Het jy gehoor?

Angelique se ‘nuwe begin’ ná egskeiding-nuus

Aktrise en TV-aanbieder Angelique Gerber het pas van rooikop na blondine verander! Sy het dit gedoen vir ’n rol in ’n fliek, maar sê ook aan SARIE.com dis ’n “nuwe begin”.

“Ek het gedink met my omstandighede het ek nodig om oor te begin en iets anders te probeer,” vertel Angelique, wat vroeër vanjaar haar egskeiding van Ben-G aangekondig het.

Boonop moet sy blond wees vir haar rol in die nuwe rolprent Dawid. Sy sê dit is al die tweede keer wat sy haar hare ligter maak en daar is nóg ’n paar sessies onder die droër wat vir haar voorlê, voordat haar hare die regte skakering sal wees.

Die voormalige Boer soek ’n vrou-aanbieder het vroeër die jaar haar rooi hare se punte blond gemaak vir ’n ombré-voorkoms.

Watter ander haarstyle is saam met die ombré een van die seisoen se gunstelinge?

“Ek moet nog gewoond raak daaraan, maar ek dink dis ’n goeie verandering,” sê Angelique, wat nog nooit vantevore ’n blondine was nie. “Ek het nog altyd gewonder hoe dit sal wees om blonde hare te hê. Nou weet ek!”

“Ek het gewoonlik baie ‘blonde oomblikke’ – nou hoef ek nie meer verskonings te maak daarvoor nie,” grap sy.

Angelique groet Boer soek ’n vrou

Angelique het dié oulike video op haar Instagram-blad gedeel om haar nuwe haarkleur met haar aanhangers te deel. Haar haarkapper, Wendy Jordaan, van Brooklyn in Pretoria is ook in die video.

WAT DINK JY? PAS DIE BLONDE HARE BY ANGELIQUE? Los kommentaar onder dié artikel of op ons Facebook- of Twitter-blad.