Het jy gehoor?

NÓG FOTO’S: SARIE.com-blogger Hélène Horak: My nuwe lewe nádat ek 70kg verloor het

Haar blog op SARIE.com het die verbeelding aangegryp. Hélène Horak, ma en tandarts van Pretoria, het 70 kg in een jaar en vyf maande verloor. Hélène se maerword-reis is inspirerend en sy vertel haar storie graag.

Ons het gister haar storie gedeel tot waar sy 10 kg verloor het (lees dit hier).

Lees hier hoe sy die res verloor het ….

“Toe ontdek ek die oulike app (toepassing) MyFitnessPal en laai dit af op my slimfoon. Dit hou dagboek van wat jy eet en tel jou kalorieë. Ek het twee skale gekoop – een vir die werk en een vir die huis en het myself een keer per dag geweeg. Op 11 November kon ek myself bederf met ’n nr. 20-broekpak vir my ouma se 80ste verjaardag.

Einde November het ek ontbyt begin eet, iets wat ek nooit voorheen gedoen het nie: ’n bakkie hawermoutpap, sonder botter, melk of suiker. Oefening het effens lekkerder geword. Soms was ek só seer dat ek ná die tyd wydsbeen soos ’n T. rex geloop het. Ek het suiker uit my tee en koffie gesny en laevet-melk gebruik. En die groot pak skyfies elke middag ná werk het gewaai.

Kersfees was ’n reuse-uitdaging. Ons het saam met my skoonmense op Jeffreysbaai in die Oos-Kaap gaan kampeer. Ek het my vooraf mal geoefen omdat ek so bang was ek sit gewig aan. By die see het ek tot my verbasing daarin geslaag om lang ente op die strand te loop en aan die einde van die vakansie het ek slegs 2 kg swaarder geweeg.

Dit was ’n groot boost toe mense in Januarie 2012 agterkom ek verloor gewig. En teen Maart kon ek sowaar ’n nr. 18-little black dress na ’n familietroue dra. Vóór dit het my seuns my nog nooit in ’n rok gesien nie. ‘Mammie, jy is so pragtig,’ het hulle geskree. Dit het bokant my knieë gesit. Ek het soos ’n prinses gevoel en kon ’n bietjie afshow wat die natuur gegee het. Ek het toe al 30 kg verloor.

My bloeddruk was al veel laer en danksy die oefening was my gemoed ligter.

Die endorfiene [goedvoel-hormone] het gebons. Ek was ook nie meer bekommerd dat ek stoele gaan stukkend sit in ’n restaurant nie. En ek was nie meer doodmoeg ná ’n dag se werk nie.

Ons het my verjaardag op 2 April by Banana Beach, 12 km van Port Shepstone aan die KwaZulu-Natalse Suidkus, gevier. Ek was 35 kg ligter. Die grootste lekkerte was sekerlik om Divan te kon abba as ons langs die see gaan stap. Nóg ’n eerste.

Maar hoe nader jy aan jou doelgewig kom, hoe moeiliker smelt die rolle. Teen Junie was ek bitter. Die kilogramme het geklou. Ek was desperaat en het selfs pille en inspuitings oorweeg om te help. My menstruasie het boonop daardie maand sáám met waterretensie opgedaag. As jy ’n plato bereik, móét jy fokus op jou einddoel. Kitsoplossings help nié. Jy word nie binne een maand vet nie. My kilogramme het ek sedert studentedae op Tukkies versamel. Ek het besluit op ’n kleiner doelwit – 500 g gewigsverlies per week.

Einde Julie het ek 91 kg geweeg, maar ek wou dolgraag minder as Philip se 87 kg weeg. Ek het altyd gedink die mense dink die arme man se vrou eet al sy kos op. Die waarde van ’n ‘gekontroleerde vas’ – 800 kalorieë [sowat 3 300 kilojoules] per dag – het in Augustus sin begin maak. Ek het baie navorsing daaroor gedoen en ek doen dit nou nog af en toe as ek naweke oorboord gegaan het. Dit help om jou metabolisme te jumpstart, maar jy vergaan nie van die honger nie. Ek het dit toe twee keer per week gedoen tot en met Mei, toe ek my doelgewig bereik het. Soggens begin jy met ’n bakkie hawermout, jy drink gedurende die dag sowat 2 liter water, koffie en/of tee, swart en sonder suiker. Middagete is ’n reuse-bak mengelslaai met ’n klein bietjie neute en laevet-feta as garnering. Jy kan ook ’n blikkie tuna (in water) in die slaai sit en ’n vrug eet.

