Shaleen Surtie-Richards as Jasmien Adams in Rondomskrik FOTO: Hans van der Veen

Het jy gehoor?

Nuwe verhoogstuk ‘bring hoop’

Die nuwe verhoogstuk Rondomskrik, wat die afgelope week vir die eerste keer by die Absa KKNK opgevoer is, het gehore aan die dink én praat gekry.

Die vertrekpunt van dié stuk is die verkragting van en moord op Anene Booysen van Bredasdorp in die Wes-Kaap. Met bekendes soos Shaleen Surtie-Richards en Crystal-Donna Roberts, die Fiësta-bekroonde Lee-Ann van Rooi, asook nuweling Richard September. Dié toneelstuk dra egter nie ’n boodskap van armoede en ellende oor nie, maar een van hoop.

Rondomskrik vertel die verhaal van die tienermeisie Antjie Fortuin (Crystal-Donna) se lewe en hoe die onderwyseres Jasmien Adams (Shaleen) ’n verskil in haar lewe probeer maak. Hennie van Greunen, regisseur en mede-vervaardiger van die produksie, wil sy gehoor weer hoop gee met die stuk.

“Dis soos ’n liefdesbrief aan goeie onderwysers,” som Hennie die toneel op.

“Ons hoor elke dag van kindermoord en verkragtings, maar trek net ons skouers op en gaan aan. Rondomskrik help ons om hoop te vind.

“En dit is deel van ‘n mens se werk in die teater – om vir jou gehoor te wys daar ís nog hoop,” verduidelik hy.

Die gehore se ontvangs van die produksie was so goed, dat Hennie nou ook nog planne gemaak het.

Die produksie gaan nie net na al die ander kunstefeeste toe gaan nie, maar ook in Pretoria en Kaapstad opgevoer word. Boonop beplan hy ook om dit na die Namibiese Woordfees te neem.

“Die ontvangs was so goed, ek dink dit gaan nog lank loop en dis goed, ek wil hê mense moet dit kyk,” sê hy.

“Jy kan die televisie afsit en die koerant toemaak, maar as jy dit op die verhoog sien, bly die storie jou by, en dis belangrik dat mense moet sien hoe die wêreld lyk en hoor wat als aangaan,” voeg Shaleen by.

Foto: Phyllis Green

Foto: Phyllis Green

Die produksiespan wil Rondomskrik ook baie graag na skole neem. Dié vooruitsigte maak Shaleen, wat oorspronklik ’n kleuterskoolonderwyseres was, baie opgewonde.

“Ek sal als los om dit skole toe te vat, want dis so ‘n belangrike boodskap om oor te dra,” sê sy. “Dis belangrik dat mense weet as jy een kind kan red, kan jy ’n hele nasie red.”

*Rondomskrik is vanjaar vir ses Kanna-toekennings benoem! Hier is al die ander benoemings by die KKNK.

Beste teater-aanbieding

  • Dogma
  • Rondomskrik
  • Samsa-masjien

Beste komedie

  • Die lelike eend
  • The Epicene Butcher
  • Waterpas

Beste akteur

  • Albert Pretorius – Dogma
  • Gerben Kampen – Samsa-masjien
  • Richard September – Rondomskrik

Beste aktrise

  • Anna-Mart van der Merwe – macbeth.slapeloos
  • Antoinette Kellerman – Samsa-masjien
  • Rolanda Marais – Dogma

Beste musiekproduksie

  • Arno en Francois
  • Finding Emo
  • Hart en see – Laurika Rauch en Elvis Blue

Beste klassieke musiekuitvoering

  • 7 dae van die Skepping
  • Homage – ’n Huldiging van Suid-Afrikaanse komponiste

Beste regie

  • Christiaan Olwagen – Dogma
  • Hennie van Greunen – Rondomskrik
  • Jaco Bouwer – Samsa-masjien

Beste debuutwerk

  • Dogma
  • Rondomskrik
  • Samsa-masjien

Slurpie Kanna vir beste opkomende kunstenaar

  • Dean-John Smith vir sy spel in Braai
  • Edwin van der Walt vir sy spel in Braai
  • Richard September vir sy spel in Rondomskrik

Herrie Kanna vir kopverskuiwende werk

  • Dogma
  • Rondomskrik
  • Samsa-masjien

Beste visuele kunsaanbieding

  • Hannelie Taute – Rubber ever after
  • Phillemon Hlungwani – Mi kondzo ya tinghwazi (In the footsteps of heroes)
  • Michael Hammond – Orania

Eervolle vermeldings

  • Eervolle vermelding vir die ensemble-spel van die akteurs in Dogma en Rondomskrik.