Het jy gehoor?

Nuwe Marilyn Monroe foto’s vrygestel

Dié eerlike blik op dié enigmatiese aktrise is op die stel van die 1961-fliek, The Misfits, deur fotojoernalis, Eve Arnold, geneem. Monroe en Arnold het groot vriende geword en sy was ook die enigste vroulike fotograaf wat dié ster gereeld afgeneem het.

Die 8 foto’s wys die andersins baie smeulende aktrise in ‘n eenvoudige wit rok met haar hare in twee vlegsels. Volgens www.instyle.com was Monroe baie gelukkig met dié informele, vars foto’s wat soveel anders was as die gestileerde Hollywood-portrette van haar. Dié fotoversameling word nou uitgestal by die Westover-galery in Dorset en 495 getekende afdrukke is vanaf sowat R4 000 tot R7 000 te koop.

The Misfits was die laaste silwerdoekverskyning vir beide Monroe en haar medester, Clark Gable. Haar eksman, die dramaturg Arthur Miller, was die skrywer van dié fliek en John Huston was die regisseur. Sy het ‘n jaar ná die voltooiing van dié fliek selfmoord gepleeg.

Daar word juis nou beplan aan ‘n fliek oor die laaste 2 jaar van haar moeilike lewe en hoewel sy dit pas as ‘n leuen afgemaak het, loop die gerugte steeds sterk dat Angelina Jolie die hoofrol gaan speel. George Clooney het ook ontken dat hy Frank Sinatra gaan speel.

Marilyn Monroe

 

  • Marthilda Fourie

    Pragtig. Verleidelik en sy mag maar die ikoon genoem word.

  • Yvonne

    Sy is waarlik pragtig en fasinerend!