Het jy gehoor?

Nog ‘n Oscar vir SA?

Die AFDA-filmskool in Kaapstad spog met ‘n benoeming vir vanjaar se Student Academy Awards in die kategorie beste buitelandse studente-film. Nogal ná die Suid-Afrikaners (‘n Johannesburg-span van hierdie einste filmskool) skoonskip gemaak het in 2006.

Vanjaar se honneursklas-fliek, Wamkelekile (Welkom terug), vertel die roerende verhaal van ‘n seun se stryd met sy pa se geestesgesondheid.

Die filmspan moes omtrent die Kaapse winter trotseer toe hulle hierdie 24-minuut-film in slegs 10 dae moes skiet! En dit was nie al nie … die dood van ‘n familielid, onverwagse vloede en ‘n hardkoppige skilpad was maar ‘n paar van die uitdagings.

Skrywer en regisseur, Dorotea Vucic, is uit haar vel oor die benoeming. Sy is in Kroasië aan ‘t werk op die stel van ‘n nuwe film. Dalk nóg ‘n Oscar, wie weet …?

* Die 36 ste Student Academy Awards vind plaas op 13 Junie by die Samuel Goldwyn Teater in Los Angeles.