Morgan-Freeman-142x180
Het jy gehoor?

Nóg Hollywood-flieks binnekort in SA geskiet

Suid-Afrikaanse akteurs streef na die beroemde, glansryke Hollywood, maar die Hollywood-akteurs -en regisseurs verkies die prentjiemooi tonele in óns land…

Variety het berig dat Morgan Freeman, Vincent Cassel (Ocean’s Twelve) , Olga Kurylenko (voormalige Bond-meisie) en Shea Whigham (Lincoln Lawyer) in Stephen Campanelli se nuwe riller, Momentum, gaan speel. Dié fliek word volgende jaar vanaf 13 Januarie in Kaapstad geskiet. Die verkoopsvoorsitter van Moonrise Pictures, Colette Aguilar, het dié aankondiging by die Internasionale Filmfees in Toronto gemaak.

 

 

Stephen Campanelli is al sedert die The Bridges of Madison County-dae bekend as Clint Eastwood se kameraman en gaan die mede-regisseur van dié riller wees. Die regisseur Anton Ernst, wat ook die vervaardiger van die Suid-Afrikaanse fliek Little One was, sal Momentum in samewerking met Thaba Media en Azari Media vervaardig. Dié fliek is deur Adam Marcus en Debra Sullivan geskryf. Olga speel die rol van ‘n misdadiger wat konstant van die polisie én Vincent se sluipmoordenaarsbende vlug. Momentum sal heel moontlik vroeg in 2014 vertoon word.

Stephen het op die stel van Jersey Boys gesê: “Ek was baie geseënd om die afgelope 20 jaar saam met die grootste storievertellers van die rolprentteater te werk, met Clint Eastwood as my mentor. Nou volg ek die spoor na waar ek eintlik wil wees: ‘n regisseur van die fliek Momentum.”

En nóg een…

Ryan Kwanten, Tom Hopper, Charlie Murphy en Ed Skrein is deel van die rolverdeling van die fliek Northmen – A Viking Saga, wat gister reeds begin skiet het. Dié fliek gaan vir 8 weke in Suid-Afrika geskiet word, met addisionele tonele wat in Duitsland gaan afspeel. Claudio Fah is die regisseur van dié avontuur, en Matthias Bauer en Bastian Zach is die skrywers van die teks. Northmen – A Viking Saga se mede-vervaardigers is Elite Film Production AG, Two Oceans Productions en Jumping Horse Film.

Dié prent gaan oor ‘n seerowerbende wat op vyandige grondgebied in Skotland vasgekeer is. “Northmen – A Viking Saga is ‘n fliek wat ons baie na aan die hart lê. Dit vertel ‘n tydlose storie van moed, kameraadskap en avontuurlustigheid, teen ’n opwindende historiese agtergrond. Dié projek is groot en ambisieus en ons is vol selfvertroue oor die ongelooflike span wat dit gaan aanpak,” het ‘n mede-regisseur, Dietrich, gesê.

Bronne: 411mania & screendaily