FOTO: Gallo Images / Getty Images

FOTO: Gallo Images / Getty Images

Het jy gehoor?

Dié sterre is verloof

Kupido het dié Valentynsdag van Suid-Afrika tot in Amerika hard gewerk met drie bekendes wat die afgelope naweek verloof geraak het.

Die gospel-sanger Retief Burger het vanoggend op Twitter aangekondig dat hy en Isabel Mischke verloof geraak het.

“Die liefde van my lewe het ja gesê,” het hy op dié sosiale netwerk geskryf en sommer dadelik sy Twitter-profiel verander om sy nuwe status as verloofde man met die wêreld te deel.

Adriaan de Beer van die instrumentale musiekgroep DNA Strings het die afgelope naweek verloof geraak aan Danielle du Plessis. Hy het hul verlowing Saterdag op Facebook bekend gemaak.

Die ring wat DNA Strings se Adriaan de Beer vir Danielle du Plessis gegee het. FOTO: Facebook

Die ring wat DNA Strings se Adriaan de Beer vir Danielle du Plessis gegee het. FOTO: Facebook

Op Facebook lyk dit of hy haar die groot vraag by ’n kersligete onder die sterre gevra het.

Adriaan de Beer en Danielle du Plessis se kersligete. FOTO: Facebook

Adriaan de Beer en Danielle du Plessis se kersligete. FOTO: Facebook

Die sangeres Christina Aguilera se Valentynsdag was vanjaar ook onvergeetlik – haar kêrel van twee jaar het die ja-woord gevra.

Christina het ’n foto van haar en Matthew Rutler se hande op Twitter gedeel waarop ’n groot blink steen aan haar ringvinger skitter. “Hy het gevra en ek het gesê…” het sy daarby getwiet.

Volgens Fox News het die paartjie in 2010 op die stel van die rolprent Burlesque ontmoet, waar Matthew as ’n film-assistent gewerk het. Op die foto lyk dit asof die paartjie die naweek by ’n tropiese bestemming deurgebring het, met palmbome in branders op die strand in die agtergrond.

Dit sal die tweede huwelik wees van Christina, wat ’n beoordelaar op die realiteitsprogram The Voice is. Haar en die musiekvervaardiger Jordan Bratman se egskeiding is drie jaar gelede ook op Valentynsdag gefinaliseer. Hulle het ’n sesjarige seun, Max.