sr0910nicholis01
Het jy gehoor?

Nicholis Louw praat oor sy troue en sy verloofde

Die sanger Nicholis Louw is besig – nie net werk hy aan ’n nuwe album nie, hy is deesdae ook renjaer én beplan sy troue met Denise Shrewsbury. Maar dit is laasgenoemde wat hy die meeste geniet. Hy gesels met SARIE.com hieroor.

Die Rock daai lyfie-sanger en sy Denise het in Januarie verloof geraak en die troue, wat bietjie later vanjaar plaasvind, sorg vir groot opwinding. Volgens Nicholis is die meeste reëlings vir wat hy “die grootste dag van sy lewe” noem, reeds getref.

Maar oor Denise wat al vir byna 7 jaar in sy lewe is, kan hy nie uitgepraat raak nie. “Ek gaan haar trou dat sy nie weet hoe sy dit het nie!” grap Nicholis.

“Sy is net die beste mens wat ek al ooit ontmoet het. Daar is niemand wat eers naby kom nie. Ek het ’n luck ge-strike. En dis nie sommer nét nie – ek weet die Here het haar vir my gegee, want sy pas my soos ’n handskoen … ons pas mekaar soos handskoene.”

Nicholis en Denise FOTO:  Facebook

Nicholis en Denise
FOTO: Facebook

Sy gesigsuitdrukking sê net een ding – dié man het die skoot hoog deur.

“Ons smeer ook op mekaar af. Maar as ek sien dat enige van my slegte kwaliteite op haar afsmeer dan sê ek vir haar: “Liefie, moenie soos ek raak nie!”, want ek kyk op na haar.”

Lewe in vyfde rat

Nicholis het vroeër aan SARIE.com vertel dat hy die renjaag baie geniet. “Om te race is ’n fantasiese gevoel wat jy nie in woorde kan verduidelik nie. Dis ’n rush wat jou so oorneem dat daar net een ding bestaan vir daardie paar oomblikke – en dit is om voor te kom!”

Hy jaag sowat 15 keer per jaar met outydse karre met sterk enjins.

Die 34-jarige sanger sê die senuwees pak hom nie beet vóór ’n resies nie. “Ek fokus my opgewondenheid op die volgende oomblikke en al die konsentrasie wat dít verg.” Verder oefen hy op die bepaalde oefendae of boek die baan uit en bespreek die fynere detail met ’n afrigter.

En die gevare is legio. Volgens Nicholis is die wegspring die moeilikste én gevaarlikste. “Almal verander in hooligans en die ouens ry selfs oor mekaar se karre en eindig heel gereeld in die lug op, en land letterlik bo-op ander karre. Dit was vir my verbasend om te sien hoe hulle hul motors letterlik soos wapens gebruik!”

Agter die mikrofoon 

Nicholis kan nog nie sê wanneer sy volgende album op die rakke gaan wees nie, want hy gaan eers tevrede wees wanneer alles perfek is.

Verder tree Nicholis saam met Kurt Darren, Ray Dylan, Snotkop en Heinz Winckler op tydens die Krone-konserte.*

krone

Kurt praat oor Krone – lees meer hier

Nicholis sê Krone is uniek, omdat hulle ’n saam-sing-konserte hou. “Dis soos mense wat saamsing in ’n kroeg, maar hierdie is ’n kroeg met sowat 5 000 mense!”

Nicholis sê al die sangers beïndruk op die verhoog, maar Kurt se klere trek die meeste aandag. “Hy dress altyd, maar ons almal lyk soos poue op die verhoog.”

*Krone sal op 26 Julie by Carnival City in Johannesburg en op 1 November by Grand West Casino in Kaapstad te siene wees. Kunstenaar soos moniQue, Elizma Theron, Manie Jackson, NRG en Anders maak ook ’n verskyning.

Kry jou kaartjies by Computicket.