September_nuwe-show-1
Het jy gehoor?

Nuut op VIA in September: Nuwe huise, nuwe hare en nuwe kosse

September is ’n opwindende maand op VIA (DStv-kanaal 147) met agt splinternuwe TV-programme wat op DStv se eerste Afrikaanse leefstylkanaal begin. Dié maand word VIA-kykers bederf met ’n verskeidenheid kykgenot – van trots Suid-Afrikaanse kos tot spoggerige nuwe vertrekke.

Die kosprogram Flori en Koelsoem se kosse begin Woensdag 7 September op VIA. Op dié program kuier ons by twee tannies van Bonteheuwel, Flori Schrikker en Koelsoem Kamalie, om ’n paar van hul Kaapse kombuisgeheime te ontdek. Hulle het bekendheid verwerf vir hul gereelde verskynings op RSG se Tjailatyd met Amore Bekker, asook hul kookboek, Kook saam Kaaps, wat vanjaar soos soetkoek verkoop het. En nou is Flori en Koelsoem elke Woensdag om 18:00 op VIA te sien.

Troukoors loop steeds hoog op VIA met Troutrane, ’n werklikheidsprogram waar getroude paartjies hulle op die rusbank tuismaak om hul trouvideo te kyk en die lekker en hartseer van hul troudag te herleef. Die program begin op 9 September en ’n nuwe episode word elke Vrydag om 20:30 uitgesaai.

’n Ster vir my bed begin op 12 September en op dié stylprogram besoek Idees-tydskrif se talentvolle nuutmaak-span gastehuise. Hulle help die eienaars om dit op te kikker en hopelik ’n ekstra paar sterre by die toerismekantoor los te slaan. ’n Nuwe episode word elke Maandag om 17:00 uitgesaai.

Op Wie weet beter? sit ses vroue koppe bymekaar oor hartsake en lewenskwessies. Die kinkel? Drie van hulle is bo 50 en drie van hulle is jonger as 30. Die aanbieder Jaco Spies speel skeidsregter om te sien wie werklik beter weet: die tannies of die tinktinkies? Hul soms uiteenlopende insigte is vanaf 14 September op VIA te sien en ’n nuwe episode word elke Woensdag om 17:30 uitgesaai.

Die geliefde Elma Postma reis na plase oor die hele Suid-Afrika vir Plaaskombuis. Sy sit aan by die kombuistafels waar van die land se beste boerekos gemaak word. Sy ontmoet die gesinne en verken die stories agter die geregte. Plaaskombuis begin op 14 September en ’n nuwe episode word elke Woensdag om 18:30 uitgesaai.

Op 15 September kry VIA ’n behoorlike styl-inspuiting met Die hare waai. Op dié program is die haarstilis Terence Jansen van Vuuren (ook bekend vir sy rol as aanbieder op VIA se Familiefoto) op soek na ’n nuwe vakleerling vir sy spogsalon. Deelnemers moet ’n reeks haar-uitdagings voltooi en ná elke episode word die agterosse huis toe gestuur. ’n Nuwe episode word elke Donderdag om 17:30 uitgesaai.

My plek of joune? is ’n huismooimaakprogram waar ’n nutsman en ’n stilis woonstelmaats help om hul stylverskille op te los. Die val van ’n muntstuk sal bepaal watter een van die huismaats hul styl-sê mag sê en ons regrukspan gaan bystaan. Die program begin op 16 September en ’n nuwe episode word elke Vrydag om 17:30 uitgesaai.

Bertha le Roux en Pulane Sekepe pak ’n dramatiese leefstylverandering aan op die werklikheidsprogram Nou of nooit. Bertha wil leer baldans en Pulane wil tienkamp bemeester. Skakel vanaf 27 September in om te sien hoe dié sterre oor 13 episodes hul lewe omkeer en uiteindelik hul groot drome verwesenlik. Nou of nooit begin op 27 September en ’n nuwe episode wys elke Dinsdag om 21:00.

September_nuwe-show-2

Programroosters vir VIA is in Afrikaanse koerante, Huisgenoot, tvplus en op viatv.co.za en dstv.com beskikbaar. Volg VIA TV op Facebook en @viatv op Twitter om op hoogte te bly met al die nuutste ontwikkelinge.

VIA is gemik op Afrikaanse vroue en hul gesinne en wentel om kos, styl en verhoudings. Met drie ure vars inhoud elke weeksaand word sy getrakteer op programme wat haar inspireer en laat lekkerkry.

Lees nou

Ouers is spyt oor hul kinders se name

5 mites oor vullers ontmasker

Kyk hoe lyk die wêreld se mooiste kind nou!