1
Het jy gehoor?

Nóg ’n aktrise wat SA se naam hoog hou in Hollywood

As jy ’n gereelde televisiekyker is, het jy seker al vir Lesley-Ann Brandt gesien sonder om te besef dat sy ’n Suid-Afrikaner is. Sy het al in bekende reekse soos Chuck, CSI: New York en Memphis Beat gespeel. Maar dit was haar rol in Spartacus wat Hollywood se aandag aangegryp het.

Die koerant City Press het die afgelope Sondag vir Lesley-Ann aangewys as een van die gesigte om dop te hou in die filmbedryf – en met goeie rede, want hier kom gróót dinge vir dié meisie van Athlone.

Lesley-Ann Brandt

Sy het in 1999 saam met haar gesin na Nieu-Seeland geëmigreer nadat haar pa ’n werksaanbod aanvaar het. Hier het sy haar eerste groot rol losgeslaan in ’n plaaslike sepie. Maar dit is in Suid-Afrika waar sy haar liefde vir toneelspel ontdek het toe sy in al wat ’n skoolkonsert is, gespeel het.

Sy is egter nie net ’n mooi gesiggie nie, maar ook ’n sterk voorstander van ’n groen leefstyl en versprei dié boodskap sover sy gaan.

In ’n onderhoud met die tydskrif Coco Eco praat sy oor die drie groot passies in haar lewe: diere, die omgewing en kwessies in Suid-Afrika.

Lesley-Ann Brandt

“Daar is dele van my land met probleme en ek sal graag my tyd gee om fondse daarvoor in te samel,” sê dié aktrise.

Sy is later vanjaar op die grootskerm te sien saam met Danny Glover (Lethal Weapon) en Richard Dreyfuss (Jaws) in Killing Winston Jones én in Drift saam met Sam Worthington wat in Avatar gespeel het. Drift vertel die storie van branderplankryers in Australië.   

Sy het vroeër dié jaar aan Son gesê haar Hollywood-droomrol is een wat haar uitdaag. Dié aktrise droom groot en wil graag eendag saam met die regisseur Tom Hooper (Les Misérables, The King’s Speech) werk.

En ons dink sy sal dit kan doen. Wat dink julle? Het sy dit wat nodig is om ’n Hollywood-ster te word? Kyk na die lokprent vir Drift hieronder: