koert_adler_marius_weyers
Het jy gehoor?

Nuwe TV-reeks, Vloeksteen, CSI van die Weskus

SARIE was op 27 Maart by die bekendstelling van Vloeksteen. Die reeks is geïnspireer deur die ware ondervindings van Ludwig Oberholzer (‘n boer van Ficksburg wat aan die tweede reeks van kykNET se werklikheidsreeks Boer soek ‘n vrou deelgeneem het), wat as geheime agent deel was van ‘Operasie Steenbras’.

Tydens dié hoogs geheime sending is voorkom dat sowat 1 177 ongeslypte diamante met ‘n straatwaarde van ongeveer R1 miljoen op die swartmark verhandel is.

Altesame 53 verdagtes is op aanklag van die onwettige handel in diamante in hegtenis geneem.

Die storie handel oor die lewens van ‘n sleutelgroep hoogs opgeleide geheime agente en hul hanteerders verbonde aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens se Eenheid vir Georganiseerde Misdaad. ‘n Groot deel van die reeks speel af in een van dié eenheid se takke op ‘n fiktiewe kusdorp êrens langs die Diamantkus van Suid-Afrika. Skote vir die reeks is op verskeie dorpe aan die kus geskiet vanaf Alexanderbaai tot in die Strand.

Die eerste seisoen bestaan uit 13 episodes wat elk ‘n uur lank is. Dis geskryf deur Hein Eksteen.

Ontmoet die karakters

Koert Adler (Marius Weyers) is ‘n welaf delwer, gemeenskap-steunpilaar en -leier. ‘n Gesiene burger, gesinsman, eggenoot en vader. Hy is ook die man wat Spook nader om die polisie van finansiering te voorsien vir ‘n nuwe agent. Koert is eintlik die “Godfather” van die plaaslike smokkelwêreld, maar is nie deur en deur ‘n skelm en ‘n smokkelaar nie.

Ayla Adler (Trudy Gunther) Ayla Adler (Trudy Gunther) het aanvanklik niks met die familie se smokkelary te doen nie. Sy het egter ‘n donker geheim of twee wat sy tot elke prys probeer beskerm.
Bling (Oscar Peterson) Bling (Oscar Peterson) is Jantjie Links se broer, en op die oog af is hy ‘n lieftallige en eerlike man – maar alles is nie altyd soos dit lyk nie. Bling is een van die Adlers se handlangers, en onder die lieftalligheid skuil ‘n koelbloedigheid wat glad nie met die blote oog bespeur kan word nie.
Elle Fourie (Erica Wessels) Elle Fourie (Erica Wessels) is Spook se assistent en mede-hanteerder van die geheime agente. Elle is veelsydig, pligsgetrou, doelgerig – en heimlik verlief op Spook, maar verdoesel haar emosies met die vaardigheid van ‘n geheime agent. Die grootste stres in Elle se lewe is om haar werk en emosionele lewe sorgvuldig van mekaar geskei te hou.
Jantjie Links (Marvin-Lee Beukes) Jantjie Links (Marvin-Lee Beukes) werk as ontvangspersoon by Georganiseerde Misdaad se tak. Hy is ‘n saggeaarde en beleefde jong man. Vir Jantjie is sy werk as polisieman en sy sin vir reg en geregtigheid belangriker as enigiets anders.
Ludwig Swart (Neels van Jaarsveld)

Ludwig Swart/Donny Basson (Neels van Jaarsveld)

Ludwig is ‘n los kanon wat maar net nie by die reëls wil bly nie. In vergelyking met die res van die geheime agente is hy maar nog ‘n groentjie, maar hy maak hy op daarvoor met sy durf en gretigheid.  

Donny is ‘n rykmanskind wat sy geld in die Kaap verkwis en sy tannie, Ann-Marie, gaan hom help om sy lewe reg te ruk op die klein kusdorpie waarheen sy hom nooi.

Spook de Koning (André Jacobs) Spook (André Jacobs) is die hanteerder verantwoordelik vir die geheime agente. Soos sy naam aandui, is Spook op die oog af iemand wat byna nie bestaan nie, maar onder daardie dekmantel skuil doelgerigtheid, staalhardheid en koelbloedigheid. Gewoonlik is ‘n hanteerder en sy mede-hanteerder slegs vir een agent op ‘n slag verantwoordelik, maar begrotingsbeperkings en die vloed van smokkelaars dwing hom om al drie die agente te hanteer. Spook lewe onder geweldige stres, en sy aandag is noodwendig verdeel. Hy is hardkoppig en in beheer – meeste van die tyd.
Sandra Cilliers (Dorette Potgieter) Sandra Cilliers (Dorette Potgieter) is ‘n ‘algemene agent’ wat ook as geheime agent werk. Sy is ‘n geskeide vrou, en ‘n ervare skubaduiker. Sandra kan met minimale vermomming die meeste mense om die bos lei, en is gereeld besig met haar eie ondersoeke wat niks met die agentskap uit te waai het nie. Sandra is ‘n diamantduiker, wat joviaal voorkom. Sy is ‘n uitstekende aktrise, en haar skoonheid moet dikwels ingespan word vir infiltrasie onder die meestal manlike smokkelaars.
Zander Loots/Kallie Gagiano (Albert Maritz)

Zander Loots/Kallie Gagiano (Albert Maritz)

Zander het alles in sy lewe verloor omdat hy geen ander lewe ken, of wil ken, as dié van ‘n geheime agent nie. Zander is ‘n manne-man: hard, sterk, troebel, al te veel kere deur die spreekwoordelike meul, sinies, en een wat nie maklik oorgee nie.  

Kallie is ‘n uitgeboerde Afrikaner wat spreekwoordelik op die verlate Namakwalandse kus uitgespoel het en nou ‘n bestaan maak uit die bymekaarmaak van skrootmetaal en enigiets anders waarop hy sy hande kan lê. Zander se teikengroep is die “klein smokkelaars” – in ‘n poging om by die groot kanonne uit te kom.

  • Teresa

    Met sulke" ROOM van die OES" mis ek dit vir niks! WOW
    UITSTEKENDE BELOWENDE AKTEURS!!!

  • Annatjie

    Ek sien nogal uit na die program. Julle sal maar die eerste episode by my moet kom kyk (honde kinders ingesluit, miskien maar vir Minkie by die huis los) :o )

    Bye, veilig huis toe ry julle !

  • Dorette Potgieter

    Ons is sooooooo gelukkig! Dankie aan een en elk wat Vloeksteen kyk en so ons ondersteun!

  • Andre

    Stunning show, and stunning showcase of local acting, writing and directing talent.

  • Daleen Pienaar

    Vloeksteen was ‘n uitstekende drama met uitstekende akteurs wat regtig hul karakters baie goed uitbeeld. Ons is dol daaroor.. Waaroor almal wonder is egter die volgende: WANNEER BEGIN DIE TWEEDE SEISOEN DAN????