FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Nicole Kidman: “Ek hou nie van die grootstad-gevoel nie”

Nicole Kidman vertel in ’n nuwe onderhoud sy is op haar gelukkigste wanneer sy by haar gesin is – in Nashville, óf op ’n toerbus, skryf Huffington Post.

Nicole, wat oorspronklik van Australië is, vertel in die Maart-uitgawe van InStyle dat sy in die platteland grootgeword het en daarom verkies om in so ’n omgewing te leef.

“Ek het eintlik ’n country-hart,” sê die Oscar-bekroonde ster wat met die country-sanger Keith Urban getroud is. “Ek het ’n opregte begeerte om in die buitelug te wees, begeerte vir eenvoud – ’n effe stadiger, meer ontspanne benadering tot die lewe. ’n Gemeenskap, nie ’n grootstad-gevoel nie,” sê sy vir Simon Dumenco in InStyle.

Hoewel Nicole, Keith en hul twee dogters, Sunday en Faith, in Nashville bly, het hulle eintlik meer van ’n swerwersbestaan. As Nicole nie besig is met rolprente nie, is Keith gewoonlik op toer.

Nicole Kidman op die voorblad van InStyle se Maart-uitgawe.

Nicole Kidman op die voorblad van InStyle se Maart-uitgawe.

“Ek en Keith is in ons harte eintlik albei sigeuners. Ons kan ons huis maak waar ons ook al gaan. En die meisies is nou ook so, so ons vat hulle oral saam met ons,” sê Nicole. Sy voeg by dat sy die grootste deel van Amerika uit haar man se toerbus gesien het.

Uiteindelik erken sy dat sy eerder ’n tuisbly-ma in Nashville wil wees as ’n sjiek ster in een van die wêreld se groot stede, want sy is op haar gelukkigste wanneer haar familie bymekaar is.

BRONNE: InStyle & Huffington Post