Het jy gehoor?

Nuwe blog! Milan Murray oor haar grootste uitdaging

Dit het so begin:
Anette Grobler was verlede jaar een van ons gaste op Ontbytsake. Sys die gesoute avonturier wat o.a die Skedelkus gestap het. Stoksielaleen. Vir 28 dae. Sonder ’n mens in sig. Ek was so beïndruk met dié sterk vrou. Ek en sy het vir ’n rukkie lank ná die program nog heen en weer ge-e-pos en ek het besef ons is van dieselfde stoffasie gemaak. Sy skryf in een brief:
“It is important to measure yourself at least once, to find yourself at least once in the heart of the most ancient human condition”.

My behoefte om myself uit te daag was groot. Toe ek dus hoor van die Otter African Trail Run, het my hart JA gese, alhoewel my gesonde verstand NEE geskreeu het. Hierdie 43 km-wedloop het ’n vertikale klim van 2 700 m en die afsnytyd is 11 uur. Dis dieselfde mergelende staproete wat gewoonlik 5 dae neem om te voltooi. Die wat dit reeds gehardloop het noem dit The Grail of Trail. Erger as die Ironman. En erger as die Comrades.

Milan Murray
Foto: Milan se oefensessie hierdie week. Donderdae ‘jaag ons die son’. Ek en Schalk (my man) hardloop langs die Blaauwberg-promenade, letterlik van 17h00 tot die son sak.

Ek is nou al 8 maande aan die oefen. Sommige dae dink ek: Wat het my besiel?! Maar die meeste van die tyd trek ek my tekkies aan my voete met ’n gefluisterde belofte aan myself: Ek sal jou wys!

Die Otter vind in Oktober plaas. Kankermaand. Dis ook my verjaardagmaand, en die feit dat my ma nou uiteindelik kankervry is, maak die poging soveel meer betekenisvol. Die besluit om hierdie wedloop te hardloop ten bate van ’n liefdadigheidsorganisasie, was ’n maklike een.

Ek is ’n ambassadeur van die Tygerberg-Kinderhospitaal en dis vir my ’n heerlike voorreg om die projek saam met hulle aan te pak.

Daar is ’n hele paar vrywilligers en vriende wat my poging ondersteun, maar die uitdaging bly myne. Die een wat op dié winterkoue oggende haarself uit die bed moet sleep, is ek. Die bobene en kuite wat brand, is myne. Die swaarkry, die oortuigingswerk, die daaglikse motivering kom iewers uit MY middel uit. En soos ek week na week en tree vir tree deur die stryd beur, leer ek myself ken.

Ek is nogal moedswillig, weet jy? Hoe meer ek oefen, hoe meer regop word my ruggraat. Hoe verder ek vorder, hoe kleiner word die stemmetjie dat ek nie goed genoeg is nie. En hoe nader die wedloopdag kom, hoe breër is die glimlag as ek vir myself in die spieël se: Ek sal jou wys!

“Net teen jouself, Milan. Net teen jouself” is die mantra wat my man, Schalk van der Merwe, keer op keer herhaal as hy in ’n oefenwedloop langs my hardloop. Ek is so bly dat hy op 15 Oktober daar gaan wees. Vir 11 moordende ure as my vriend en my getuie.

Milan en haar man, Schalk van der Merwe

Milan en haar man, Schalk

Ek is ’n gewone mens met gewone issues. My dagboek is net so vol soos joune en my medikasielysie net so lank. Die chaos in my huis en in my kop is dieselfde chaos as joune. En soos jy, weier ek om aan die einde van my lewe te staan en vra:” Was dit nou dit?”

Loop gerus saam met my een van die mees opwindende paadjies van my lewe. Vir die volgende paar weke sal ek jou op hoogte hou van my oppe en affe, en jy kan ook gaan loer na my foto’s en inskrywings op die Facebook-blad ‘Milan vs The Otter’.

Groete van huis tot huis,
Milan

  • Liana van Aswegen

    Sjoe Milan! Ek bewonder jou vir dié een en sal styf duime vashou vir elke kilometer wat jy gaan aflê! Baie sterkte met jou (en Schalk se) oefenprogram! Ek wens ek was nog jonk en mobiel genoeg om myself so te kan uitdaag… !

  • Adele

    Ek is absoluut versot op jou werk en op jou as menswees! Jy is vir my ‘n great voorbeeld van hoe ‘n vrou en ma moet wees! Baie sterkte met Trail Run! Weet sommer jy gaan goed vaar daarmee. Sien ook uit om jou blog verder te lees!

  • Leilani

    Baie trots op jou – jy inspireer my, dankie. Hou so aan….

  • marileen de wet

    hoendervleis……………..

  • Elize O’Toole

    Wat ‘n voorreg is dit nie om juis in onsself daardie plek te gaan soek waar ons Grootsheid en nederigheid gelykertyd ervaar nie Milan! Soos vir jou was (en is) my sussie Anette Grobler ook vir my die grootste inspirasie! Wat ‘n voorreg is dit nie om haar as my sussie te kan he nie en my wens vir jou is dat ook jy sal kan terugkyk na hierdie nuutste reis van jou met verwondering en dankbaarheid!

  • Anette Grobler

    Ek bewonder jou vir die durf, deursettingsvermoe en dissipline te midde van jou besige skedule elke dag. Dis n lewens-veranderende projek wat jy aangepak, vir jou en die kinders wat uiteindelik gaan baat vind by die fondse wat jy insamel. Ons klomp Kaapenaars hou jou vordering met GROOT belangstelling dop en sien reeds uit na jou volgende avontuur Milan. Ek kan jou amper belowe dat hierdie uitdaging net een is van n hele paar wat sal volg in die afsienbare toekoms. Run Forest run!!
    Kaapse groete!

  • Nicolene Badenhorst

    Wow, sterkte! Jy is vir my ook ‘n aansporing veral nou so in die winter wanneer oefen nie die toppunt van my prioriteitslys is nie – maar baaaie nodig is.

  • Sandra Prinsloo

    You go girl dis n wonderlikeding wat jy aanpak nie net vir die kinders nie maar ook as deelv jou persoonllike, innerlike reis. Dit gaan grootshifts in jou teweegbring. Liefde en sterkte soos altyd.sandra

  • Grace Shapiro

    Wow Milan, amazing. Wat ‘n inspirasie. Hou so aan, ek is seker jou familie is baie trots op jou. Baie sterkte………

  • Marion Murray-Smit

    Milan, ek dink jy is ‘n winner! Laat weet watter dag die loop is.
    Ek sal jou vanaf die koue Nederland heeldag in gedagte hou.
    Baie trots op jou, jammer ek kan nie daar wees nie.

  • Roger

    na schf6n, geht es endlich mal los. aber eine klenie beschwerde mf6chte ich schon loswerden: warum sieht man auf keinem der fotos die werdende mutter in nahaufnahme???der rene9