Ek sal regtig graag ’n ondersteunende rol in prinses Gabriella se lewe wil speel.”

Volgens Nerine is dit vir Charlene baie belangrik dat haar kinders blootgestel word aan Suid-Afrikaanse waardes en tradisies. “Ek dink dit was ’n rede waarom sy my gevra het om Gabriella se peetma te wees.”

Nerine meen haar rol as peetma sal verander saam met die verskillende fases wat Gabriella betree. “Aanvanklik gaan ek probeer om soveel moontlik gehaltetyd saam met haar te spandeer sodat ons ’n hegte band kan sluit waarin sy altyd veilig kan voel.

As gevolg van haar profiel, is dit nog belangriker vir haar om mense om haar te hê wat sy werklik kan vertrou.

“Ek en François sal ook baie graag die tweeling na Suid-Afrika wil nooi as hulle bietjie groter is sodat hulle hul ma se geboorteland met sy besonderse tradisies en mooi landskappe kan leer ken.”

Baptism Of The Princely Children At The Monaco Cathedral

FOTO: Getty Images/Gallo Images Heel links: Prinses Gabriella se peetouers, Gareth Wittstock en Nerine Pienaar. Middel: Prins Albert met prinses Gabriella en prinses Charlene met prins Jacques. Regs: Prins Jacques se peetouers, Christopher Le Vine Jr en Diane de Polignac Nigra.

Die doop en die vieringe daarna in die Pienk Paleis

Nerine vertel dat hulle voor die diens in die St. Nicolas-katedraal vrae van aartsbiskop Bernard Barsi moes beantwoord – en dit nogal in Frans! Daarna het prins Albert vir Gabriella en prinses Charlene vir Jacques die kerk ingedra. Die diens het byna twee uur geduur. “Die tweeling het pragtig gelyk en hulle was stroopsoet, ” vertel Nerine.

“Elkeen van die vier peetouers het ’n kers gekry wat tydens die diens vir die tweeling aangesteek is. Ons moet dit bewaar en aansteek wanneer hulle vir die eerste keer nagmaal gebruik,” vertel Nerine.

Dit was ’n spirituele viering wat gevul was met liefde.

“Ons is almal ná die diens na die binnehof van die paleis waar ons sjampanje gedrink het terwyl toesprake gelewer is en gelukwensings oorgedra is aan die koninklike paartjie.”

Die doop van prins Jacques en prinses Gabriella was ’n ongelooflike ervaring vir die Pienaars wat hulle nooit sal vergeet nie.

Lees ook: Prinses Charlene en haar tweeling dra Dior by hul doop

Prinses Charlene se SA trots

Die ete vir sowat 400 gaste het in die paleis se tuine plaasgevind. Die hele koninklike familie van Monaco was teenwoordig.

“Die ete in die tuine was werklik asemrowend en die kos was fenomenaal.”

Vir Nerine is dit besonders hoe prinses Charlene altyd ’n baie sterk Suid-Afrikaanse tema het met die blomme en die kos. “Die tafels was pragtig versier met  koningsproteas – en Charlene vertel ook dan altyd baie graag aan almal die agtergrond van die protea en hoekom dit vir haar só ’n spesiale blom is.”

Die Suid-Afrikaanse cuisine wat op die gaste se borde verskyn het, was ’n droëwors-sousie oor aspersies, en die sjokolade-fondant was gevul met Amarula-likeur.

“Ons as Suid-Afrikaners kan baie trots wees op die wyse wat prinses Charlene ’n ambassadeur bly vir Suid-Afrika in die buiteland.”

Prins Albert en prinses Charlene het albei geblom, vertel Nerine.

Prinses Charlene as ma

Nerine vertel dat sy en François baie tyd saam met prinses Charlene, prins Albert en die tweeling gespandeer het terwyl hulle in Monaco was vir die doop.

“Dit is baie duidelik dat sy haar nuwe rol as ouer baie geniet. Sy is vreeslik betrokke by hulle, en spandeer haar tyd en aandag aan die kleingoed.”

Nerine onthou ook haar kinders se doop-geleenthede

“Die doop is vir my en François nog altyd ’n baie belangrike gebeurtenis. François sê altyd jou naam is die belangrikste bate wat jy ooit sal besit. Jy dra dit saam met jou vir die res van jou lewe. Ons het met albei ons seuns se doop ’n baie spesiale geleentheid met verskeie tradisies geskep en ons het ’n spesiale lied aan hulle opgedra.”

François het die skrywer, Kahlil Gibran, se aanhaling voorgelees: “Your children are not your children. They are the sons and daughters of life’s longing for itself. They come through you but not from you. And though they are with you yet they belong not to you … You are the bows from which your children as living arrows are sent forth.”