FOTO: Instagram @weightlessfairya>

Het jy gehoor?

NUWE STUDIE: Laekoolhidraat-dieet is nie wonderkuur

In ’n nuwe studie deur die Universteit Stellenbosch is bevind dat laekoolhidraat-diëte nie noodwendig meer effektief vir gewigsverlies is as ’n gebalanseerde dieet nie.

Ja, jy mag maar weer enigiets eet wat onder die grond groei – ook aartappels, beweer dié nuwe studie wat in die aanlyn-joernaal PLOS ONE gepubliseer is. Die studie het 19 kliniese proewe se gevolgtrekkings gebruik wat gefokus het op gewigsverlies en die risikofaktore vir hartsiektes soos bloedcholesterolvlakke. Dié studies het altesaam 3 209 oorgewig en vetsugtige deelnemers ingesluit en sommige van hulle was diabete.

Wat het die studie bevind?

Ná 3 – 6 maande het mense wat dieselfde hoeveelheid kilojoules ingeneem het – hetsy op die laekoolhidraat-dieet of ’n gebalanseerde dieet – min of meer dieselfde hoeveelheid gewig verloor.

En ná 1 – 2 jaar het een dieet ook nie beter resultate as die ander gelewer nie, ongeag of die deelnemers diabete was of nie, sê die hoofnavorser, dr. Celeste Naudé van die sentrum vir bewysgebaseerde gesondheid aan die US.

Laekoolhidraat-diëte

Laekoolhidraat-diëte beperk die inname van kilojoules deur styselryke kosse (soos hawermout, brood, rys, aartappels, bone en lensies) uit te sny, sekere groente te beperk (soos botterskorsie en wortels), asook die meeste vrugte. Die diëte beveel aan dat jy vet eet – veral vet afkomstig van dierprodukte – en soveel proteïene soos jy wil.

Wanneer ekstreme vorme van dié dieet gevolg word, kan tot 80% van die kilojoule-inname van vet alleenlik kom. Hoë vet- en proteïen-innames verminder die honger gevoel, en dít maak dat jy minder eet en dus minder kilojoules inneem.

Gebalanseerde dieet

’n Gebalanseerde dieet beperk kilojoule-inname deur gesonde kos te kies en kleiner porsies te eet – terwyl die aanbevole hoeveelheid koolhidrate, proteïene en vet ingeneem word.

’n Gebalanseerde dieet bevat baie vars groente en vrugte, en onverfynde koolhidrate (soos gort, bruin rys, volgrane, patats en bone). Dit beveel ook aan dat jy groente- en vis- vette en olies inneem, eerder as diervette.  “Maer” proteïene (soos maer vleis, vis en seekos, pluimvee en laervet- suiwelprodukte) word ook aanbeveel.

Baie studies wat oor lang periodes uitgevoer is, het al bevind dat dié dieet die aanbevole voedingswaarde insluit en die risiko van chroniese leefstylsiektes verlaag.

Wat is die verskil?

“Gewigsverlies kom voor, ongeag of die dieet laekoolhidraat of gebalanseerd is. Binne ’n opvolgtydperk van tot en met twee jaar is daar ook min of geen verskil tussen die diëte in terme van gewigsverlies en die risikofaktore vir hartsiektes en suikersiekte nie,” het prof Jimmy Volmink, mede-outeur en dekaan van die fakulteit geneeskunde en gesondheidswetenskappe gesê.

“Hierdie studie bewys dis ’n wanpersepsie dat laekoolhidraat-diëte meer doeltreffend vir gewigsverlies is,” meen dr. Vash Mungal-Singh, uitvoerende hoof van die Hart- en Beroertestigting Suid-Afrika. “Dit is belangrik om daarop te let dat hartsiektes en beroertes ontwikkel ná baie jare van blootstelling aan ongesonde diëte en ander risikofaktore soos rook, vetsug, oormatige alkoholinname en te min oefening.”

“Die langste opvolgtydperk van hierdie studies is twee jaar, wat te kort is om voldoende inligting oor die langtermynrisiko’s verbonde laekoolhidraat-diëte te verskaf,” sê dr. Mungal-Singh in die mediaverklaring.

  • Madelene Nel

    Sjoe, dit is so hartseer as mense net lees wat hulle wil lees. Nêrens word daar enigsins gesinspeel dat ‘n Lae-koolhidraat dieët Hoë-proteine insluit nie.

    Sekerlik word navorsing deeglik gedoen deur Joernaliste voordat artikels geplubiseer word…?