Het jy gehoor?

Nóg ’n ‘Indiana Jones’ vir Harrison Ford

Hoor jy die naam Harrison Ford, dink jy onmiddellik aan die sweepklappende argeoloog Indiana Jones. Hy het reeds vier keer dié karakter vertolk. En selfs al word Harrison hóé oud, is hy lank nie klaar met Indie nie. In 2019 sal kykers hom vir ’n vyfde keer in dié ikoniese rol sien.

Disney het amptelik aangekondig dat Harrison Ford en die regisseur Steven Spielberg saam ’n vyfde film gaan maak. Steven het die regie van al die Indiana Jones-rolprente behartig. Die titel van die nuwe film is nog nie bekend nie.

Ons sien uit daarna om die 73-jarige in aksie te sien!

Hier is 10 dinge wat jy móét weet:

1. Toneelspel is in sy gene. Sy ouers en broer was almal akteurs.

2. As kind was hy lid van die Boy Scouts. Hy het die naashoogste rang, Life Scout, verwerf.

3. Op skool was Harrison verskriklik skaam en hy het drama geneem om hom te help.

4. Harrison het ’n litteken op sy ken, wat hy op 20-jarige ouderdom in ’n motorongeluk opgedoen het. Sy karakter in Indiana Jones the Last Crusade(1989) en Working Girl (1988) het na die litteken verwys.

5. Hy het nooit sy skoolloopbaan voltooi nie. Voor hy ’n professionele akteur geword het, was hy ’n skrynwerker en het sy eie houtwerk-besigheid gehad.

Hier is hy as jong timmerman (regs):

FOTO: Facebook/Sergio Mendes

6. As skrynwerker moes hy toevallig kaste inbou in die huis van die regisseur George Lucas. ’n Paar maande later speel hy Han Solo in die Star Wars-reeks.

7.  Hy is al ses jaar met die aktrise Calista Flockhart getroud. Hulle is sedert 2002 ’n paartjie.

8. As gesoute vlieënier het hy selfs in 2010 ’n vliegtuigongeluk oorleef.

9. Sy gunsteling-rol is Indiana Jones. En anders as sy karakter is hy nié bang vir slange nie.

10. Harrison is berug vir sy privaatheid. Hy sal nie sommer ’n onderhoud aan die media toestaan nie.

Lees nou