Lees Hélène se dieet-blog hier! 

En toe weeg ek die eerste keer minder as my man – dit was einde September 2012. Op 86 kg word ’n droom waar! In Oktober begin ek die vroulikste nr. 16-somerrokkies koop. My bene het nie meer teen mekaar geskuur nie. Ek het ook begin om my oefenprogram af te wissel, want my lyf het daaraan gewoond geraak en dan werk dit nie meer nie. Ek moes ook my eetprogram effens aanpas. Naweke het ek vleis geëet, deur die week was ek vegetaries. Ek het lensies, bone en keker-ertjies ontdek. Dit het my hope energie gegee vir ’n stewige oefenprogram.

Een maand voor ek my doelgewig bereik het – April verlede jaar – het ek obsessief begin raak. Ek het myself sommer vier keer per dag geweeg en my kosinname drasties gesny. Ek het so hard geoefen dat my maandstonde verdwyn het. Jy raak silly, veral as jy geneig is tot uiterstes.

Die laaste ses maande van die program het ek minstens ses uur per week geoefen – twee dae Pilates vir soepelheid, krag en ’n mooi postuur. En baie gewigte, kardio- en weerstandsoefeninge in die gimnasium. Ek het daagliks, nou nog, duisende verskonings oor hoekom ek nié kan oefen nie. Maar om te oefen help jou om dinge in perspektief te sien. Ná ’n wilde dag by die werk oefen ek my spanning weg. Dit is my behoud.

Dit is wonderlik om ’n broek of rok (grootte 12 of 14) van die rak af te haal en te weet dit pas. My kinders is nie meer skaam vir hul mamma nie. Ons gesin is aktief. My lewe is georganiseerd – ek moet vooraf beplan wat ons gaan eet, wanneer ek oefen. Dit spoel na my hele lewe deur. Ek voel bemagtig en gesond.

Party vroue hou egter nie meer daarvan dat ek saam met hul mans by die braaivleisvure kuier nie. Voorheen was ek die vettie en geen bedreiging nie. Vroue kan maar katterig wees. Dalk is my vel te dun. Maar my kerngroep-vriendinne is ongelooflik ondersteunend.

Ek het my hangerige borste in Augustus 2013 tot ’n 34D laat verklein. My maag is nog vellerig en my boude lyk soos ’n swak geplaveide pad. Maar dit herinner my daaraan om dinge nooit weer so te laat gaan nie.

Ek blom. Philip tel my gereeld op, swaai my rond. Ons intieme lewe het verdiep. Hy hoef nooit meer die lig af te sit nie. Ek is deesdae ’n vixen.”

 

Hélène se wenke

  • Eet altyd ontbyt.
  • Eet so na as moontlik aan die aarde. Vermy verfynde en geprosesseerde produkte.
  • As jy onseker is, raadpleeg ’n dieetkundige of fiksheidsinstrukteur.
  • Maak klein veranderinge: sny bv. kitskos, suiker en gaskoeldranke uit.
  • Skep kos in ’n kleinbordjie.
  • Drink min alkohol. Dit bevat leë kilojoules.
  • Stel ’n paar haalbare mini-doelwitte.
  • Versorg jouself mooi. Dit help dat jy vasbyt.

IMG_2181 IMG_2189 IMG_2279 IMG_2308

FOTO’S: Phyllis Green | GENEEM BY: River Meadow Manor. Bel Bonnie by 082 343 1518 of e-pos marketing@rmmanor.co.za | GRIMERING EN HARE: Heidi Gouws | STILERING: Fanie Cronjé | ASSISTENT: Johan Huebsch

Baadjie, hemp en denim van Tommy Hillfiger | Sweetpakbroek en -top van Top Shop en baadjie van Country Road