Het jy gehoor?

Nuwe grimeerdirekteur Tom Pecheux

Die skoonheidshuis Estée Lauder het pas die wêreldbekende grimeerkunstenaar Tom Pecheux as hul kreatiewe grimeerdirekteur aangewys.

Tom is ‘n gunsteling onder die wêreld se top-fotograwe, -stiliste en -moderedakteurs vir sy gesofistikeerde siening van Franse glans. Met sy nuwe aanstelling sal hy nou saam met Estée Lauder werk om dié skoonheidshuis se kreatiewe rigting te bepaal. Hy sal ook sy filosofie rondom moderne skoonheid met verbruikers en die media deel.

Tom het al saam met top-fotograwe gewerk, soos Mario Testino, Patrick Demarchelier, Craig McDean en Peter Lindbergh. Hy het ook al grimering vir van die bekendste modeontwerpers tydens modeweke gedoen, waaronder Ralph Lauren, Givenchy, Yves Saint Laurent en Jean-Paul Gaultier.

Sy handewerk word gereeld in modetydskrifte soos Vogue, V magazine en Vanity Fair gesien.

Tom se loopbaan het 30 jaar gelede begin toe hy die bekende grimeerkunstenaar Linda Cantello se assistent was. In die vroeë 90’s het sy kreatiewe vennootskappe met die fotograaf Mario Testino en Carine Roitfeld (redakteur van Franse Vogue) hom gehelp om ‘n leier op die grimeerfront te word.

 Sy mantra is eenvoudig: Hy glo grimering moet ‘n vrou se gesig vlei, eerder as verbloem of versier.

 Vir hom is ‘n verbintenis met Estée Lauder ‘n natuurlike uitvloeisel van wie hy is: “Ons is albei toegewy daaraan om vroue mooi te laat lyk en voel,” sê hy.

 ■ Wees op die uitkyk vir Tom Pecheux se eerste grimeerreeks wat volgende jaar verskyn.