Het jy gehoor?

Nico Panagio se ma se kookboek vol liefde

Vir elke gereg wat sy ma berei het, was daar ’n voorvereiste: Dit moes met liefde gemaak word. Dalk is dit een van die redes hoekom akteur en aanbieder Nico Panagio sy ma, Loorita, se kos onthou as iets wat so lekker was dat jy wou begin huil.

“Haar geregte het soms trane in jou oë gebring, en dit het niks met die uie te doen gehad nie!”

As Afrikaanse vrou kon Loorita die Grieke op hul neus laat kyk met haar Griekse geregte.

Sy ma was jare lank bevriend met die Nagtegaals. “Loorita het in my en Dirk se besige lewe ingestap en sonder enige omhaal ons lewe van kantoor tot kombuis begin herorganiseer,” skryf Reinet in die voorwoord van die kookboek, wat einde verlede jaar by LAPA Uitgewers verskyn het.

Die drie van hulle het ’n passie vir kook gedeel en hulle wou eendag saam aan ’n kookboek werk, skryf sy verder. Hulle het ook ’n kosvakansie na Griekeland saam met Loorita se man, Nic, beplan. Maar toe word Loorita met aggressiewe pankreaskanker gediagnoseer. Sy is sowat ses jaar gelede oorlede en hulle kon nooit op daardie kosvakansie gaan nie. Dirk en Reinet is later alleen Griekeland toe en het hierdie wonderlike koservaring sonder hul goeie vriendin ervaar.

Hulle moes dalk hul kosreis sonder Loorita aanpak, maar toe hulle besluit om hul kookboek-droom waar te maak, kon Loorita deel wees daarvan. Loorita se Griekse voorskoot bevat 150 resepte – deels Loorita s’n en deels die resepte wat die Nagtegaals uit Griekeland saamgebring het.

Loorita se Griekse voorskoot

As seuntjie kon Nico se ma sy hartseer wegtoor met enigiets met gesmelte kaas. “Die wenner was altyd lasagne of spaghetti.” Maar dis “daai mince in koolblare” van haar wat ’n spesiale plek in sy hart het. “Dit het my hart altyd vinniger laat klop.”

Vandag nog verkies Nico eerder om te eet as om te kook. Gelukkig het sy vrou, Christi, ’n paar van sy ma se kookgeheime geleer. “My ma en Christi was gek na mekaar en sy het vir Christi ’n hele klompie familie-geheime geleer. Christi maak ’n paar geregte wat my baie aan my ma laat dink. Ons is albei mal oor nagereg, en haar Griekse spesialiteit, baklava, laat die trane so saam met die stroop by my wange afloop.

 Loorita se Griekse voorskoot

**Lees die volgende artikel in die Maart-uitgawe van SARIE.

’n Uittreksel uit Loorita se Griekse voorskoot deur Dirk en Reinet Nagtegaal (LAPA Uitgewers, R190), met foto’s en resepte, verskyn in die Feb/Mrt 2013-uitgawe van SARIE KOS.