FOTO: Facebok  @Christi Panagiotopoulos

FOTO: Facebok @Christi Panagiotopoulos

Het jy gehoor?

Nico en Christi Panagio op ’n reuse-avontuur saam met hul dogters

Die akteurspaar Nico en Christi Panagio is mal oor reis. Daarom het hulle nie een oomblik getwyfel toe Mercedes-Benz hulle vra om vir een maand lank die nuwe V-klas te toets nie. 

Hulle is een van drie Suid-Afrikaanse gesinne wat gekies is om dié avontuur aan te pak. Die bekende TV-aanbieders Michael Moll en Basetsana Kumalo en hul gesinne toets ook vir ‘n maand lank die V-klas.

Die Panagio’s is baie opgewonde, want hulle is altyd lus om nuwe plekke te sien. “Ons ry baie in die Kaap rond saam met ons dogters, Eva (5) en Shay (2), en dit is altyd ’n mission met die fietse, die kinders, die surf board en soms ons hond, Diago, wat in die kar moet pas,” vertel Christi aan SARIE.com. “Dus gaan ons beslis dié kar soveel moontlik benut.”

Hulle moet hul reise afneem en dit op sosiale media deel.

“Ek is mal oor kamp en fietsry of draf in die natuur en met dié ‘hotel op wiele’ sal ons gaan waarheen die pad ons lei om die Kaapse Skiereiland,” vertel Nico op sy beurt. “Ons is ook baie lief vir Greyton en beplan om ’n naweek daar deur te bring.”

Hy wil die twee dogtertjies leer visvang en dink dis die ideale geleentheid, aangesien hy baie spasie het vir die visvanggereedskap. “Soms is dit ’n groot gesukkel om alles in te pak – dit voel of ek real life Tetris speel, maar ek sien dit as ’n uitdaging en voel dan goed as ek ‘wen’.”

Nico vertel ook hy is ’n groot aanhanger van nuwe tegnologie. “Alles in die V-klas is gerekenariseerd, dit briek vanself as jy te naby aan die kar voor jou kom, dit kan self parkeer en dit waarsku jou as jy uit jou baan beweeg. Die kinders geniet ook die luidsprekers waaroor ons met hulle kan praat wanneer hulle op die agterste sitplekke sit.”

Nico en Christi het gereeld oorsee gereis voor die kleingoed daar was, en hou deesdae in Suid-Afrika vakansie. “Dis lekker om ons eie land te ontdek,” sê Christi.

“Vir my is die lekkerste dat die kar nie net prakties is nie, dit is ook baie luuks. Dit voel glad nie of jy in ’n van ry nie,” lag sy.

Die Panagio’s is volgende jaar al tien jaar getroud en Christi sê dit is beslis nie altyd maanskyn en rose in hul huis soos baie mense glo nie. “Ons baklei ook en die kinders huil, maar ek glo kommunikasie en respek vir mekaar is uiters belangrik, dan los mens vinnig die probleme op. Jy moet altyd werk aan jou verhouding, dit werk nie vanself nie.”

Volg Nico en Christi se avontuur op Twitter by @NicoPanagio of @Christipanagio