Debra Meyer FOTO: verskaf

Het jy gehoor?

Nuus se Debra Meyer kom terug kassie toe!

Jy sal doktor Debra Meyer onthou uit haar tyd as weervoorspeller by SABC2 se Afrikaanse nuusuitsending. Nou keer Debra terug na die kassie in ’n nuwe reeks op kykNET.

In dié reeks, Debra deel, gaan sy verskeie aktuele kwessies met ’n wetenskaplike oorsprong bespreek en ontleed. Leefstylsiektes, biobrandstof, tegnologiese uitvinders en geneties gemanipuleerde kos is van die kwessies waarna Debra gaan kyk.

En dié weervoorspeller is net die persoon om so ’n program aan te bied. Sy is immers hoof van die departement biochemie aan die Universiteit van Pretoria en word as ’n wêreldleier in dié veld beskou. Debra, wat ’n vigsaktivis is, verkies om die meeste van haar navorsing oor MIV/vigs te doen en is betrokke by verskeie inisiatiewe om vroue- en jeugorganisasies asook townships oor dié siekte in te lig.

Sy ken ook van taal en kultuur en was al betrokke by Aardklop en KKNK.

Debra deel skop vanaand om 20:30 op kykNET af met ’n program oor leefstylsiektes, wat in baie gevalle dodelik kan wees.