Het jy gehoor?

Nigella Lawson se 8 ‘bestes’

Die een ding wat in jou klerekas móét wees

‘n Swart Donna Karan-rok. Dit strek en is so gemaklik soos nagklere! Én dit is ontwerp vir ‘n vrou se lyf – nie ‘n seun s’n nie! (Kyk binne die SARIE-winkel vir ons beste swart rokke!)

Beste raad

Doen dit nou. Elke taak word groter by die uur. Jy word oorval met bekommernis daaroor, en hoe langer jy dit uitstel, hoe meer vrees boesem dit in.

Jou beste verrassing

Is daar iets soos ‘n aangename verrassing? Ek vertrou nie altyd verrassings nie … Maar die eerste keer toe ek terugkeer huistoe ná ‘n boektoer in Amerika, het my kinders by die lughawe plakkate opgehou met die woorde “Ek is lief vir Mamma” daarop. Dit was ‘n pragtige verrassing!

Beste ervaring as kind

In die laat sestigerjare het ons familie een aand by ‘n Chinese restaurant gaan eet. Op pad huis toe het my ma in die straat in ‘n halternek-broekpak gesing en gedans met al ons kinders by – ‘n regte boheemse skoonheid. Ek was betower.

Beste Saterdagoggend

Om in die bed te bly met die dag se koerante en ‘n boek, en dalk elke nou en dan mense wat kom kuier. Met ander woorde, om my te verlustig in die luuksheid van rustigheid.

Beste prestasie

Toe my ma op haar sterfbed lê, het sy vir my gesê: “Liefling, wat jy in die lewe doen, sal nooit die prestasie om lank te wees oorskadu nie.” Ek is ongeveer 5’7” (1,7 m) in ‘n familie van kort vroue. Sy het daarvan gehou om te glo ek het deur my eie wilskrag lank geword.

Beste manier om my bui te lig

Iemand het eenkeer gesê: “Jy sal nooit spyt wees oor ‘n baba of om te gaan swem nie”. Ek dink dieselfde oor stap.

Bes bewaarde geheim

Ek het nie regtig ‘n suikertand nie. Ek verminder altyd die suiker in ‘n resep. Ek het wel myself verbied om bloukaas te koop. Ek het een keer – op my eie en nie vir ‘n maaltyd nie – een en ‘n halwe Franse brode met 12 onse (sowat 340g) bloukaas geëet. Dít is my sjokolade.