Katie Couric en John Molner op hul troudag FOTO: Twitter (@katiecouric)

Het jy gehoor?

Nuusleser Katie Couric trou weer PLUS kies só trourokke vir jou tweede huwelik

Die gewilde Amerikaanse nuusleser Katie Couric (57) en finansier John Molner (51) het die afgelope naweek tydens ’n intieme seremonie in East Hampton, New York getrou.

Die paartjie is al vir die afgelope twee jaar saam en het in Katie se agterplaas voor 50 van hul naaste familie en vriende getrou, berig Daily Mail.

Die joernalis het haar goeie nuus Sondag op Twitter bekend gemaak. “Só opgewonde om my debuut as Mevrou John Molner te maak!” het sy getwiet.

Katie se eerste man, prokureur Jay Monahan, is in 1998 oorlede. Hulle het twee dogters, Ellie (22) en Carrie (18).

“Ek is eintlik verbaas dat dít al byna 15 jaar is en ek het nog nie weer getrou nie,” het Katie kort ná haar verlowing verlede jaar in September aan People gesê.

Ek dink die lewe is meer pret wanneer jy iemand in jou lewe het

– Katie oor haar tweede huwelik

Dít is ook John se tweede huwelik. Hy en sy eerste vrou, Jane, is geskei. Hulle het twee kinders, Allie en Henry.

Katie en John se kinders het elkeen die geleentheid gehad om ’n spesiale lesing te doen. Die bruid se jongste dogter het ook vir die paartjie gesing.

Katie was ’n beeldskone bruid in ’n ivoorkleurige halter-rok van Chantilly-kant en fyn krale met borduurwerk. Carmen Marc Valvo het dié skepping, wat Katie net ’n week voor haar groot dag uitgekies het, ontwerp. Klik hier vir nóg foto’s van Katie se rok.

“Ek hoop nie dis slegte geluk nie, maar ek het dit selfs voor John aangepas,” het sy aan People oor die rok gesê. Sy het ook vertel dat John uiteindelik baie betrokke was by die trouplanne. “Ek het hom John Groomzilla genoem,” het sy spottend vertel.

Die pasgetroudes gaan eers in Desember wittebrood hou. Hulle sal vermoedelik Nieu-Seeland toe gaan, aangesien Katie dié land nog altyd wou sien.

Bronne: Daily Mail, People, E! Online, Huffington Post en Us Magazine

Hoe om die perfekte rok vir jou tweede huwelik te kies

Eers nadat koningin Victoria van Brittanje in 1840 ’n wit trourok gedra het, het dit gebruik geword vir bruide om in dié kleur te trou, skryf I Do Take Two.com. Katie se roomkleurige rok wys egter dat trourokke in wit skakerings nie noodwendig net vir vroue is wat vir die eerste keer trou nie. Oorweeg dié wenke as jy jou droomrok vir jou tweede huwelik soek.

  • Deesdae simboliseer wit nie noodwendig maagdelikheid of reinheid nie, maar eerder blydskap. Daarom kan enige bruid in dié kleur trou!

  • As jy nie in ’n spierwit rok wil trou nie, lyk pastelskakerings, sjampanje en ivoor ook mooi – kies die kleur wat jou op jou mooiste laat lyk!

  • Dra vir jou tweede huwelik iets wat anders lyk as jou eerste trourok – probeer die snit, kleur, lengte en selfs die materiaal anders kies as jou eerste troue.

  • Volgens etiket-kenners kan bruide wat die tweede keer trou die sluier en ’n lang sleep vermy.

  • Vervang jou sluier met ’n fyn kroon, mooi haarknippies, ’n haarband of selfs ’n blommekrans in jou hare. Kyk net na dié mooi haarversierings.

  • Onthou om ’n rok te kies wat by die tema en styl van jou groot dag pas.

Bronne: I Do Take Two.com, The Knot, Bridal Guide en Huffington Post