FOTO: Facebook

FOTO: Facebook

Het jy gehoor?

Nianell verloor twee rok-groottes

Die gewilde sangeres Nianell het sedert Desember 2013 twee kleregroottes verloor. Sy het geleer om na haar liggaam te luister én ’n hele paar aanpassings aan haar leefstyl gemaak …

Ek klim nie op ’n skaal nie, dit is selfkastyding. Maar sedert Desember 2013 dra ek twee kleregroottes kleiner as vroeër,” vertel die sangeres Nianell.

Sy het 10 kg aangesit ná haar ma, Heletje, op 13 Julie 2011 oorlede is. “Toe het ek my nog geweeg … Ek was só hartseer ná haar dood, dat ek myself probeer troos het deur te eet.”

Nianell glo sy het soveel gewig verloor omdat sy na haar lyf geluister het. “Die beste dieet is om uit te vind wat in jou onderbewussyn aangaan. Hoekom glo jy sekere dinge oor jouself? Ek het danksy ’n Theta-helingskursus vroeër in Suid-Afrika en weer in Januarie in Nieu-Delhi, Indië, baie dinge besef. Onder meer hoe ’n groot uitwerking ’n mens se onderbewussyn op jou werklikheid het.”

“Volgens die kursus wat ek gedoen het, glo oorgewig mense dikwels hulle verdien nie liefde nie …”

Nianell glo elke mens se lyf praat ’n ander taal. “My liggaam hou nie van strawwe kardiovaskulêre oefening nie. Hoe meer ek byvoorbeeld draf en sweet, hoe meer wil ek eet. Ek het die afgelope twee jaar veral begin om joga en strekoefeninge te doen. ’n Kwartier tot veertig minute per dag, afhangend van hoeveel tyd my program toelaat. Ek glo ook aan diep asemhalingsoefeninge om rustig te raak.”

Sy het ook haar lewenstyl verander. “Ek het agtergekom dat ek begin smul die oomblik as ek die televisie aanskakel. Deesdae kyk ek glad nie meer televisie nie. Ek lees liefs of bederf myself met ’n lekker bad in kerslig. Soms raak ek saans kreatief en ek skryf. Ek hou ook nie meer versoekings soos pakke vol skyfies in die huis aan nie.”

Sy belê wél in gesonde peuselhappies soos biltong, gedroogde veselperskes, appels, piesangs en pynappels.

“Ek vermy ook stysel. Pasta en pizza maak my buitendien buierig, maar ek is baie lief vir vleis, veral lam, vis (salm) en soesji (sonder die rys). Ek drink die afgelope twaalf jaar vars wortelsap met seldery en spinasie en eet ’n piesang en pynappelstukkies vir ontbyt. My drieling – Kaeley, Jade en Tayden (7) – kry al van babadae ook dié sap.”

Sy drink ook nie juis alkohol nie, dalk nou en dan ’n glasie merlot.

Vir ’n bederf sal sy middagete, ná haar koppie filterkoffie, een tot drie Ferrero Rocher- sjokolade-balletjies eet. “Ek glo as ek dit seën, is dit oukei. My liggaam het darem soms iets soets nodig en as ek dit met die regte gesindheid eet, sal dit nie om my heupe gaan sit nie … Die energie wat jy uitstraal, sal jy terugkry.”

Dit is positiewe gedagtes soos dié waarmee Nianell haar tweede motiveringsboek verwoord. Sy wil dit later vanjaar publiseer. “Ek skryf ook ’n kinderboek waar ek hulle meer oor die krag van vrees vs die krag van liefde wil leer.”

Nianell is ook baie opgewonde oor die voorafprogramme vir haar beplande TV-reeks van dertien episodes, Just Be, wat sy nou opneem. Sy beskryf dit as ’n inspirasie- en motiveringsprogram wat mense vaardighede wil leer om hul lewens te verander. “Op elke program sal ’n inspireerder, soos die sanger Mathys Roets (wat nie die gebruik van sy bene het nie), wys wat hy of sy regkry ten spyte van moeilike omstandighede.”

Nianell en Mathys tydens die opname van haar TV-program, Just Be FOTO:  Facebook

Nianell en Mathys tydens die opname van haar TV-program, Just Be
FOTO: Facebook

Nianell is gereed vir baie nuwe dinge sedert haar egskeiding verlede jaar, ná veertien jaar se getroude lewe, van haar man, Andrew. Sy sê hulle is steeds baie lief vir mekaar, as broer en suster. “Ons het mekaar die vryheid gegee om aan te gaan met ons onderskeie lewens. Daar is nie meer enige verwagtings nie.”

  • Nianell se mees onlangse album, Just Be, is einde 2014 uitgereik
  • Besoek www.nianell.com vir meer inligting